KykNet – April 2020 HOOGTEPUNTE

In April bring kykNET ’n verskeidenheid van inhoud, so haal die komberse uit en maak reg om voor die skerms in te skuif!
Met splinternuwe programme wat hul buiging sal maak en nuwe seisoene van ’n rits gewilde kykNET-programme gaan dit ’n opskop van formaat wees! President Karen is terug met die vyfde seisoen van die Republiek van Zoid Afrika! Casper de Vries gaan bietjie die lagspiere kielie. Emo Adams opsoek na die volgende vermaaklikheidsterre en ’n gewilde gospel-musikant sal sy debuut maak in ’n nuwe musiek- en kletsprogram eksklusief op kykNET & kie.
En boonop het kykNET nóg ’n kanaal verwelkom: DStv-kanaal 148 sal vanaf 9 Maart voorts bekend staan as kykNET Lekker waar reeds bestaande kykNET inhoud op die DStv Access-pakket beskikbaar sal wees.
Hierdie is ’n kykNET-opskop soos nog nooit vantevore!

Republiek van Zoid Afrika
Begin Donderdag 16 April om 20:00 op kykNET
Geselsprogram
Met Karen Zoid
Suid-Afrikaners kan hul paspoorte afstof vir ’n onvergeetlike besoek aan die Republiek Van Zoid Afrika. Die splinternuwe seisoen van kykNET se bekroonde geselsprogram, met Karen Zoid as aanbieder begin op Donderdag, 16 April op kykNET, DStv-kanaal 144.
In die vyfde seisoen vergroot President Zoid haar reeds indrukwekkende kabinet met nóg glansmense, sporthelde, legendariese sangers en ander beroemdes en berugtes. Oudergewoonte sal die musiek weer uit die boonste rakke wees!
Karen Zoid vier ook vanjaar haar 20ste jaar in die musiekbedryf en ’n groot konsert word beplan vir Julie-maand by die Sun Arena in Pretoria. https://kyknet.dstv.com/program/republiek-van-zoid-afrika

Maak my Famous 2
Talentkompetisie
Nuwe seisoen begin OP Woensdag 29 April om 20:00 op kykNET & 21:00 op kykNET & kie
Met Emo Adams as aanbieder met Tarryn Lamb en Rushney Ferguson
Met die groot suskses van die eerste seisoen van Maak my Famous is hierdie immer-gewilde talentkompetisie vanaf einde April terug op kykNET en kykNET & kie.
Emo is weer in die tweede seisoen opsoek na nuwe vermaaklikheidsterre wat hulle eie staal kan wys en ook teenoor gesoute kunstenaars hulle talent kan wys. Kunstenaars moet weekliks hul bes probeer om vir Emo en die 100 lede van die gehoor te beïndruk.
Die Emo-ticket is steeds deel van die kompetisie en gaskunstenaars soos Pedro Kruger en Zolani Mahola sal ook kom inloer. Opkomende kunstenaars sal ook nou met Rushney Ferguson gehelp word met hul choreografie.
In die tweede seisoen van Maak my Famous sal daar ook twee ekstra spesiale episodes wees waarna kykers kan uitsien. Een van hierdie episodes gaan Emo en die Top 10-finaliste na elkeen van hulle gemeenskappe en ons hulle moet besluit hoe hulle R20 000 in hul gemeenskap sal aanwend. Die ander episode is ’n verrassing wat die hartsnare gaan roer…

Cas Oppie Kassie
Begin Maandag 6 April om 20:00 op kykNET
Sketskomedie
Met Casper de Vries
Ná meer as ‘n dekade is komediant Casper de Vries terug met wat hy die beste doen – sketskomedie – in die nuwe reeks, Cas Oppie Kassie, vanaf Maandag 6 April op kykNET, DStv-kanaal 144.
Hierdie nuwe komedie is propvol splinternuwe karakters en ook van Casper se bekende gunstelinge, soos Oom Kallie en Montelle, wat nuwe avonture aandurf. Hy word ondersteun deur ’n jong dinamiese span wat almal saam werk om die komedie op die hoogste standaard moontlik na die kassie te bring.
Daar sal ook ‘n rits bekende akteurs in een van die komiese insetsels, Die Laager, in Cas Oppie Kassie te siene wees: Arno Greeff, Schalk Bezuidenhout, Gugu Madlabane, Mila Guy, De Klerk Oelofse en Heidi Mollentze.
En met al die Cas-dubs wat reeds op die internet die rondtes doen is Casper gereed om weer met sy unieke aanslag die bielie te laat kielie.
Cas Oppie Kassie word vanaf Maandag 6 April 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai. https://kyknet.dstv.com/nuus/casper-en-kie-is-terug-na-n-dekade-op-kyknet

Absa Megaboere
Landbouprogram
Begin Donderdag 7 April om 21:00 op kykNET
Met Kabous Meiring
In die vorige Megaboerreekse het dit veral gegaan oor wins en omset van boere wat op enorme skaal boer. Die Megaboere-span het gou agtergekom dat “MEGA” ook ’n ander betekenis het en op ’n ander manier gemeet kan word.
Dink aan mega-hervormers en boere wat ‘mega’ is in hul gebruik van tegnologie, die mega-bemagtigers, mega-bemarkers en sommer ’n hele aantal ander “megas”.
Absa Megaboere gaan 13 baanbrekers besoek wat geleenthede gebruik om nuwe geleenthede te skep – boere wat van die gebaande weë afwyk en heeltemal nuut dink. Landbouers wat elk hul bydrae op hul eie unieke manier maak.
Kabous Meiring is weer terug as aanbieder van Megaboere en gesels in die eerste episode al met verskillende boere in Uganda waar landbou die belangrikste ekonomiese aktiwiteit is. Gedurende die reeks is daar ’n groot klem om hulde aan die helde van die landbouomgewing te bring. https://kyknet.dstv.com/program/megaboere-s5

Fynskrif 3
Drama
Begin Dinsdag 14 April 20:00 op kykNET
Met Chris van Niekerk, Charlton George, Kim Cloete, Tinarie van Wyk-Loots, Edwin van der Walt, Neels van Jaarsveld, Cintaine Schutte, Beer Adriaanse en Lea Vivier.
In die finale seisoen van Fynskrif gaan die Van Wyk-familie deur diep waters.
Lara en Ben moet besluit wat werklik belangrik is vir hulle. Corne leer uiteindelik wat dit beteken om in ‘n volwasse verhouding te wees, terwyl Wian ‘n onverwagse familielid ontdek.
Luke, Bella en Alex skryf matriek en neem hulle eerste tree in die grootmenswêreld, terwyl Dolf besef wat dit beteken om werklik ‘n pa te wees. Tussendeur is daar daaglikse sake en spoke uit die verlede wat terug keer. Uiteindelik ontdek die prokureurs van Van Wyk & Vennote dat jy nie in isolasie kan lewe nie en dat mens sterker saam is as alleen.
In dié derde en laaste reeks word daar gefokus op die karakters se persoonlike- en familielewens – almal moet uiteindelik besluit wat hulle werklik uit die lewe wil hê.
Ben (Neels van Jaarsveld) en Lara (Tinarie van Wyk Loots) moet hul ma se siekte trotseer saam met Hans (Chris van Niekerk). Dit gaan nie maklik wees nie, maar dit gee hul ook duidelikheid oor hul eie toekoms: wat beteken dit om werklik lief te hê? Wat is belangrik? En hoe vind jy ‘n balans tussen werk en familie?
Fynskrif 3 begin op 14 April om 20:00 op kykNET. https://kyknet.dstv.com/program/fynskrif

Voetspore: Madagaskar
Reis
Begin Sondag 19 April 20:00 op kykNET
Met Johan Badenhorst, as aanbieder
In hierdie seisoen, is die Voetspore-span op reis in Madagaskar.
Die span het reeds talle avonture agter hulle rug, maar in hierdie reeks sal hul nog meer op hulle kerfstok sit.
Voetspore: Madagaskar is die eerste ekspidisie vir die span buite die Afrika-kontinent en gee ’n unieke blik van hierdie eiland in die Indiese Oseaan.
Die span ontmoet ook Suid-Afrikaners wat al jare op Madagaskar woon en moet weer voertuie uit die modder probeer kry. Hulle doen diepsee hengel en gaan op nagwandelinge in een van die woude om die nagdiere se aktiwiteite waar te neem.
Van veerbootkruisings, kunstenaars se werke, die vreemde lemurs en uitdagende rivierkruisings sal Voetspore: Madagaskar voorwaar ’n opwindende kykgenot verskaf.

Skemerson
Rolprent
Saterdag 11 April om 20:00 op kykNET
Met Pietie Beyers, Elize Cawood & Anneke Weidemann
Skemerson sal vir die eerste keer op kykNET uitgesaai word in April.
‘n Sielvolle jong vrou(Anneke Weidemann, haar brose dog stralende ma(Elize Cawood) en die jong man(Pietie Beyers) met ‘n donker gees se paaie val mekaar in die rede. ‘n Eerlike, deernisvolle verhaal. ‘n Storie van menswees.
Skemerson is geïnspireer deur ware gebeure.
’n Jong man met ‘n donker gees is op pad Bloukrans-brug toe. Hy slaap ’n laaste aand by die familie-vakansiehuis. Hy staan op die brug en staar sy noodlot in die oë. Dan hoor hy haar lag.
Hierdie is die begin van ‘n naweek wat drie mense se lewens vir ewig sal verander.
Skemerson wys Saterdag 11 April om 20:00 op kykNET

Silwerskermfees kortfilms
Miemie
1 April 2020 om 17:30 op kykNET
Met Mila Guy en Bennie Fourie
Regisseur – Claudia van Zyl
Meisie is die ongelukkigste persoon op aarde. Sy is al drie keer deur weerlig getref en kry elke Dinsdag ’n koorsblaar.
Die dorp se inwoners weet dat sy slegte dinge aantrek en vlug wanneer hulle hoor ’n meteoriet is op pad aarde toe – almal behalwe haar tromspeler-buurman, Otto, wat buitengewoon gelukkig is. Hy kry verniet WiFi en het nog nooit geval nie. Saam probeer Miemie en Otto maniere uitdink om die meteoriet te ontduik, maar die balans tussen geluk en ongeluk is meer ingewikkeld as wat hulle ooit sou kon raai. https://kyknet.dstv.com/fliek/miemie

Sussie
1 April 2020 om 22:00 op kykNET
Met Anolé Van Rooyen, Xulé Engelbrecht, Antoinette Louw, Johan Esterhuizen en Ira Blanckenberg
Regisseur – Gert Steyn
Delia se hele wêreld draai om Sussie, haar jonger suster. Hulle is beste vriende en deel alles.
Hul ma, Jana, gee meer om oor haar volgende drankie as haar dogters, maar die egpaar langsaan stel belang. Bert is bekommerd dat hy Sussie vir dae nie gesien het nie, terwyl sy vrou, Tina, glo die meisies het blomme uit hulle tuin gesteel. Delia sal egter alles doen om die geheim te beskerm wat almal se wêreld in duie kan laat stort. https://kyknet.dstv.com/fliek/sussie

Hoe om ’n perd te teken
3 April om 21:00 op kykNET
Met Luan Jacobs en Luca Bornman
Regisseur – Kaz McFadden
Dis laat op ’n winteraand en Leander is moeg vir die lewe. Wanneer hy in die nagbus klim, verwag hy die gewone koue en leë sitplekke, maar dié is nie ’n gewone aand nie.
Hy ontmoet ’n jong seun wat alleen op pad see toe is. Terwyl hy probeer om die seun te oortuig om huis toe te gaan, besef Leander hulle het baie in gemeen. Dalk té veel.
Saam gaan die twee op ’n reis deur die verlede, hede en toekoms, en Leander leer dat iets kleins, soos om ’n perd te teken, die lewe nuwe betekenis kan gee. https://kyknet.dstv.com/fliek/hoe-om-n-perd-te-teken

Swaaibraai
4 April 2020 om 21:30 op kykNET
Met Cintaine Schutte en Johann Vermaak
Regisseur – Gerhard Pretorius
Die wittebroodfase van Lourens en Susan se huwelik is lankal verby. En wanneer sy ná nog ’n laat aand op kantoor tuiskom en Lourens met sy broek af en sy neus diep in ’n bloufilm betrap, is hulle uiteindelik eerlik met mekaar: Hulle moet iets drasties doen om hulle huwelik te red.
Hulle klap ’n bottel wyn en kry die antwoord: SwaaiBraai – ’n eksklusiewe app vir swinger-partytjies. https://kyknet.dstv.com/fliek/swaaibraai

Van nasionale belang
11 April om 21:30 op kykNET
Met Tiaan Rautenbach, Zak Hendrikz, Je-ani Swiegelaar, Renaldo Botha, Eloise Clasen en Mari Molefe van Heerden
Regisseur – Hannes Brümmer
Stefan Naude is ‘n geheime agent wat vir Nasionale Intelligensie werk.
Stefan se werk is om oproepe van Suid-Afrikaanse burgers te monitor vir moontlike bedreigings vir nasionale sekuriteit. Wanneer Stefan ‘n gesprek afluister tussen ‘n sluipmoordenaar en sy skelmpie, vind hy uit dat ‘n minister se lewe bedreig word. https://kyknet.dstv.com/fliek/van-nasionale-belang

Die Begrafnis
15 April om 15:00 op kykNET
Met Laetitia Solomons, Lee-Ann van Rooi, Ivan Abrahams, Roxanne Blaise, Ann Juries-May, Jonwin Constable & Christy-Ann Julies.
Regisseur – Johannes Pieter Nel
Wanneer Mathilda haar geliefde man, Hendrik Exodus Gert Thys, aan die dood afstaan, moet die reëlings vir sy begrafnis inderhaas getref word. Die familie wil haar ondersteun, maar soos haar oorle’ oupa altyd gesê het – dis net om gesien te wees, elkeen het sy eie agenda. https://kyknet.dstv.com/fliek/die-begrafnis

Vinnie + Olga
25 April om 21:30 op kykNET
Met Paul Lückhoff en Edrien Erasmus
Regisseur – Gerhard Ehlers ’n Non, Olga Vockerodt, is ’n top-agent vir die Vrystaatse Vampier Vegters (VVV) wat gestuur word om Vinnie, ’n ou vampier, te onderskep by sy fopbegrafnis en hom te elimineer. Sy ruil die twee kiste op pad na die begraafplaas om en sit vir Vinnie agter in die VVV se lykswa. Die missie ontaard egter in ’n nagmerrie, want Vinnie het sy eie plan beraam. Olga is salig onbewus dat die drywer langs haar eintlik Vinnie is en die regte drywer bewusteloos agter in die kis lê. https://kyknet.dstv.com/fliek/vinnie-en-olga

Vervroegde Aftrede
18 April om 21:40 op kykNET
Met Jakkie Groenewald, Elsabe Zietsman, Paul Ditchfield, Julie Strijdom en Laré Brink
Regisseur – Floris Groenewald Na ‘n ligte beroerte moet speurder Martinus Fouché by ‘n ouetehuis intrek vir voltydse versorging. Maar tussen paranoïese oumense wat skelms om elke hoek sien, is hy nog skerp genoeg om die werklike onderduimse gebeure raak te sien? https://www.youtube.com/watch?v=GgCLORAvEQg

kykNET&kie (DStv-kanaal 145) is ’n verskeidenheidskanaal wat beskikbaar is op die DStv Family-, Compact-, Extra- en Premium-pakkette. Die kanaal bied outentieke kykgenot vir die hele gesin asook eksklusiewe inhoud wat nog nooit vantevore op lug gesien is nie.

Dokumentêr
Begin Dinsdag 28 April 20:30 op kykNET & kie
Met Ernusta Maralack as aanbieder
Dié SAFTA-benoemde reeks is terug op kykNET & kie vir ’n tweede seisoen.
Nadat dit onlangs bekend gemaak is dat Op Seer se Spoor terug sal keer na kykNET & kie het kykers geweldig gereageer om die program weer op die kassie te kyk.
Op Seer se Spoor volg die reis van Kuier se artikel-redakteur, Ernusta Maralack. Tydens dié reeks gaan Ernusta terug na misdaad tonele wat gemeenskappe geruk het. In seisoen 2 besoek sy onder andere Gauteng, Noord-Kaap, Oos-Londen, Mosselbaai, Beaufort-Wes en Kaapstad.
In die tweede reeks praat sy weer met gemeenskappe soos Bernadino Heights in Kraaifontein wat in 2017 tot in hul fondamente geskud toe ‘n weduwee al drie haar seuns geskiet voordat sy haarself om die lewe gebring het. https://kyknet.dstv.com/program/op-seer-se-spoor/video%E2%80%99s

Koortjies
Musiek- en geselsprogram
Sondag om 18:00, DStv kanaal 145 vanaf 5 April 2020
Met Jonathan Rubain
Die nuus is uit!
Jonathan Rubain, die bekende gospel-musikant sal die eerste Afrikaanse gospel-musiek reeks op kykNET & kie aan bied. Rubain is reeds een van die mees vereerde gospelmusikante en sing gereeld voor uitverkoopte gehore. Hy sluit ook aan by al die wonderlike aanbieders op die kykNET-kanale.
Hierdie reeks sal fokus op geloof, sang, spiritualiteit en ander sake wat kykers na aan die hart lê. En Koortjies skop af met een groot samekoms waarvan honderde mense saam met Rubain bekende gospel-liedjies sing.
Daar sal ook ’n paar bekende gaste kom gesels en daar sal behoorlik gesing word!
Koortjies met Jonathan Rubain is elke Sondag om 18:00, DStv kanaal 145 vanaf 5 April 2020 te sien. https://kyknet.dstv.com/nuus/jonathan-rubain-sing-koortjies-op-kyknet-kie

kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) is die plek vir lekker tunes en goeie vibes. Dis beskikbaar op die DStv Family-, Compact-, Extra- en Premiumpakkette én op DStv NOW.

Soweto String Quartet, Anton Goosen & Vriende
Musiek
24 April om 21:00 op kykNET NOU!
Madiba se gunsteling musiekgroep, Soweto String Quartet, en die Liedjieboer, Anton Goosen, het onderskeidelik groot spore in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld getrap en span kragte saam vir ’n onvergeetlike musiekaand.
Die legendariese sangeres, Sonja Herholdt, stal al ’n lang musiekpad met die Liedjieboer; die veelbekroonde sangeres en televisie-aanbieder, Lynelle Kenned en die talentvolle rymkletser, Early B kan ook gesien word in hierdie geskiedkundige optrede

Andre Rieu: Love in Maastricht
Musiek
5 April om 21:00 op kykNET NOU!
Die legendariese violis, Andre Rieu, is terug met een van sy grootste opelug-konserte in Maastricht, Nederland.
Maak gereed vir ‘n konsert met gewilde arias, soos ‘Nessun Dorma’, sowel as treffers soos ‘Can’t Help Falling In Love’ en ‘You Raise Me Up’.
Andre Rieu: Love in Maastricht sal op 5 April om 21:00 uitgesaai word.


Kleuterzone
Dinsdae om 09:00 op kykNET NOU!
Kleuterzone is ‘n reeks met ’n Christelike fondament wat fokus op kleuters in Suid-Afrika. Elke week kan kykers uitsien na die stories wat die pikkies vertel, aktiwiteite wat hulle doen en ook meer oor die spesifieke kleuterskool in hul omgewing. Met Kleuterzone word uitgesoekte kleuterskole se kleuters die geleentheid gegee om ’n herinnering vir ’n leeftyd op te doen.
Bly op hoogte deur kykNET, kykNET & kie en kykNET Lekker op Facebook, Twitter en Instagram te volg.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →