Centurion-sangeres se debuut-enkelsnit raak vernietigende verhoudings aan.

Aanhangers van die Centurion-sangeres Cheralee se voete sal behoorlik begin jeuk en koppe sal op-en-af knik as hulle na haar debuut-enkelsnit So Verkeerd luister. Die enkelsnit is in Mei vanjaar vrygestel.

Dié veelsydige kunstenaar- sy is ‘n lirieke skrywer, musikant en grafiese ontwerper – se heel eerste enkelsnit So Verkeerd is deur Gert Koevert van Fire River Studios opgeneem.

Die liedjie het soos ‘n veldbrand op sosialemedia versprei en behoort ook baie goed op radiostasies regoor die land te vaar.    

Sy het ook ‘n musiekvideo van die liedjie gemaak wat al verskeie trefslae op Youtube gekry het.

Kyk na die musiekvideo by:  https://www.youtube.com/watch?v=Jk1wzP3y5_I

Dié liedjie het ‘n sterk pop-rock aanslag en Afrikaanse musiekliefhebbers sal veral aanklank vind by die sterk melodieë, akoestiese kitaarklanke, en haar suiwer stem wat maklik vergelyk kan word met ‘n glas yskoue gehoute Chardonnay.

‘n Paar vroue sal veral met die lirieke saamstem: dit is verkeerd om in ‘n verhouding vasgevang te wees waar emosionele aftakeling en fisieke geweld deel van jou daaglikse bestaan is.  Cheralee verwoord die gevoelens sterk in die koorgedeelte van die liedjie “Ek wens ek kan dit vergeet, dit was so verkeerd om jou lief te hê.”

Hierdie inspirerende pop-rocksnit, is vir haar baie persoonlik omdat sy self uit ‘n emosioneel afbrekende verhouding ontsnap het, en daarna baie struikelblokke uit die weg moes ruim voordat sy dié liedjie kon bekendstel.

Daar is baie temas wat in die liedjie voorkom, maar die hoofboodskap is dat iemand in jou lewe kan inkom en jou vernietig,” verduidelik sy.  “Ek hoop dat hierdie lied luisteraars sal help om hulleself en diegene rondom hulle weer te respekteer, want die lewe is te kort om in ‘n slegte verhouding vasgevang te word.” 

 “So Verkeerd is gebore kort nadat ek my verhouding verbreek het. Ek het die lirieke al bykans sewentien jaar gelede geskryf, maar het eers jare later weer daaraan geskaaf tot dit ‘n melodie gevorm het.”

Sy sê sy skryf gereeld gedigte – in Engels en Afrikaans – wat sy later tot lirieke verfyn. “Ek skryf oor alledaagse dinge; liefde, en liefdesteleurstellings, ons land en gebeure. Soms put ek ook inspirasie uit rolprente en televisieprogramme.”

Cheralee het aan die Hoërskool Pro-Arte Alphenpark gematrikuleer en het daarna ‘n honneurs graad in inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

Maar sy het nog altyd gesing en is dus nie ‘n onbekende stem (of gesig) in die vermaakbedryf nie. Sy het reeds op dertienjarige ouderdom by verskeie korporatiewe geleenthede en winkelsentrums opgetree. In 2002 het sy en haar broer (sy kom uit ‘n musikale familie) ‘n Engelse rockgroep, Falisafe, gevorm. Dié groep het ‘n 10-snit album opgeneem, maar dit is nooit versprei of bemark nie, tog het die liedjies vanaf die album op Highveld 94.7 en TUKS FM se treffersparades geboer.

Die groep het ses jaar later uitmekaar gespat. Na dié ontbinding het sy saam met verskeie groepe waaronder Heteromorpha, Geuss Who, Mckenzie Blue, Spiftfire en Swa-Vé opgetree. 

Sy het drie jaar gelede besluit om haarself as ‘n solo-sangeres te vestig en het ook die kitaar bemeester waarop sy haar tydens haar vertonings begelei.

Sy het vinnig ‘n gunsteling in Pretoria en omgewing se restaurante en kroeë geword en gehore se reaksie op haar optredes was: “Jy het ‘n hemelse stem. Hoekom het jy nog nie ‘n vollengte album uitgebring nie.”  

Hieroor sê Cheralee: “Ek werk al die afgelope twee jaar aan ‘n vollengte album wat uit tien liedjies bestaan. Ek wou die album graag in April vrygstel het, maar die korona-pandemie het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Ek moes my vrystellingsdatum uitstel.” Met So Verkeerd bewys Cheralee dat sy ‘n meesterlike vermoë het om liedjies op ‘n eerlike manier te “vertel” en te interpreteer en dat sy ‘n talent het wat dopgehou moet word.

Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:

Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →