
Agt woordkunsskeppers en -fasiliteerders is gisteraand, 30 November 2020, deur die Afrikaanse Woordkunsakademie met die Orde van die Beiteltjie vereer. Die toekennings is virtueel tydens ’n beeldstroom op Facebook en op YouTube bekend gemaak wat om 19h00 uitgesaai het. ‘n Oorkonde, trofee en kontantbedrag is deel van elke toekenning.
Die gesogte Ordes van die Beiteltjie is vanjaar toegeken aan Frieda van den Heever, Ilse Oppelt, Petronel Baard, Frazer en Deniel Barry, Chrisna Beuke-Muir, Steffie le Roux en Deon Meiring.
Hulle sluit nou aan by die 31 toonaangewend woordkunstenaars wat sedert 2015 Ordes van die Beiteljie vanaf die Afrikaanse Woordkunsakademie, wat deur die Cordis Trust bedryf word, ontvang het.
Dr. Fanie Marais, Uitvoerende Trustee van die Cordis Trust, het gesê hy is oortuig die toekennings sal die ontvangers inspireer tot groter prestasie en om ander te begeester en by te staan. “Cordis Trust streef om ’n stem te gee aan die oorvloedige woordkuns-potensiaal wat daagliks beitel sonder erkenning.”
Volgens Steffie le Roux het ’n eerste toekenning ’n spesiale plek in jou huis en jou hart. “Ek is baie trots en dankbaar dat ek soveel geduld het. Om in die bedryf te wees as ’n sanger en akteur is nie altyd maklik nie. Soos jou loopbaan egter vorder kom jy tot die besef dit wat jy doen, en hoe jy dit doen, eintlik goed genoeg is. “Daarom is hierdie toekenning ’n groot eer. Dit wys daar is mense wat sien wat ek doen, wat daarvan hou, daarin glo, en dit waardeer.”
Die bekroonde sanger, liedjieskrywer en kunste-fasiliteerder, Petronel Baard, sê dit maak vir haar sin dat die kunste die wegtrekpunt behoort te wees vir gemeenskapsontwikkeling in Suid-Afrika. “Die kunste is die een plek waar ons verskille iets is wat ons vier, in stede daarvan dat dit ons skei van mekaar. Die Ordes van die Beiteltjie slaag juis daarin om dié diversiteit van woordkuns in Afrikaans te vier. Suid-Afrikaners het nog nie genoegsaam in mekaar se teenwoordigheid ontspan nie -watwou nog mekaar leer ken. Selfs meer as in sport, waar wedywering wel deel is van die natuurlike stand van sake, is die kunste die plek waar ons mekaar moet vind en kan opbou. Ons diversiteit kom tot sy reg in ’n hoogs kreatiewe gemeenskap en uitlewing wanneer ons daarop fokus.”
Die sanger, liedjieskrywer en digter, Deon Meiring, het gesê skeppende werk, soos woordkuns, kan soms eensaam wees. ’n Toekenning soos die Orde van die Beiteltjie is ’n manier om met die wêreld kontak te maak en om ’n brug tussen die kunstenaar en ander mense te bou. “Dis een van die rigtingwysers wat aanwys jy is op die regte pad en jy moet aanhou om dit te doen. Dít vra dapperheid. Baie keer raak mens ontmoedig en wonder jy of die wêreld nodig het wat jy doen? Kan jy nie iets meer sinvol met jou tyd doen nie? Maar as iets soos die Beiteltjie-toekenning egter op jou pad kom, is dit asof iemand die beiteltjie in my hand sit en sê: ‘maak nóg iets daarmee’.”
Volgens Frazer en Deniel Barry van Tribal Eco-faam het Afrikaans van die straat na die boeke en weer terug na die straat gespring. “Dit maak ons baie opgewonde. Daar is nou meer erkenning vir streeksdialekte en dit beteken mense kan weer dig en stories skryf in hulle eie dialek.”
Frazer en Deniel is internasionaal bekende musikante, skrywers en kunsteontwikkelaars en is reeds met verskeie bedryfspryse vir hulle skeppende werk bekroon. Volgens Frazer is die naam van die orde, “beiteltjie” heel gepas. “Ons in Suid-Afrika werk nog aan ons erfenis. Ons beitel altyd die regte woorde uit ons lyf uit. Dit is vir ons ’n groot eer en voorreg om die toekenning te kan ontvang.”
Die bekende radio-omroeper en regisseur, Frieda van den Heever, wat onder meer die weeklikse programme “Vers en Klank” en “Kortom” op RSG aanbied, het gesê sy is dankbaar dat die Cordis Trust mense hoop gee en nie die geestesdimensie vergeet waarmee ons besig is nie.
“Ons het ’n spesiale taak as mense wat Afrikaans praat om hierdie boodskap van hoop en van radikaal verskil, terwyl ons ons verskille moet en mag vier,te bring.”
Die bekroonde skrywer, dramaturg en akteur Ilse Oppelt het gesê sy dink nie die publiek weet altyd hoe hard Afrikaanse skrywers baklei vir Afrikaans se waardigheid en voortbestaan nie. “Daarom aanvaar ek dié toekenning namens al my kollegas wat nooit bedank word, óf erkenning kry nie. Ek wil ook die Beiteltjie opdra aan my pa, Neil Oppelt. Dis die man wat my liefde en passie vir Afrikaans aangewakker en gevoed het op ’n daaglikse basis. Hy het my blootgestel aan die wonderlike unieke klanke, ritmes, beeldrykheid, metrum en al hierdie dinge. Wat ek besef het is dat my liefde en passie vir Afrikaans geensins aangeleer is nie, maar ingebore.”
Dr. Chrisna Beuke-Muir, senior lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Namibië en stigter van die Windhoek Woordfees, het gesê die internasionale mark beskou dikwels Namibië as bydraend tot Afrikaans en Suid-Afrika as die kern van die Afrikaanse taal. “Dikwels word buite sig gelaat watter dimensie Afrikaans in Namibië aan die groter prentjie van Afrikaans gee.” Volgens haar bewys die Orde van die Beiteltjie vir 2020, waarmee sy vereer is, juis die uitnemende rol van woordkunstenaars in Namibië. “Die toekenning is ook ’n toekenning aan die digters en die kortverhaalskrywers van die bundel ‘Land onder Woorde’.” Die bundel is deur Chrisna saamgestel en uitgegee deur Cordis Trust.
Die toekennings wat op Cordis Trust se Facebookblad
http://www.facebook.com/cordistrustwww.facebook.com/cordistrust en
YouTube-kanaal https://bit.ly/cordisYT, gebeeldstroom is kan steeds hier gekyk word. Besoek gerus die platforms om dit te kyk.
Hier volg nou inligting en fotos van elke wenner:
AFRIKAANS SE VERANDERING IS TEENVOETER VIR STAGNASIE – DR. CHRISNA BEUKE-MUIR

“Namibië beskik oor digters en skrywers wat met Afrikaans kan toor.”
Dr. Chrisna Beuke-Muir, senior lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Namibië en stigter van die Windhoek Woordfees, het gesê die internasionale mark beskou dikwels Namibië as bydraend tot Afrikaans, en Suid-Afrika as die kern van die Afrikaanse taal.
“Dikwels word buite sig gelaat watter dimensie Afrikaans in Namibië aan die groter prentjie van Afrikaans gee. Die waarde word ook bewys in die bundel ‘Land onder Woorde’ waarin 14 digters en 12 kortverhaal skrywers omgaan met die hartklop van die lewe in ons mooie dorre land.”
Volgens Chrisna bewys die Orde van die Beiteltjie vir 2020, waarmee sy pas vereer is, juis die uitnemende rol van woordkunstenaars in Namibië. “Die toekenning is ook ’n toekenning aan die digters en die kortverhaalskrywers van ‘Land onder Woorde’. Vir my is die toekenning ’n stootjie in die rug wat my vorentoe laat beweeg vir die dag as ek nie so seker is van myself nie. Ek is gelukkig om met Afrikaans, die taal van my ma, my brood te verdien. Behalwe as sê-instrument in ons hande, staan ons taal wydsbeen oor twee kontinente. Dit maak dat ek huil as ek in Nederland in ’n katedraal na klassieke musiek luister, en dat my hart ruk van ekstase as ek terugkom op die lughawe in Namibië en ek hoor die tromme van Afrika en my eie klanke.”
Volgens Chrisna is die indruk dat Afrikaans ‘n maklike taal is, nie noodwendig reg nie. “Dat Afrikaans verander, is wel ’n feit. Verandering is ’n teenvoeter vir stagnasie en inperking. Al dié aspekte saam maak die toekenning vir my ontsettend besonders.”
BEITELTJIE IS ’N RIGTINGWYSER – DEON MEIRING
“Dit is een van die rigtingwysers wat aanwys jy is op die regte pad en jy moet aanhou om dit te doen.”
Die sanger, liedjieskrywer en digter, Deon Meiring, het gesê skeppende werk, soos woordkuns, kan soms eensaam wees. ’n Toekenning soos die Orde van die Beiteltjie vir 2020, waarmee hy pas bekroon is, is ’n manier om met die wêreld kontak te maak en om ’n brug tussen die kunstenaar en ander mense te bou.
“Dit vra dapperheid. Baie keer raak mens ontmoedig en wonder of die wêreld nodig het wat jy doen? Kan jy nie iets meer sinvol met jou tyd doen nie? Maar as iets soos die Beiteltjie-toekenning egter kom, is dit asof iemand die beiteltjie in my hand sit en sê: ‘maak nóg iets daarmee’.”
Deon, wat bekendheid verwerf het met die Afrikaanse rockgroep Glaskas, se nuutste musiek is die tema-musiek van die reeks Kompleks op Kyknet. Hy stuur ook weekliks ’n “brief” uit in teks en video op e-pos en sosiale media. “Ek skryf ’n brief sonder ’n koevert en sonder ’n adres en ek glo dit sal sy altyd sy bestemming bereik. Dit is hoe dit is om liedjies en gedigte te skep. Baie keer skryf jy dit, maar jy weet nie by wie dit gaan beland nie. Daarom is die rigtingwysers langs die pad nodig.”
Volgens Deon is hy opgewonde hoe Afrikaans al wyer word en verdiep. “Afrikaans is so divers en kom uit verskillende gemeenskappe, mense, ouderdomme en kulture wat in Afrikaans praat, skryf en skep. Dit maak my opgewonde. Om met ’n Beiteltjie raakgesien te word, beteken regtig baie.”
MENSE KAN WEER DIG EN STORIES SKRYF – DENIEL EN FRAZER BARRY
dav
“Afrikaans het van die straat na die boeke en weer terug na die straat gespring.”
Dít, sê Frazer en Deniel Barry van Tribal Eco-faam, maak hulle baie opgewonde. “Daar is nou meer erkenning vir streeksdialekte en dit beteken mense kan weer dig en stories skryf in hulle eie dialek.”
Frazer en Deniel is pas met ’n Orde van die Beiteltjie vir 2020 vereer. Hulle is internasionaal bekende musikante, skrywers en kunsteontwikkelaars – werk reeds 13 jaar saam – en is reeds met verskeie bedryfspryse vir hulle skeppende werk bekroon.
Volgens Frazer is die naam van die orde, “beiteltjie” heel gepas. “Ons in Suid-Afrika werk nog aan ons erfenis. Ons beitel altyd die regte woorde uit ons lyf uit. Dit is vir ons ’n groot eer en voorreg om die toekenning te kan ontvang.”
Deniel vertel hoe hulle musiek – alles in Afrikaans – gesetel is in die wye spektrum Afrika-klanke soos die genres van die Khoi-klanke, Boesman-boog-en-riet, die Bolandkoortjies, Langarm, Boere-musiek, Kaapse Jazz en die Ghoema.
CORDIS TRUST BRING HOOP MET BEITELTJIES – FRIEDA VAN DEN HEEVER
“Ek kan nie dink aan iets meer betekenisvol as Cordis Trust se doelstelling om ‘deernisvol te skep in Afrikaans en geesteshoop te bring’ en dat die Orde van die Beiteltjie daarvolgens toegeken word nie.”
Die bekende radio-aanbieder en regisseur, Frieda van den Heever, het pas na sy met die Orde van die Beiteltjie vir 2020 vereer is, gesê sy kan nie haar lewensleuse op ’n beter manier verwoord nie en as sy dié doelstelling van die Cordis Trust op enige manier regkry, is sy baie dankbaar.
“Vir my, omdat ek om ’n rede hier in ons land gebore is – en Afrikaans praat – om ’n rede, is dit die taal waarin ek werk. Soos NP van Wyk Louw gesê het is daar iets in ons kultuur en ons taal wat die kultuur en die lig en verligtheid van Wes-Europa én dan die magiese van Afrika vermeng. Sellulêr en serebraal binne-in ons. Ons het ’n spesiale taak as mense wat Afrikaans praat. Ons dra dit al klaar in ons taal om hierdie boodskap van hoop en van radikaal verskil – maar dat ons ons verskille moet en mag vier – te bring.”
Frieda, wat onder meer die weeklikse programme “Vers en Klank” en “Kortom” op RSG aanbied, het gesê sy is dankbaar dat iemand soos Dr. Fanie Marais, Uitvoerende Trustee van die Cordis Trust, mense hoop gee en nie die geestesdimensie vergeet waarmee ons besig is nie. “Ook om in ’n jaar soos 2020 die teater van die lewe te vier en dit na mense toe te bring.”
BEKROONDE DRAMATURG EN AKTEUR VEREER MET BEITELTJIE – ILSE OPPELT

Die bekroonde skrywer, dramaturg en akteur Ilse Oppelt is een van die woordkunstenaars wat pas met ’n Orde van die Beiteltjie vir 2020 vereer is.
“Ek dink nie die publiek weet altyd hoe hard Afrikaanse skrywers baklei vir Afrikaans se waardigheid en voortbestaan nie. Daarom aanvaar ek dié toekenning namens al my kollegas wat nooit bedank word, óf erkenning kry nie. Ek wil ook die Beiteltjie opdra aan my pa, Neil Oppelt. Dis die man wat my liefde en passie vir Afrikaans aangewakker en gevoed het op ’n daaglikse basis. Hy het my blootgestel aan die wonderlike unieke klanke, ritmes, beeldrykheid, metrum en al hierdie dinge. Wat ek besef het is dat my liefde en passie vir Afrikaans geensins aangeleer is nie, maar ingebore.”
Ilse is reeds wyd bekroon vir onder meer toneelspel en skryfwerk aan die sepie Suidooster en ander televisie-dramas en films. Sy tree ook gereeld op as woordkuns- en toneelspelbeoordelaar.
KUNSTE MOET WEGTREKPUNT WEES VIR GEMEENSKAPSONTWIKKELING – PETRONEL BAARD

Die kunste is die een plek waar ons verskille iets is wat ons vier – in stede daarvan dat dit ons skei van mekaar. Die Ordes van die Beiteltjie slaag juis daarin om die diversiteit van woordkuns in Afrikaans te vier.
Die bekroonde sanger, liedjieskrywer en kunste-fasiliteerder, Petronel Baard, wat pas met ’n Orde van die Beiteltjie vir 2020 vereer is, sê dit maak daarom vir haar sin dat die kunste die wegtrekpunt behoort te wees vir gemeenskapsontwikkeling in ons land.
“Suid-Afrikaners het nog nie genoegsaam in mekaar se teenwoordigheid ontspan nie – watwou nog mekaar leer ken. Selfs meer as in sport – waar wedywering wel deel is van die natuurlike stand van sake – is die kunste die plek waar ons mekaar moet vind en kan opbou. Ons diversiteit kom tot sy reg in ’n hoogs kreatiewe gemeenskap en uitlewing wanneer ons daarop fokus.”
Volgens Petronel waardeer sy dié toekenning juis vir die groot rol wat Cordis Trust en sy Woordkunsakademie in die ontwikkeling van kuns en kultuur speel. “Ek dink die bydrae wat Dr. Fanie Marais en sy familie maak is ongeëwenaar. Veral as mens dink dit is ’n individue, ’n famile, wat uit hulle eie pyn uit, uit die hart van een, soveel palette van kuns ondersteun. Die skatkis wat Cordis Trust ontwikkel, en ook die nagedagtenis van die woorde van Mardene Marais, is iets waaroor ek baie passievol is en ek glo dit sal nog neerslag sal vind in my toekomstige albums en gedigte.”
Petronel, wie se loopbaan met ’n ATKV-Crescendo afgeskop het, is vandag ook lid van die Wes-Kaapse Kultuurkommissie, die Tuinroete Filmkommissie en dien ook op die Theatre Collective wat genooi was om voorleggings oor die kunstebedryf aan die verkose komitee van die nasionale parlement te doen.
“In my taal is ek tuis, ek skryf daarin, dig en maak musiek in Afrikaans. Ek hou van hoe Cordis Trust groter dink en inklusief oor Afrikaans is. Dis ’n groot voorreg om daarom dié toekenning van hulle te mag ontvang, en dit is vir my en die ander ontvangers ’n groot aanmoediging.”
MENS DROOM HIEROOR – STEFFIE LE ROUX

“’n Eerste toekenning het ’n spesiale plek in jou huis en jou hart.”
Só het die sanger, liedjieskrywer en akteur, Steffie le Roux, gesê pas nadat sy met een van die Ordes van die Beiteltjie vir 2020 deur die Afrikaanse Woordkunsakademie van die Cordis Trust bekroon is.
“Jy droom daaroor om ’n toekenning te ontvang as jy klein is. Dat ek nou ’n eerste toekenning ontvang, is vir my regtig ’n groot oomblik.”
Volgens Steffie is dit vir haar ’n voorreg om in Afrikaans te kan werk en te kan skep. “Ek is Afrikaans, het op Oudtshoorn grootgeword in ’n goeie gemeenskap , en ek dink nie daar is ’n lekkerder en mooier taal as Afrikaans nie. Dit praat, sê, vertel en voel só lekker. Ek is baie trots en dankbaar dat ek soveel geduld het. Om in die bedryf te wees as ’n sanger en ’n akteur is nie altyd maklik nie, maar dit is tog ook ’n lekker en goeie pad om te stap. Jy leer baie, en ontmoet wonderlike mense.”
Volgens Steffie kom jy soos jou loopbaan vorder tot die besef dat dit wat jy doen, en hoe jy dit doen, eintlik goed genoeg is. “Daarom is hierdie toekenning ’n groot eer. Dit wys daar is mense wat sien wat ek doen, wat daarvan hou, daarin glo, en dit waardeer.”
Dr. Fanie Marais, Uitvoerende Trustee van die Cordis Trust en Surita Marais.
SOSIALE MEDIA SKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/petronelbaardofficial/
Twitter: @PetronelBaard
Instagram: @petronelbaardmusic
Webblad: www.petronelbaard.com
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCKZN7LSwYxmt1wK9I6PgXBA
SoundCloud: https://soundcloud.com/petronel-baard
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Gizela Arndt
Sel: 083 399 6869
E-pos: gizela@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za