Taalmonument vereer skrywers van nuwe Arabies-Afrikaanse werke. Kriel, Alexander en Chilwan wen R10 000; gehalte van inskrywings beïndruk

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het op 3 Desember 2020 drie skrywers van nuwe Arabies-Afrikaanse werke met R10 000 beloon vir hul uitstaande bydrae tot hierdie unieke skryftradisie. Ter ere van Versoeningsmaand, die afskaffing van slawerny asook die bydrae van Arabies-Afrikaans tot die taal se wording, is ʼn geselligheid in die Paarl gehou waartydens die algehele wenner, Gasan Kriel, asook twee naaswenners, Mogamat Alexander en Tasneem Chilwan, aangekondig is. Prof Hein Willemse, redakteur van ‘Die Afrikaans van die Kaapse Moslems’, het ook ʼn kort lesing lewer waarna vrae uit die gehoor gestel is en kommentaar gelewer is.

Volgens die beoordelaar – dr. Shamiega Chaudhari, kenner van Arabies en hoof van die Departement van Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare – was dit ʼn groot eer om hierdie kompetisie te kon beoordeel. “Dit het my hartsnare geroer dat mense, selfs van heinde en verre, wel daarin belangstel. Ek wil graag ook net vir almal wat ingeskryf het gelukwens. Hoewel hulle nie almal in die wennerskategorie kon wees nie, is hulle wenners in my oë. Dit was werklik baie naelskraap,” sê sy. 

As deel van die instelling se 45ste verjaardag het die ATM ʼn kompetisie geloods waardeur Afrikaanse tekste in Arabiese of Jawiese (Arabies soos aangepas om spesifieke Afrikaanse klanke weer te gee) skrif getranslitereer kon word. Die positiewe reaksie en talle inskrywings – van religieuse tekste, oorspronklike werke oor Afrikaans en kwessies soos ubuntu tot die lirieke van Spoegwolf en Refentse – bewys dat daar steeds ʼn groot belangstelling in Arabies-Afrikaans is. Boonop is van die meer as 40 inskrywings vanuit lande soos Duitsland, Oostenryk en Saoedi-Arabië ontvang, wat werklik ʼn pluimpie vir die Taalmonument se internasionale aanlyn-teenwoordigheid is.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die missie van die instelling om onder meer die versweë geskiedenisse van Afrikaans te belig en die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. “Daarom moedig ons mense aan om ook op hierdie manier hul deelname aan die taal te herbevestig,” sê hy. “Ons wil graag sien dat die Afrikaanse gemeenskap hierop voortbou.” 

Chaudhari het die volgende opmerkings oor die wenners gehad:
1) Gasan Kriel (mediaverklaring) – Die inskrywing was feitlik foutloos. Uitstekende gebruik van ‘harakaat’ (kort vokaalmerke) en diakritiese tekens wat die fonetiese uitspraak korrek weergee. Die stuk is leservriendelik. Werklik ʼn uitmuntende werkstuk met baie detail.
2) Mogamat Alexander (Kaapse Moesliems/Afrikaans)– Dit was ʼn groot plesier om hierdie werkstuk te beoordeel. ʼn Wel-uiteengesette stuk wat maklik leesbaar is. 
2) Tasneem Chilwan (aanhalings van Taalmonument se bouers) – Haar werk van is noemenswaardig en van kardinale belang, want dit lê ʼn belangrike stuk geskiedenis oor die ambagsmanne wat die Taalmonument opgerig het, vas. Dalk kan julle net ons dank betuig aan al die mense wat betrokke was by die oprig van die monument. 

Sy het ook MF Gamieldien (Heilige Quran), Mogamat Armien Slamang (oorspronklike stuk oor ‘geluk’) en Luqmaan Mohamed (‘Gedagtes van die nie-arbeider’ deur Louis

Esterhuizen) se inskrywings uitgelig as indrukwekkende voorbeelde van Arabies-Afrikaans. 

Arabies-Afrikaans word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle geskrifte – soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte – het behoue gebly; tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is, deur kundiges ontdek en geïdentifiseer. Hieronder tel uitstekende voorbeelde van die vroegste Afrikaanse literatuur. Daar word boonop vermoed dat heelwat onopgetekende Arabies-Afrikaanse geskrifte in privaatbesit is.

Die aand het Versoeningsmaand gevier en spesifiek die vrystelling van slawe aan die Kaapkolonie in Desember 1834 in herinnering gebring. Heerlike Kaapse halaal verversings, nóg ʼn bydrae deur die Afrikaanse Moslemgemeenskap, is bedien. Die beste 12 inskrywings sal binnekort in die monument se Groen Galery uitgestal word waar die Romeinse en Arabiese/Jawiese weergawes van dieselfde Afrikaans teks naas mekaar sal verskyn. Meer inligting by www.taalmuseum.co.za/arabies-afrikaans/

Vir meer inligting oor die opwindende geleenthede soos die musiekfeeste, pieknieks en gesprekke, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Jaarpermitte (tans teen 20%-afslag) is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

(Bron: https://af.wikipedia.org/wiki/Arabiese_Afrikaans)

Jeffrey Pietersen
Assistent: Geleenthede en Kommunikasie
Assistant: Events and Communication
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument
T +27 (0)21 872 3441
F +27 (0)86 231 7324/+27 (0)21 872 3642
E bemarking2@taalmuseum.co.za
W www.taalmuseum.co.za | www.taalmonument.co.za
F www.facebook.com/afrikaansetaalmonument
T www.twitter.com/taalmonument
www.instagram.com/taalmonument



About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →