Dalene Genis se debuut album “Don’t Close Your Eyes” is op 15 Desember 2020 vrygestel!

Binnekort gaan die naam Dalene Genis op almal se lippe wees, alhoewel sy al ‘n dekade in die musiekbedryf is, is haar debuut album nou vrygestel en werk sy aan ‘n pragtige nuwe Afrikaanse enkelsit wat in 2021 vrygestel sal word.

 Wanneer ek na ‘n liedjie van Dalene Genis luister en haar mooi stem en musiek die kamer vul, kry ek hoendervleis . Dalene sing al 10 jaar professioneel en tree die laaste 10 jaar saam met Bobby Angel, Billy Forrest, Dennis East, Clive Bruce, Barbara Ray, Sally Vaughn, Jody Wayne en Eddie Eckstein op. Dalene tree ook gereeld op by feeste asook venues in Suid Afrika.

In 2014 het Dalene ‘n 12-dae toer in Namibië gedoen saam met Dennis East, Bobby Angel en Billy Forrest.

In 2019 wod Dalene genooi om by die Grootfontein Kuierfees op te tree in Namibië.

Tans werk Dalene en Dennis East saam onder ‘n konsep naam COUNTRY MEETS ROCK

 Dalene Genis is al genooi deur Die Country Music Association van Swaziland om tydens een van Country Jamboree aande op te tree. 

Olka Bolka Tydskrif het in ‘n onderhoud bietjie meer van Dalene uitgevind.

Waar is jy gebore en het jy grootgeword?

 Ek is in Thabazimbi gebore en toe ek ongeveer 3 jaar oud was het ons na ‘n klein Plattelandse dorpie, Breyten, toe getrek.  Ek het daar grootgeword en laerskool daar bygewoon en my skoolloopbaan by Ermelo Hoërskool afgesluit.

Het jy naskool gaan studeer, indien wel wat?

Spel Terapie en Bybelgefundeerde/Pastorale Berading

Vertel my van jou nuutse enkelsnit?

 Ek het die voorreg gehad om onlangs my debuut Country album te voltooi met 12 pragtige liedjies daarop.  Die titelsnit van die album “Don’t Close Your Eyes”, is dan ook aan radio stasies landwyd gestuur om as enkelsnit gespeel te word as voorbrand vir die albumvrystelling.  

“Don’t Close Your Eyes” is oorspronklik opgeneem en vrygestel deur die baie bekende internasionale sanger, Keith Whitley, en dit vertel die verhaal van ‘n nuwe liefde wat moet kompeteer met die herinneringe aan ‘n eerste liefde. 

Skryf jy self jou liedjies?

 Ek het geen van die liedjies op hierdie album geskryf nie, maar ek was bevoorreg om onlangs saam met Dennis East te werk aan die lirieke van ‘n Afrikaanse liedjie vir ‘n ander kunstenaar.  Ek het beslis planne om iets vir myself te skryf in die nabye toekoms.

Het jy enige stokperdjies?

Ek is baie kunstig en geniet dit om ‘Arts & Crafts” te doen en om ook antieke meubels te restoureer. 

Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?

Ek kom self uit ‘n baie seerkry verlede en daarom het ek ‘n groot passie vir mense en veral vir kinders, se seerkry.   Ek probeer om, waar ek ookal gaan, ‘n verskil te maak in mense se lewens.  Wat jy sien, is wat jy kry.  Ek het geen aansitterigheid nie en ek sien neer op niemand.  Arm of ryk, oud of jonk.  Ons is almal kinders gemaak deur ons Vader en daarom verdien ons elkeen om met waardigheid behandel te word en erkenning te kry vir wie ons is en wat ons het om te bied. 

Som jou musiekstyl in een sin op?

Ek is ‘n storie mens.  Ware verhale en dinge wat ‘n realiteit is in ons wêreld is wat my na aan die hart lê.  Daarom het ek ‘n groot liefde vir Country musiek.  Dit vertel die storie van die lewe.  

Watter invloed wil jy hê moet jou musiek op mense het?

 Ek wil hê mense moet ‘n liedjie hoor en dink: “As ek ‘n liedjie kon skryf oor my lewe en wat ek voel en ervaar sou dit hierdie liedjie gewees het”.  Dit is vir my belangrik dat dit ‘n lekker ritme het en dat mense die musiek en lirieke kan geniet.  En Country musiek het daardie lekker, warm om die hart, gevoel. 

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

 Ek het ook baie foute gemaak in my lewe en duur lesse geleer

Waarmee is jy op die oomblik besig?

 Ek is tans besig met die bemarking van my nuwe CD en om konserte regoor die land te reël sodat ek hierdie musiek kan bekendstel.  Covid19 maak dit moeilik. 

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

Ek was onlangs baie ernstig siek en dit het my vir ‘n jaar van balans afgegooi.  Tydens hierdie herstelproses het ek besef hoe belangrik dit is dat jy doen waarvoor jy lief voordat dit te laat is.  Daarom werk ek hard aan die sukses van my nuwe album en is ek ook reeds besig om nuwe materiaal vir ‘n opvolg album bymekaar te maak.  Daar gaan baie werk in die voorbereiding van ‘n album in en dit gaan beslis nog ‘n jaar neem voordat ons gereed sal wees vir opnames vir ‘n nuwe album.  

Ek is ook besig om te werk aan ‘n Afrikaanse enkelsnit wat in die eerste kwartaal van 2021 vrygestel sal word 

Wat inspireer jou?

Mense wat liefhet en vergewe sonder voorwaardes.  Ek is nogal geneig om voorwaardes te stel wanneer ek seergemaak is om myself te beskerm.  ….. belangrik is dat jy doen waarvoor jy lief IS!

As jy saam met enige iemand in die wêreld kan sing, wie sal dit wees en hoekom?

Internasionale Country sanger, Lorrie Morgan.  Sy is een van daardie sterre wat nooit regtig die erkenning gekry het wat sy verdien nie.  Sy was getroud met Keith Whitley en het tot sy dood toe, in sy skaduwee geleef en nooit werklik as sanger die geleenthede gekry wat sy verdien nie. 

Die afgelope maande was baie moeilik vir almal in die vermaaklikheidsbedryf met Covi19. Hoe het jy dit ervaar ?

Gedurende hierdie tyd het ek ook my eie herstelproses na ‘n baie ernstige siekbed, met baie uitdagings en terapie, deurgemaak.  Ek kon as gevolg daarvan in elk geval nie sing nie.  Maar nietemin het Covid19 ook my lewe beïnvloed.  Dit was egter ook ‘n tyd van groei, geestelike versterking en ‘n nuwe bou aan verhoudinge, kwaliteit tyd met my gesin en diepe introspeksie

Met Covid19 het daar heeltemal ‘n verandering in ons alaml se lewens gekom en ons moet nou buite die boks dink om veral in die vermaaklikheidsbedryf te kan oorleef, wat gaan jy anders doen om seker te maak dat jy as sangeres nog steeds ‘n inkomste uit jou musiek kan maak?

Ek het beslis meer bewus geraak daarvan dat musiek maak, nou meer as ooit, nie ‘n soustrein is waarop jy kan ry nie.  Venues het ook baie swaargekry en verliese gedra.  Ek het net besef dat ek vir kleiner, aanvaarbare fooie sal moet optree en eerder meer besprekings op so manier moet kry as om aan te dring op spesifieke fooie en geen werk te hê nie.  Ek wil werk.  Ek wil sing.  Ek het na die mense en hul liefde en vriendelike gesigte, verlang.  Dit meer as die geld, is vir my belangrik.

Wat is jou gunsteling:

Musiek – Country en Gospel

Sangeres – Lorrie Morgan

Band – Die Kalaharie Boere Orkes

Gunsteling liedjie – Elvis Blue se Die Hemel

Rolprent – Ek geniet al die ou Afrikaanse Flieks op Dstv 149

Akteur – Hugh Grant

Aktrise – DonnaLee Roberts

Reeks – Blue Bloods

Kos en drankie – Amarula op fyn ys so af en toe / Chinese Sweet & Sour Beef

Ontspanning – Lees, Lees, Lees

Boek – My Bybel

Vakansie bestemming – Enige plek by die See

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.

Mense wat skynheilig is

As kinders mishandel word

As arm mense sleg en met minag behandel

As iemand hul wil op my probeer afdwing

Dalene het haar debuut album “Don’t Close Your Eyes” op 15 Desember vrygestel en is tans op bestelling beskikbaar.

 Dalene Genis Sanger: Sosiale media : Facebook, Instagram, LinkedIn

My selfoon en epos adres vir besprekings :

wegatherevents@yahoo.com

+27 82 651 6817

Related posts