ELMA POTGIETER IN “MY OOM SE VROU SE PLEKKIE” BY DIE ATTERBURYTEATER

Die lekkerlag Lefra-klug My Oom se Vrou se Plekkie, onder regie van Frans Swart, speel by die Atterburyteater in Pretoria op 6 en 7 November met vertonings daagliks om 20:00.  Cobus en Estelle Venter het die teks vertaal en verwerk.  Besprekings kan aanlyn by www.itickets.co.za gedoen word, of telefonies by 086 1000 291, en groepe van meer as 10, kry oudergewoonte ‘n lekker afslag.  Skakel Monica by (011) 815 3000 of besoek www.lefra.com vir meer inligting.  Daar word streng by alle Covid-19-protokolle gehou en besoekers word daaraan herinner om hul maskers saam te bring.  My Oom se Vrou se Plekkie word aangebied met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Renegades Removals, Ambassador Execudrive en Savvy Holdings.

My Oom se Vrou se Plekkie speel af in die baie elegante dakwoonstel in Melville van Philip en Jeanette Martins. Die woonstel is pas opgeknap en het grootliks leeg gestaan. Philip is ‘n baie eerbare kinderboekuitgewer, en deel ‘n kantoor met sy venoot Henry Loots, op die grondvloer van dieselfde gebou. Philip stem teen sy sin in dat Henry die woonstel een aand leen om sy nuutste vriendin te “vermaak”. Terselfdetyd word Jeanette deur Linda, Henry se vrou, oortuig om dieselfde woonstel vir haar te leen sodat sy haar nuutste minnaar kan trakteer. Maar wat niemand weet nie, is dat die binnenshuiseversierder, wat die afgelope drie maande aan die wooonstel gewerk het, besluit het om vir die au pair, Sylvie, die nuwe, ronde bed te wys. En ja, dit alles gebeur op dieselfde aand!

Frans Swart sê dat My Oom se Vrou se Plekkie seker een van die “malste” klugte is wat Lefra nog aangepak het.  “Ons hele span moes werklik baie kop hou met die een, want deure klap toe, mense kruip weg in kamertjies, misverstande is aan die orde van die dag en soos dit die klug behaag, gaan mense beslis vir twee ure heerlik kan lag,”sê Swart. “Mense wil nie meer wroeg as hulle teater toe gaan.  Mense wil ontspan en dis juis hoekom ons klugte so gewild is.  Vir twee ure, sien jy daar is ander mense wat meer moeilikheid as jy het.  En die lekkerte is dat jy nog vir daardie ouens kan lag!”

Juanita Maradon

My Oom se Vrou se Plekkie spog met van die land se mees talentvolste akteurs: Etienne du Plessis, Johan Joubert, Marissa Claasen, Ana van Achterbergh, Botha Enslin, Janè Swanepoel, Francois van Rensburg, Juanita Mardon en natuurlik die veteraanaktrise, Elma Potgieter.  Elma Potgieter is al vir sewe en veertig jaar ‘n toneelspeler.  “Ek moes die som maak: 2020 minus 1973 toe ek by Kruik begin speel het.  Kan jy glo!” sê Elma.  Woorde leer en lees was nog altyd vir Elma natuurlik.  “Ek het begin op vier te lees – nogal koerant – ‘n sigaretadvertensie!”  Elma is op vyf reeds skooltoe en het haar skoollopbaan uiteindelik aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar in Johannesburg voltooi.    Daar het sy haar toegespits op leer, lees, toneelspeel en sang.  Na skool kry sy haar universiteitsopleiding aan die Univeristeit van Pretoria, en slaag met Afrikaans/Nederlands, Engels, Frans, Duits, Sielkunde en Kunsgeskiedenis.  Drama en sang het sy na ure bestudeer.

Sy gaan werk eers as joernalis by ‘n koerant waar sy begin skryf, en ontmoet gou die liefde van haar lewe, die akteur en regisseur, Schalk Jacobsz.  As Die Bywoners voer hulle verskeie produksies op onder andere Hallo & Koebaai! deur Athol Fugard, wat deur Schalk in Afrikaans vertaal was, Die Wildsboudjie met onder andere Cobus Rossouw en Ernst Eloff in die rolverdeling, en ook Moervrug waarin sy ses karakters speel – drie mans en drie vroue.  In 1979 bied sy die kinderprogram Wielie Walie aan en in 1980 ‘n ruk lank Kraaines.  Sy skiet wyedoekrolprente met hoofrolle in onder andere Dr. Marius Hugo, Sonja en Eensame Vlug waartydens sy vir Jan Scholtz werk.  Toe hy haar bel vir die TV-reeks Iemand om lief te hê, sê hy: “Jy speel mal rolle baie goed.  Die vrou in dié reeks is mal.  Jy moet haar vir my speel”.

“Nou ja.  Wat is maller as om ‘n groot rol binne twee weke oor te neem?”, lag Elma.  “En dis waar Frans Swart van Lefra in die prentjie kom – in sy klug Daa’ Gaat die Bruid in 2017 nadat Marga van Rooy siek geword het.  Ek neem ook oor in Mis deur Reza de Wet vir André Stolz Produksies en die volgende klug is My Oom se Vrou se Skelmpie, ook vir Frans van Lefra.  En hier is ek nou in die derde klug vir Lefra – My Oom se Vrou se Plekkie.  Die heerlike rol van Doretha Marié van der Spuy, skrywer van die Woefter-kinderboekreeks!”

Etienne du Plessis vertolk die rol van Phillip Martins in My Oom se Vrou se Plekkie.  Etienne het aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) studeer en behalwe vryskutakteur, is Etienne ook musikant en beskryf homself op sosiale media as filosoof.  Hy het in 2018 die rol van The Big Bopper in die musiekblyspel Buddy – The Buddy Holly Story vertolk, en is volgende jaar te sien as Speursersant Portherhouse in die nuwe Lefra-klug, My Vrou se Man se VrouMarissa Claasen is ‘n 29-jarige aktrise en musikant.  Sy het haar B-tech Graad in Drama in 2013 aan TUT behaal, waar sy verskeie komiese en ernstige rolle in universiteitsproduksies vertolk het.  Die rol van Eliza Doolittle in George Bernard Shaw se Pygmalion was vir haar ‘n hoogtepunt.  Marissa was onlangs te sien as Nina van Rooyen in die verhoogproduksie van Fiela se Kind vir Lefra en sedertdien het sy op verskeie televisieproduksies agter die skerm gewerk.  Marissa sluit ook volgende jaar by Etienne aan in My Vrou se Man se Vrou.

Nog ‘n oudstudent van TUT¸ is die talentvolle Botha Enslin.  Hy het in 2003 sy dramakwalifikasie verwerf en was die afgelope paar jaar veral besig met kinderteater, met bykans 30 van die produksies onder die belt.  “Kinderteater leer ‘n kind om in hierdie tyd van hoë tegnologie weer kind te wees,” sê Botha.  “Dit laat ‘n kind droom en verbreed sy verbeeldingswêreld”.  Botha was sedert 2010 (en is steeds!) te sien in Lefra se Liewe Heksie, waarin hy ‘n paar rolle vertolk.  Hy het ook verskeie rolle in Lefra se klugte sedert 2013 vertolk.  Ana van Achterbergh het haar B-Tech Diploma in Drama en Film aan TUT verwerf.  Haar liefde en passie vir drama kom al van kleintyd af waar sy op laer- en hoërskool aan elke kunswedstryd en Eistedfodd deelgeneem het, kultuurster geword het en die toekenning as beste redenaar en akteur in haar hoërskool.  Toe sy elf-jaar oud was, het sy die drama afdeling op die televisieprogram Star Search gewen.  Ana is natuurlik ook Suid-Afrika se Liewe Heksie, en speel reeds sedert 2010 in die produksie.  Ana was in 2014 te sien as Mary in My Boetie se Sussie se Ou en het in 2014 die rol van Katarina vertolk in My Boetie se Boetie se Boetie se Baba

Johan Joubert is ook ‘n oud TUT-student, en het sy B-Tech Graad in Drama verwerf.  Hy het daarna verskeie kinderteaterproduksies gedoen, veral vir Redhead Productions en opvoedkundige teater vir PIT Produksies.  Televisiekykers sal hom onthou vir reeks soos KykNet se Sterlopers en Phil 101.  Johan was ook te sien in ‘n Silwerskermfees-kortfilm, Eenrigting en het onlangs die regie van ‘n Zulu/Engelse opvoedkundige produksie behartig.  Juanita Mardon van Pretoria het haar Honneursgraad in Drama aan die Universiteit van Pretoria behaal, en sit haar studies voort by die Drama Academy of Art San Fransisco.  Hierdie 27-jarige aktrise, wat graag skets in haar vrye tyd, het ook die teks geskryf vir die kortfilm Sussie, wat tydens die 9de kykNet Silwerskermfees vertoon was.  Sy was in 2017 te sien in die verhoogproduksies Die Avonture van Dawie die Tuindwergie en Ligte! Kamera! Aksie!

Jané Swanepoel het tien jaar se afrigting by ‘n Drama-skool ontvang, waarin sy talle pryse verower het.  In 2015 ontvang sy haar BA Drama-graad aan die Universiteit van Pretoria, waarna sy haar BA Drama-honneurs aan die Open Window Institute ontvang het.  Janè is tans besig met haar meestersgraad in film en drama aan die Universiteit van Pretoria.  Francois van Rensburg is ‘n radio-omroeper, deeltydse sanger, vryskut-akteur en televisie-aanbieder.  Luisteraars van Pretoria se GrootFM ken hom as die aanbieder van Die Lunch Punch weeksdae tussen 12:00 en 15:00.  Sy Sondag-program, Gister Se Grotes is by die Liberty Radio Awards as “Best Weekend Show” vir 2019 aangewys.  In 2020 het dieselfde program ‘n SA Radio Award vir “Best Music Show” gewen.  Van die klugte waarin Francois al op die verhoog verskyn het sluit in: My Boetie se Sussie se Ou (2014), My Boetie se Boetie se Boetie se Baba (2015),  My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou (2018) en natuurlik My Oom se Vrou se Plekkie.

met Elma Potgieter, Ana van Achterbergh, Botha Enslin, Etienne Du Plessis, Janè Swanepoel, Johan Joubert, Francois van Rensburg, Marissa Claasen en Juanita Mardon

Vertaling en verwerking: Cobus Venter en Estelle Venter

Regie: Frans Swart

Atterburyteater, Lynnwood Bridge Lifestyle Centre, Daventrystraat 4, Hoek Van Lynnwoodweg, Lynnwood

Vrydag, 6 November @ 20:00 | Saterdag, 7 November @ 20:00

Besprekings: www.itickets.co.za | Groepbesprekings: Monica Booysen by (011) 815-3000 of epos admin@lefra.com

Meer inligting: www.plekkie.co.za

Bespreek jou kaartjies vir My Oom se Vrou se Plekkie nou aanlyn by www.itickets.co.za, of skakel 086 1000 291.  Groepe van meer as 10, kry oudergewoonte ‘n lekker afslag.  Skakel Monica by (011) 815 3000 of besoek www.plekkie.co.za vir meer inligting.

ISSUED BY:

MEDIA ENQUIRIES | Charl Senekal T 011 815 3000 or admin@lefra.com

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →