Taalmonument ken Alexander-eerbewyse ter bevordering van Afrikaans toe

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Taalmonument ken Alexander-eerbewyse ter bevordering van Afrikaans toe
SBA, Fredericks en Le Cordeur verower R60 000 se pryse; Elvis Saal lewer gedenklesing in die Paarl

Neville Alexander

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) kondig met trots aan dat Gaireyah Fredericks en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) die 2020-wenners van Neville Alexander-prestige-eerbewyse vir die bevordering van Afrikaans is. Prof Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch is vereer vir sy lewenslange en uitnemende diens aan die Afrikaanse taalgemeenskap. Alexander (1936-2012) was ʼn bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het.

Die pryse, ter waarde van R60 000 in totaal en geborg deur Naspers, is op Saterdag, 10 Oktober, tydens ʼn glansgeleentheid in die Historium Konferensiesentrum in die Paarl deur die voorsitter van die ATM raad, prof Elvis Saal, oorhandig. Hy het ook die gedenklesing ‘Om Afrikaans te Herskep’ gelewer waarin die klem op die herskep van Afrikaanse ruimtes en dat Standaardafrikaans veelkantiger, dat die standaard verder geafrikaniseer moet word, geval het. Dit is opgevolg met ʼn bespreking ‘Vele Tongvalle, Een Taal – veeltaligheid in Afrikaans’ met gesprekleier Michael Jonas, ATM-direkteur, en die jong paneellede Giselle Botha, Monn-lee Geduld en William Sezoe, waarna die 60 gaste vrae aan die deelnemers kon stel.

Onder die inisiatiewe van Fredericks, ʼn aktrise en skrywer, tel die Moedertong-werkswinkels vir skeppende skryfwerk, haar formele mentorskap-program, haar bevordering van die taal onder Moesliem-sprekers van Afrikaans, asook haar pogings om jong skrywers aan literêre feeste bloot te stel. Deur haar werk in Afrikaans het Fredericks ‘n rolmodel vir baie geword en dra sy by tot die viering van die taal se skoonheid en nalatenskap.


SBA, Fredericks en Le Cordeur verower R60 000 se pryse; Elvis Saal lewer gedenklesing in die Paarl

Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig. Met ʼn fokus op onder meer veeltaligheid, het hierdie organisasie die afgelope jare ʼn praktiese werksoek-sakgids in Afrikaans, Xhosa en Engels gepubliseer, bykomende Afrikaanse leermateriaal aan skoolleerders versprei, veeltalige kinderboeke uitgegee, ʼn Mandeladag Jeugleiersforum aangebied, en voortgegaan met hul suksesvolle storiesprojek, Amagama-veeltaligheidsprojek en Afrikaans Sing!-koorgeleentheid.

Le Cordeur het in sy hele loopbaan van 40 jaar sy tyd en lewe daaraan gewy het om Afrikaans vir almal toeganklik te maak en die taal as ’n medium te gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder. Dit was aanvanklik as Afrikaansonderwyser, later dosent in Afrikaans en opvoeder van toekomstige Afrikaanse onderwysers, asook sy volgehoue betrokkenheid by die breë Afrikaanse landskap.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is hierdie eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans te gee en om taalprojekte te bevorder. “Vanjaar se keuses was selfs moeiliker as vantevore, want ons het werklik uitstaande inskrywings gehad. Ons bedank almal wat genomineer is vir hul onbaatsugtige werk om Afrikaans te bevorder; dit word nie misgekyk nie. Doe zo voort.”

Die wenners ontvang ’n sertifikaat en prysgeld ter waarde van R20 000 elk ten behoewe van relevante taalprojekte.  Ander vorige wenners sluit Suzie Matlhola, Ernest Loth, die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde in.

Meer foto’s van die geleentheid en inligting oor die wenners kan op www.taalmonument.co.za gevind word.

Vir meer oor die ATM, wat vanjaar 45 jaar jonk is, asook hul die opwindende somerprogram, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Vir navrae, skakel 021 863 0543/4809.

Riana Dempers
Geleentheidskoördineerder / Events Coordinator
Die Afrikaanse Taalmuseum en –monument


T +27 (0)21 863 0543/4809
F +27 (0)86 231 7324/+27 (0)21 863 0192
E kommunikasie@taalmuseum.co.za
W www.taalmuseum.co.za | www.taalmonument.co.za
F www.facebook.com/afrikaansetaalmonument
T www.twitter.com/taalmonument

Related posts