Liani Reynolds se Mossie kry ‘n musiekvideo!

Liani Reynolds het sedert die vrystelling van haar debuut-album, Ligsoom, in 2019 sommer baie diep in musiekliefhebbers se harte kom kruip. Nie net omdat die stories wat sy met haar musiek vertel so kosbaar is nie, maar ook omdat haar stem en styl luisteraars boei totdat die laaste noot wegsterf.

MOSSIE, die eerste enkelsnit wat sy met die publiek gedeel het, is baie goed ontvang en is ook een van dié veelsydige kunstenaar se persoonlike gunstelinge. Die liedjie, uit haar eie pen, spog met ’n meesleurende wysie wat strelend is op die oor en hoendervleismooi lirieke wat reguit met die siel praat.

MOSSIE gaan oor iemand wat op die agtergrond of op ’n ongesiende plekkie leef ter wille van iemand anders, sodat hulle die beste deel kan hê en wees wie hulle moet wees. Dit is ’n verhaal oor opoffering en naasteliefde,” som die talentvolle sangeres kortliks op. “Ek het grootgeword saam met ’n gestremde kind, Mossie. Sy was my Ouma Botha se jongste kind van vier. My ouma het besluit om haar self te versorg en het dit vir nege-en-veertig-jaar gedoen. Dit was nie altyd maklik nie en het baie opoffering geverg. Ouma Botha het ’n mossiekarossie, ’n onsienlike manteltjie, aangetrek ter wille van haar dogter. As ons voëls kyk soek ons die troupante en die arende, maar ’n mossie is mos maar ’n voëltjie wat ongesiens verbygaan. My ouma het so ’n mossie geword ter wille van haar geliefde Mossie. Die liedjie is ’n jaar nadat Mossie oorlede is geskryf en twee dae daarna is my ouma ook onverwags oorlede.”

Nou kry dié pragtige kontemporêre snit ook lewe op die skerm, in die vorm van ’n aangrypende musiekvideo wat by Leeukop in die Kaap verfilm is. Nico en Almero Welgemoed was die kreatiewe breine agter die kamera en het die mooiste natuurtonele vir dié projek vasgevang. “Ons het probeer om die mooiheid in die eenvoud weer te gee. Die veld en die klein blommetjies wat ek sommer spontaan in my hare gedruk het. Die rokkie wat ek aanhet, het my laat dink aan die rokkies wat Mossie gedra het,” verduidelik Liani.MOSSIE lê my na aan die hart en is die beste herinnering wanneer ek nodig het om te onthou watter dinge regtig belangrik is. Die ‘boek’ van die belangrike dinge in die lewe, het ek begin ‘skryf’ toe ek nog klein was en langs Mossie se rolstoel dopgehou het hoe liefde lyk.” 

Kyk die video hier: https://youtu.be/eSsCjJHOk08

MOSSIE is beskikbaar op haar album, Ligsoom, wat agt van haar eie oorspronklike Afrikaanse werke, ’n duet saam met Joshua na die Reën (Vlieërs), asook skeppings deur Amanda Strydom (Pelgrimsgebed) en Bittereinder se Jaco van der Merwe (Gewoond) bevat.

Liani, ’n plaasmeisie van Piet Plessis, is nou al vir drie jaar professioneel doenig met musiek en is na ’n lofprysingsgeleentheid deur Ronel Brink aangemoedig om haar musiektalent te ontgin. So het haar paadjie met Joshua na die Reën gekruis, by wie sy dadelik aanklank gevind het en saam met wie sy nog gereeld werk. Die sangeres is ook betrokke by die Musiek Soos Grond-musiekprojek saam met hom en ander talentvolle kunstenaars.

MOSSIE se musiekvideo kry dit nie net reg om die kern van hierdie nostalgiese enkelsnit vas te vang nie, maar verklap ook Liani Reynolds se besonderse vermoë om iets beeldskoon uit eenvoud te skep. 

Kry haar album hier:

http://www.deezer.com/track/666307642
https://itunes.apple.com/za/album/mossie/1459990850?i=1459990851

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/profile.php?id=100009379928947

Instagram: @lianireynolds

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Alishia van Deventer

Sel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

STARBURST PROMOTIONS
Jacques Perie – ADMINISTRATION

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →