Aitsa- Bekroonde musikant voltooi laaste stukkie van legkaart met nuutste vrystelling!

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Danny Smoke se geheimsinnigheid maak hom onweerstaanbaar vir sy aanhangers en met sy smeulende en ennergieke lewendige optredes verower hy tans harte reg-oor Suid-Afrika. 

Sy musiekvideos en liedjies is sexy en lekkerluister-musiek, waarby gehore oraloor aanklank vind en al is van sy videos al ’n keer of wat as ietwat “te warm” vir televisie beskryf, dink sy aanhangers duidelik glad nie so nie!

Toe hy besluit het om die liefdesverhaal, wat hy graag wou vertel, in die vorm van ’n trilogie musiekvideos met sy aanhangers te deel is die eerste twee musiekvideos, Soek jy aandag of soek jy my lyf? en T-Shirt duisende kere aanlyn gekyk. Selfs radiostasies van regoor die land het versoeke begin ontvang om hierdie liedjies van Smoke te speel, selfs al was dit nie amptelik uitgereik nie.

Almal sien natuurlik ook nou al ’n geruime tyd uit dat Danny die laaste stukkie van die legkaart moet voltooi deur die derde musiekvideo in die trilogie bekend te stel en – in tipiese Danny Smoke-styl – deel hy die laaste insetsel van dié smeulende storie op Valentynsdag en dit gaan luisteraars en kykers beslis nie teleurstel nie!

Danny gaan wéér duisende vroue se knieë lam maak, want hierdie popster onthul nou vir die eerste keer dat hy eintlik ook maar ’n romantiese siel is! “Elkeen van ons was al in ’n situasie waarin ons wou hê dat die vuurwerke en opwinding van nuwe liefde nie moes ophou nie. Die eerste ontmoeting en die tydjie daarna, is die lekkerste ding wat ’n paartjie kan ervaar en dit was die inspirasie agter hierdie liedjie,” verklap die Aitsa-bekroonde musikant (Vervaardiger van die Jaar), wat die enkelsnit saam met Johan Vorster en Christoph “Appel” Kotzé geskryf het. “Ek is ’n sucker vir ’n mooi liefdesverhaal en dit is dalk ook iets waaroor ek fantaseer. Die boodskap is dat jy nooit weet wanneer die liefde jou, soos ’n nat vis, deur die gesig kan slaan nie.”

GAAN ONS INLÊ se musiekvideo volg op die vrystelling van Soek Jy Aandag Of Soek Jy My Lyf?, waar die verhaal begin, en T-Shirt, wat die passievolle en romantiese kant van hulle groeiende verhouding uitbeeld en nóú kan almal uiteindelik sien hoe die storie eindig.

Kyk die video hier: http://www.youtube.com/watch?v=lxQ_G-C_E-I

Die musiekvideo, wat net soos die voriges deur Daniel Rademeyer en Jannes Erasmus in dokumentêre styl verfilm is, vertel die laaste deel van die storie van dié unieke trilogie. “Dit gaan oor ’n musikant wat wegbreek van sy besige lewe en loopbaan om alleen Mosambiek toe te gaan. Op pad soontoe, ontmoet hy ’n meisie (Danica van den Heede) wat vir dieselfde rede ryloop. Hy laai haar op en hulle raak verlief,” verduidelik hy. “In die nuutste video, is die musikant en sy bestuurder op pad na ’n groot vertoning toe. Omdat hy nie kan ophou om aan die meisie te dink nie, vra hy sy bestuurder om hom na haar te help soek. Dan daag sy toevallig by die konsert op…”  

GAAN ONS INLÊ is ’n lekkerluister-popnommertjie oor ’n ou wat graag sy droommeisie nog vir ’n rukkie vir homself wil hou.

As gevolg van die reuse vraag gaan al drie die liedjies in die trilogie, Soek jy aandag of soek jy my lyf?, T-Shirt, en Gaan ons inlê ook nou hierdie rondte as enkelsnitte gelyktydig aan radiostasies landswyd vrygestel word om Valentynsmaand sommer nog ekstra spesiaal te maak.

Die enkelsnitte vorm almal deel van sy debuut-album, Swaeltjies, wat in 2019 vrygestel is en die groot treffer, Jou Lippe, opgelewer het en uit dertien snitte bestaan.

Danny, wat oorspronklik bekendheid verwerf het vir sy merkwaardige kitaarspel en musiekvervaardigingsvaardighede, het die afgelope jaar hard gewerk om homself as solo-kunstenaar te vestig en het in Desember die voorreg gehad om deel te wees van die Hartenbos In Afrikaans-musiekfees.

Tans is hy en sy orkes hard besig om aan die formaat van hulle lewendige optredes te bou en fokus hy daarop om hoë gehalte inhoud te vervaardig sodat aanhangers hom beter kan leerken. “Ons wil graag die beste lewendige vertonings in die land doen en die gehoor se asem wegslaan,” deel hy.

Danny Smoke – Die storie agter die trilogie!

Die sensasionele Danny Smoke se #SuperVideo (die trilogie, Soek Jy Aandag Of Soek Jy My Lyf?, T-Shirt en Gaan Ons Inlê gekombineer) word op 20 Maart 2020 vrygestel, maar om aanhangers in die regte luim te kry en behoorlik daarna te laat uitsien het hierdie rocker van formaat besluit om vandag ‘n “agter die skerms” (EPK) video bekend te stel om aan aanhangers te vertel waar en hóé die idee agter die trilogie ontstaan het.

“Ons het in ‘n kar geklim. Ek het hierdie meisie, Danica Vandenheede ontmoet by ‘n gastehuis, ons ken mekaar glad nie, maar ry toe 1 300km na Mosambiek toe. Dit was incredible om dit so te doen, dokumentêre styl, een kamera, dit was nooit vals of aangeplak nie, kom ons gaan op vakansie en kyk hoe dit uit draai”, vertel Danny opgewonde in die “agter die skerms” video wat eksklusief op BokTV bekendgestel is.

In die video verduidelik dié Aitsa-bekroonde musikant wat duisende vroue se knieë lam maak aan kykers waar die idee vandaan gekom het om ‘n trilogie te vervaardig en hoe die drie liedjies in mekaar vloei en dit maak jou behoorlik lus om ‘n rooi sirkel om die datum, 20 Maart op jou kalender te trek om seker te maak jy mis nie die bekendstelling van die #SuperVideo nie!

“Dit was so natuurlik vir my, om hierdie roete te volg”, sê Danny.  “Ek hoop as mense die video kyk ervaar hulle daai gevoel wat hulle al in hulle lewens gehad het. Daai ding wat jy dink nooit sal gebeur nie maar dan het dit.”

Kyk die “agter die skerms video” hier:  https://umusic.box.com/s/j4mh6zus86biq07oj4lexnbwukfbsz46

Danny se album SWAELTJIES is nou op alle digitale platforms beskikbaar.  Kry hom hier:  https://INHOUDHUIS.lnk.to/Swaeltjies

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/dannysmokefull/

Twitter: @Danny_Smoke

Instagram: @dannysmokeking

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies

Gizela Arndt

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela101@gmail.com

Webblad: www.starburstmusic.co.za

STARBURST PROMOTIONS
Jacques Perie – ADMINISTRATION

Related posts