Kan djy Afrikaans toelies in Arabies of Jawi?Taalmonument loods Arabies-Afrikaansekompetisie met R10 000 op die spel!

Please follow and like us:
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
LinkedIn
Share
INSTAGRAM

Ter ere van Erfenismaand en as deel van die viering van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 45ste verjaardag, loods hulle ʼn gratis kompetisie waarin R10 000 op die spel is enigiemand wat enige kort Afrikaanse teks in Arabiese of Jawiese (Arabies soos aangepas om spesifieke Afrikaanse klanke weer te gee) skrif translitereer. Boonop sal van die beste voorbeelde vir ʼn paar maande in die monument se Groen Galery uitgestal word om dit aan ʼn groter gehoor bekend te stel.

Arabies-Afrikaans, oftewel Afrikaans wat met behulp van die Arabiese alfabet geskryf is, word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle Arabies-Afrikaanse geskrifte – soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte – het behoue gebly; tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is, deur kundiges ontdek en geïdentifiseer. Hieronder tel uitstekende voorbeelde van die vroegste Afrikaanse literatuur. Daar word boonop vermoed dat heelwat onopgetekende Arabies-Afrikaanse geskrifte in privaatbesit is.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die doel van hierdie kompetisie om ʼn moderne bydrae tot hierdie unieke skryftradisie, te lewer. “Ons missie is immers om onder meer die versweë geskiedenisse van Afrikaans te belig en die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. Daarom wil ons mense aanmoedig om ook op hierdie manier hul deelname aan hierdie taal te herbevestig,” sê hy. “In die Taalmuseum in die Paarl gee ons heelwat erkenning aan Abu Bakr Effendi wat in die 1800s ʼn groot rol in die ontwikkeling van Arabies- Afrikaans en derhalwe ook Afrikaans in die Bo-Kaap gespeel het. Ons wil graag sien dat die Afrikaanse gemeenskap hierop voortbou.” 

Die beoordelaar is dr. Shamiega Chaudhari, hoof van die Departement van Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare. Sy is nie net ʼn kenner op Afrikaans en Arabies, en liefhebber van Jawies, nie, maar fokus ook op dekolonisering, identiteitstudies en oratuur. Volgens haar is min jonger Suid-Afrikaners bekend met Jawies, daarom bied die kompetisie hulle die opsie om die transliterering met die standaard-Arabiese alfabet te doen. “Ek beskou dit as heerlike uitdaging, en hopelik ook ʼn manier om groter belangstelling in Jawies te ontlok,” sê sy. Jawies word onder meer ook gebruik om Javanees, Acehnees en Banjarees met behulp van die Arabiese skrif te skryf. Omrede daar nie ʼn gestandaardiseerde Arabiese of Jawiese weergawe van Afrikaans is nie, sal deelnemers se werke nie gemeet word aan wat absoluut korrek is nie, maar aan die oorspronklikheid en leesbaarheid daarvan.

Om in te skryf, moet deelnemers ʼn teks in enige variëteit van Afrikaans (standaard, Griekwa, Nama, Kaaps ensovoorts) in die Romeinse skrif vind of skryf. Dit moet 100 tot 250 woorde lank wees en in enige genre – van religie tot rymklets – waarna dit in Arabies OF Jawies OF beide getranslitereer word. Om met laasgenoemde te help, is ʼn paar moderne Afrikaanse voorbeelde, aanlynbronne en sleutelborde beskikbaar, veral wat die weergee van spesifieke Afrikaanse klanke betref – sien www.taalmonument.co.za/arabies-afrikaans/. Die wenner sal R5 000 kontant ontvang en die twee naaswenners R2 500 elk, geborg deur die Historium Trust. Die beste 12 inskrywings sal in die monument se buiteluggalery uitgestal word waar die Romeinse en Arabiese/Jawiese weergawes van dieselfde Afrikaans teks naas mekaar sal verskyn.

Vir die inskrywingsinligting, voorbeelde en aanlynbronne, sien www.taalmonument.co.za/arabies-afrikaans/. E-pos jou inskrywing (maksimum twee per persoon) met jou volledige naam, adres, telefoonnommer en e-posadres na bemarking2@taalmuseum.co.za. Kompetisie eindig 30 November 2020, en wenners en uitstallers sal binne ʼn maand hierna in kennis gestel word. Dit is oop aan almal, en bepalings en voorwaardes geld. As jy enige navrae het of jou inskrywing via WhatsApp wil stuur, kontak Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za

Vir meer inligting oor die opwindende geleenthede soos die musiekfeeste, pieknieks en gesprekke asook die Taalmonument se 45ste verjaardagvieringe in 2020, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. DIE MONUMENT EN MUSEUM HEROPEN VIR DIE PUBLIEK OP 1 OKTOBER 2020.

(Bron:https://af.wikipedia.org/wiki/Arabiese_Afrikaans)

Related posts