As deel van die Afrikaanse
Taalmuseum en -monument se 45ste verjaarsdagvieringe vind ʼn uiters interessante
boekbekendstelling van die tweede deel van ‘Die storie van Afrikaans: Uit
Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal’ op Maandag, 9 Maart 2020, by die
monument plaas.
Tydens hierdie gratis geleentheid sal die befaamde medeskrywer van die boek,
prof Wannie Carstens, in gesprek wees met die bekende joernalis Jean
Oosthuizen. Volgens hulle is die doel om ʼn gesprek te stimuleer oor hoe
Afrikaans se volledige verlede vertel moet word en daarom wil hulle soveel moontlik
mense verwelkom om ook hul menings te lig.
Die boekereeks ‘Die storie van Afrikaans’ is die biografie van Afrikaans soos
dit op drie kontinente ontwikkel het: in Europa (waar die ontwikkeling van
Nederlands as die basisvorm van Afrikaans weergegee word), in Afrika (waar die
taal/dialek met verloop van tyd in eiesoortige sosiohistoriese omstandighede en
onder invloed van verskeie Afrikatale, waaronder Khoi en San, uiteindelik
volwaardig Afrikaans geword het) en vanuit Asië (waar die taal van die slawe
die wordende Afrikaans beïnvloed het tot die huidige vorm). In boek 1 word die
Europese verlede van Afrikaans weergegee; in boek 2 kom die Afrika-verlede van
Afrikaans aan bod.
Die boeke neem ook die vorm van ʼn soort biografie aan – dus ʼn visuele toeligting
van dit wat daartoe bygedra het om Afrikaans te vorm soos dit is. ʼn Uitgebreide
reeks illustrasies help om hierdie invalshoek uit te beeld: talle sketse en
foto’s oor bepalende gebeure wat Afrikaans en sy sprekers geraak het, skemas en
tabelle met statistiek, die aandui van kernpublikasies oor en in Afrikaans. Dit
is tot dusver nog nie in ander boeke oor Afrikaans gedoen nie.
Die boek probeer daarom om ʼn omvattende en inklusiewe geskiedenis van Afrikaans
weer te gee. In hierdie opsig is die boek anders as ander boeke oor die
geskiedenis van Afrikaans omdat dit kyk na die verlede, die hede en ook die
toekoms van die taal en hoe al die sprekers van die taal (die volle spektrum
van sprekers van Afrikaans) hierin ʼn rol gespeel en ook ʼn bydrae gelewer het.
Carstens het in 2017 aan die Noordwes-Universiteit afgetree as professor in die
Afrikaanse taalkunde. Hy dien of het gedien op verskeie liggame wat Afrikaans
raak en was die mede-oprigter van die Ernst van Heerden-versameling van
Afrikaanse poësie in België; hy was ook betrokke by die totstandkoming van
verskeie samewerkings- en uitruilooreen¬komste met universiteite en ander
instansies in die Lae Lande. Carstens is ʼn mede-ontvanger van die CJ
Langenhovenprys vir Taalwetenskap van die SA Akademie vir Wetenskap en
Kuns.
Oosthuizen was onder meer politieke korrespondent by Perskor se Afrikaanse
dagblaaie, die SAUK en later nuusredakteur van die NG Kerk se koerant
‘Kerkbode’. Hy lewer gereelde bydraes vir LitNet en ander publikasies, en is
aanbieder van die gewilde RSG-radioprogram ‘Uit ’n ander hoek’. Hy is ook die
skrywer van die boek ‘Die opkoms en ondergang van die NG Kerk’.
Die gratis geleentheid,
met verversings en versnaperings, is om 18:00 vir 18:30 by die Taalmonument op
Paarlberg, en bespreking is noodsaaklik. RSVP teen 6 Maart by Elsabé Pearce via
ontvangs@taalmuseum.co.za of 021 863 0543. Die boeke sal ook te koop
wees.
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede soos die musiekfeeste,
pieknieks en gesprekke asook die Taalmonument se 45ste verjaardagvieringe in
2020, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.