
“DIE WAARHEID MAAK SEER is daardie liedjie wat jy moet luister as jy jouself in enige verhouding bevind waarin jy besef het dat die beloftes wat aan jou gemaak is en die kanse wat jy vir die ander persoon gegee het, nutteloos is. Jammer kan ongelukkig nie altyd alles regmaak nie,” verklap SUNEL oor die betekenis agter haar derde Afrikaanse vrystelling, wat reeds besig is om musiekharte te verower.
Volgens die sangeres kan die nuutste enkelsnit, uit haar eie pen, beskryf word as ’n goedvoel-liedjie met ’n sterk boodskap waarby almal sal aanklank vind. “Soms is dit moeilik om die waarheid oor iets of iemand te aanvaar, omdat dit so seer maak. Partykeer weet ons nie waar om die streep te trek en te besluit dat dit nou genoeg is nie. Dit is die punt wat jy bereik waar jy jouself in die proses verloor,” verduidelik sy. “Alhoewel dit te doen het met emosionele uitbuiting, gee ek dit glad nie weer as ’n donker of droewige liedjie nie, maar eerder as ’n positiewe bemoediging dat jy ná die seer sterker aan die anderkant sal uitkom.”
DIE WAARHEID MAAK SEER volg kort op die hakke van die bekendstelling van haar debuut-album, Symptome, wat ’n mengelmoes van elf pragtige snitte in verskillende genres is. Alhoewel die inhoud grotendeels deur haar geskryf is, en met die hulp van Hugo Ludik, Vaughan Gardiner en Darryl De Lange getoonset en vervaardig is, is haar treffende weergawe van Sonja Herholdt se Ek Verlang Na Jou ook ingesluit op hierdie CD.
Hart Op Jou Mou, haar vorige enkelsnitvrystelling, is baie goed ontvang. Dit is ’n romantiese liedjie wat daaroor gaan om iemand so lief te hê dat daardie persoon in alle aspekte jou hart op hulle mou dra. Hart se Wens, wat ook op haar album beskikbaar is, was vir verskeie weke nommer een op SFM se Top 30-treffersparade. Die musiekvideo is ook tans op kykNET te sien.
Vanjaar vier dié musikant van Mosselbaai haar vierde jaar in die musiekbedryf. In die kort tydperk waarin sy al professioneel musiek maak, het sy reeds die verhoog met talle groot name gedeel, waaronder Chris Chameleon, Elvis Blue, Laurika Rauch, Corlea Botha, Coenie De Villiers, Steve Hofmeyr, Bobby en Karlien van Jaarsveld, om net ’n paar te noem. Verder is dié blondekop ook ’n gereelde gesig by groot musiekfeeste, soos die Dias Fees (2016, 2017, 2018, 2019), Naartjie Fees, KKNK (2016, 2017, 2018, 2019), Bravo Fees en die Bushlapa Musiekfees. Sy het ook al twee vertonings saam met Pieter Koen en Willem Botha se kykNET Skole Toer gedoen.

Die kunstenaar het oorspronklik bekendheid verwerf vir haar treffende debuut-enkelsnit, Fickle Heart, wat vir nege weke nommer een was op SFM se Top 30 en vir dertien weke bo-aan die Nederlandse radiostasie, HOSA Radio, se trefferleer gekuier het. ’n Musiekvideo van dié liedjie is deur die SAMA- en Ghoema-bekroonde vervaardiger, Ryan Kruger van A Ryan Kruger Thing, vervaardig en is reeds deur meer as twaalfduisend mense op YouTube gekyk.
SUNEL droom daarvan om nog eendag saam met groot internasionale name soos Taylor Swift, Michael Buble, Celine Dion en Ryan Tedderte werk. Met ’n hoë gehalte enkelsnit soos DIE WAARHEID MAAK SEER stel sy nie net haar vernuf as liedjieskrywer en sanger ten toon nie, maar beweeg sy ook nog ’n tree nader daaraan om een van vele toekomsdrome te verwesenlik.
Hierdie enkelsnit is beskikbaar op haar debuut-album, Symptome, hier: https://music.apple.com/za/album/symptome/1465430515
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/sunelmusic/
Instagram: @_miss_sunel
Twitter: @Miss_Sunel
BESPREKINGS

E-pos: sunelvanderlinde@yahoo.com
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za
STARBURST PROMOTIONS
Alani Coetsee – PUBLICIST