LEN MULLER SE LANGVERWAGTE NUWE ALBUM IS OORGENOEG!

“Hierdie album is my getuienis van soveel hemelse genade en guns wat ek die afgelope tyd kon beleef, ten spyte van al die uitdagings,” sê die talentvolle musikant en liedjieskrywer, Len Muller, oor sy derde ateljee-album waarvoor bewonderaars al so lank wag.

OORGENOEG is ’n dertiensnit-album wat die seisoen waarin die sanger homself tans bevind verteenwoordig en geïnspireer is deur sy huwelik, geloof, familie, vriende en die see. Dit het drie jaar gevat om op te neem en kan beskryf word as ’n mengsel van akoestiese Folk en moderne elektroniese klanke, wat dit ’n interessante popgevoel gee.

Saam met die album, het hy ook pas ’n nuwe enkelsnit utgereik met die naam HARTKLOP. Die liedjie, wat spog met ’n moderne popklank, gaan oor hoe die donker tye in jou lewe help om jou geloof te slyp. “Vir my gaan dit oor Johannes 5: 19. God se hartklop is my beskerming, solank ek daaraan vashou,” vertel Len wat dit beskou as sy beste werk nóg is. “Dis moeilike tye wat ’n mens weer op jou knieë bring waar jy rus kan vind op die Skepper se borskas. Die hele album praat maar oor intimiteit wat ek beleef in my verhouding met Hom. HARTKLOP is deel van my getuienis dat ek nie sonder die Hemelse Vader sal kan oorleef nie.”

Volgens die sanger behoort hierdie snit baie gewild te wees, omdat dit anders is as sy gewone styl. “Dis nie net van Gideon Botes se beste werk as vervaardiger nie, maar ook ’n baie nuwe en opbouende klank in die Afrikaanse musiekbedryf. Ek hou van ’n uitdaging en ek dink dit het gewerk want ek kan dit nie ophou luister nie. Daar is net iets aan die lied wat in mense se kop vassit.”

Die titelsnit, wat in 2019 vrygestel is, is baie goed ontvang en kan steeds oor die radio gehoor word. Dit is ’n treffende Afrikaans-akoestiese verwerking wat sy vaardighede as liedjieskrywer en sanger behoorlik ten toonstel en is ook die eerste liedjie waarop hy saam met sy sussie, Miemie Blaauw, sing.

Heildronk, wat kort daarna gevolg het, was ewe gewild onder oud en jonk. Nie net het dié snit, wat gaan oor goeie tye en samesyn, bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier nie, maar die musiekvideo is ook reeds deur ’n paar duisend mense op YouTube gekyk. 

Sy derde enkelsnit, Toevlug, wat hy saam met Stella (Christelle Combrink) geskryf het, is ’n inspirerende nommertjie wat luisteraars hoopvol maak oor die toekoms en tans steeds op die trefferparades van verskeie radiostasies landswyd pryk. Die musiekvideo is tydens grendeltyd verfilm en vrygestel en sluit skote in van Len in sy tuis-ateljee, Stella op haar plaas en ander natuurtonele in en om die Kaap.

Buiten vir die enkelsnitte wat reeds met luisteraars gedeel is, bevat die album ook drie ou gehoor-gunstelinge as bonussnitte, ’n nuwe verwerking van sy treffer – Winter – waarop Joshua na die Reën klavierspeel en verskeie nuwe oorspronklike liedjies wat hy met die hulp van musiekvriende soos Jattie de Beer, Stella en Faraway George geskryf het.

As jy hom uitvra oor sy gunstelinge, verklap hy dat daar baie is om uit te kies en dat hy regtig trots is op elke snit op die album: “Ek hou baie van hoe ‘Klei’ uitgekom het, want die lirieke en melodie kommunikeer die emosie van die lied so mooi.”

Sedert Len sewe jaar gelede met sy solo-loopbaan begin het, was daar voorwaar baie hoogtepunte op sy pad. Hy het nie net die geleentheid gekry om saam met groot name soos Stef Bos te werk nie, maar ook om twee suksesvolle albums en sy eie kortspeelplaat – met akoestiese verwerkings van sy bekendste liedjies – uit te reik.

Verder was by ook bevoorreg genoeg om die verhoog met groot name soos Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Musiek Soos Grond, Francois van Coke, Straatligkinders, Jan Blohm, Bok van Blerk, Chris Chameleon, Jak de Priester, Andriëtte Norman en Dan Patlansky te deel en homself as liedjieskrywer te vestig.

Sy treffer, Vrede, is gebruik as die temalied vir die sterbelaaide (Bobby van Jaarsveld, Lea Vivier, Sandra Prinsloo, Crystal-Donna Roberts, Reynardt Slabbert en Solomon Cupido) kykNET-sitkom, Mense Mense, wat in Maart 2018 op die kassie begin wys het. Die liedjie is in dieselfde jaar benoem vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir Liedjie van die Jaar.

Die veelsydige blondekop ster het einde 2019 na die Kaap verhuis en voel bevoorreg om elke dag op sy branderplank af te skop. Hy beplan om in 2021 te fokus op sy nuwe agentskap wat ander kunstenaars bestuur, soos Juan Boucher en Danie du Toit (Reënwolf) en om optredes te doen om sy nuwe musiek met aanhangers te deel. Hy is ook besig om liedjies vir Caroline Grace en Kurt Darren te skryf en is lid van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond, saam met Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds, wat in 2019 gestig is en steeds per geleentheid saam optree.

Volgens Len, bied OORGENOEG ’n meer moderne klank as waaraan luisteraars gewoond is, sonder om afbreek te doen aan die rou eerlikheid waarvoor hy bekendheid verwerf het. “Jattie de Beer en Gideon Botes doen, as vervaardigers, regtig van hulle beste werk op hierdie album en dis ’n voorreg om my musiek deur hulle te laat verwerk,” sluit hy af.

LYS VAN SNITTE

Hartklop

Heildronk 

Toevlug (saam met Stella)

Verlange 

Redes (saam met Faraway George)

Klei

Oorgenoeg 

*Winter 

Nuwe Horison 

Verdwyn 

Bonussnitte: 

Sing vir Sente (Akoesties)

Ek Glo (Akoesties) 

Nuwe Horison (Akoesties)

Die album is beskikbaar op alle digitale platforms.  Laai dit hier af: https://ditto.fm/lm_oorgenoeg

Olka Bolka het ook ‘n onderhoud met Len Muller gehad om meer van hom uit te vind:

Waar is jy gebore en het jy grootgeword? 

 Gebore Newcastle,Kwazulu Natal en skool klaar gemaak in Richardsbaai. 

Het jy naskool gaan studeer, indien wel wat? 

Ja ek het 5 jaar Teologie studeer terwyl ek gewerk het (BTH Graad) maar het nie klaar gemaak nie.

Hoe en wanneer het jy in die musiek bedryf beland? 

Ek is genader om by die heel eerste Dolosfees in my tuis dorp Richardsbaai op te tree en daar het ek vir die eerste keer my eie oorspronklike afrikaanse liedjies geskryf en opgevoer. Ek het ek saam met my band daardie tyd ‘n musiek video op MK89 kanaal gekry waarna ons by feeste begin optree het. Die plate maatskappy Broken Records het ons genader vir moontlik kontrak maar die voorwaarde was dat ons moet stad toe trek. Die band kon nie die skuif maak nie so toe bedank ek my werk en trek self stad toe. Kort daarna stel ek my debut solo/album bekend wat heelwat Ghoema en Huisgenoot Tempo nominasies sou los slaan. My eerste enkelsnit ‘Smag na Jou’ is gebruik vir die afrikaanse film ‘Strikdas’ en daarna was musiek my werk. 

Vertel my van jou nuutse enkelsnit? 

My nuutse enkelsnit se naam is ‘Hartklop’ en dit is geskryf in samewerking met my vervaardiger Gideon Botes. Ons wou graag ‘n meer moderne klank in afrikaans probeer maar met dieselfde dieper boodskap waarvoor my musiek bekendstaan. Die lied was heeltemal buite my gemaksone maar ek dink tog dit help skuif aan ‘n paar grense vir hoe musiek kan klink in afrikaans. 

Skryf jy self jou liedjies?

 Ek skryf die meerderhied van my liedjies self maar geniet ook om saam met vriende te skryf en by hulle te leer. 

Het jy enige stokperdjies?

 Yes ek het baie! Stap roetes en Surfing is my gunsteling op die oomblik!

Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?

 Ek is ‘n man vir my vrou, Pa vir my kind en dienskneg van die Allerhoogste. 

Som jou musiekstyl in een sin op? 

Unpretentious acoustic folk with a heartfelt, rustic feel. 

Watter invloed wil jy hê moet jou musiek op mense het? 

Sal wil het dit moet mense gelukkig maak wanneer hul dit hoor en dat dit hoop inspirer

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie? 

Ek is ‘n groot introvert.

Waarmee is jy op die oomblik besig? Ek werk aan my nuwe agentskap en bestuur Danie du toit (Reënwolf) en ook Juan Boucher. Verder maak ek gereed om Pa te word. 

Wat inspireer jou? 

Die Skepper, my Geloof, my vrou en die see

As jy saam met enige iemand in die wêreld kan sing, wie sal dit wees en hoekom? Saam met Brandi Carlile. Mal oor haar manier van skryf en glo ons sal goed saam klink 

2020 was ‘n baie moeilik tyd vir almal in die vermaaklikheidsbedryf met Covi19. Hoe het jy dit ervaar?

 Ja dit is steeds uitdagend maar dit het my geloof heelwat gegroei en my gehelp onderskei tussen wat belangrik is en wat eintlik nie so belangrik is nie. 

Met Covid19 het daar heeltemal ‘n verandering in ons alaml se lewens gekom en ons moet nou buite die boks dink om veral in die vermaaklikheidsbedryf te kan oorleef, wat gaan jy anders doen om seker te maak dat jy as sanger nog steeds ‘n inkomste uit jou musiek kan maak? 

Ek gaan alles doen wat ek kan om vir my familie te sorg. Verkoop cd’s aanlyn, skryf liedjies vir ander kunstenaars, aanlyn vertonings ens. 

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

 Ek beplan om vir ‘n jaar sabatical te vat met my solo musiek loopbaan en te fokus op my Familie en Agentskap/Besigheid. Ek will ook teen die einde van die jaar leer hoe om klavier te speel en my eie studio ingerig hê waar ek sal aanhou skryf en ook ander kunstenaars opneem. 

Wat is jou gunsteling:

Musiek: Musiek met Emosie

Sanger: Naill Horan

Sangeres: Brandi Carlisle

Band: Coldplay

Gunsteling liedjie: Op die oomblik ‘Look for the Good’ – Jason Mraz

Rolprent: Fight Club

Akteur: Brad Pitt

Aktrise: Margot Robbie

Reeks: Hotel op kykNET

Kos en drankie: Lam Potjie en Rooi Wyn

Ontspanning: Lees, Stap, Surf Slaap

Boek: Bybel

Kleur: See Blou

Vakansie bestemming: Indonesia

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge. Rassisme, Konflik, Oneerlikheid, Flou koffie

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/lenmuller1/?fref=ts

Twitter: @lenniemuller

Instagram: @lennie.muller

Webblad: www.lenmuller.co.za

YouTube: www.youtube.com/lenniemuller

SoundCloud: www.soundcloud.com/lenmuller

BESPREKINGS

E-pos: bookings@lenmuller.co.za  / len@lenmuller.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Gizela Arndt

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela101@gmail.com

Webblad: www.starburstmusic.co.za

Related posts