Daar is min sangers wat dit regkry om musiek te skep wat regtig met die hart praat. Met sy nuutste album, RUITE OOP, bewys Herman Kleinhans weereens dat hy een van die min liedjieskrywers is wat hierdie kuns vervolmaak het en beweeg hy ook ietwat uit sy gemaksone met ’n ligter nommertjie of twee.
Dié wenner van Afri-Visie se liedjieskryfkompetisie se nuutste ateljee-album, wat alles bevat van emosionele liefdesballades tot lighartige kuiermusiek, het ’n volwasse kontemporêre klank en is die resultaat van maande se beplanning en harde werk. Dit spog met 12 snitte, wat grotendeels uit sy eie pen kom, met die uitsondering van drie liedjies waarvan hy twee saam met Bok van Blerk en een – Ons Kan – saam met sy meisie, Maryke, geskryf het.
“Die tema van die album is ‘Lewe in Suid-Afrika’ en baie onderwerpe word aangespreek – van depressie tot liefde. Dit was vir my belangrik dat elke snit van uitsonderlike gehalte moes wees, omdat ek dit vir ’n geruime tydjie gaan moet sing. Ek maak juis oor hierdie rede nie eintlik kommersiële musiek nie, omdat ek dit nooit geloofwaardig sal kan sing by vertonings nie,” vertel hy.
“Hierdie album is egter ’n poging om bietjie nader te kom aan die mark wat gedink het ‘Kamer 4’ is mooi, maar te rustig. Tertius Human en al die ander musikante aan boord, het hulle skitterend van hulle taak gekwyt en die album vloei lekker. So, ek sien uit daarna om te hoor wat mense dink.”
Alhoewel hy nie regtig gunstelinge wil uitsonder nie, meen hy dat Messelaar en Brandewyn Drink vir hom uitstaan, omdat beide snitte baie goed ontwikkel het. “‘Messelaar’ handel oor depressie en het regtig ontaard in iets spesiaal. In sterk kontras daarmee, is ‘Brandewyn Drink’ wat ’n vrolike lekkerluisterliedjie is en mense laat goed voel,” verduidelik die ster en volgens hom behoort die titelsnit ook aanklank te vind by ’n wye gehoor.
“Na hierdie jaar dink ek ons almal wil net weer die langpad aandurf en beweeg en dit is waaroor die liedjie gaan. Goeie ventilasie maak natuurlik ook die wêreld se verskil in ons stryd teen die virus, so dalk red die titelsnit iemand se lewe eendag.”
Sy nuutste enkelsnit, Vliegtuig, is pas uitgereik en gaan oor sy verhouding met die liefde van sy lewe, Maryke, wat hy op Tinder ontmoet het. “Ek het eendag Maryke se kombuistafel vol sout gelos nadat ek springmielies gemaak het. Daarna het ek haar bed deurmekaar gemaak nadat sy dit reeds opgemaak het. Sy het dit geensins waardeer nie. Ek het die liedjie geskryf om op te maak. Die titel, ‘Vliegtuig’, kom van ons droom af om eendag saam ’n vliegtuig te besit,” verklap die kunstenaar oor die tema agter dié nuwe vrystelling wat reeds deur verskeie radiostasies gespeel word.
Die video is op verskeie plekke in die paartjie se tuisdorp, Port Elizabeth, verfilm deur Wian van der Walt van die Coolerbox Brothers. Dit wys hoe hulle liefde in hierdie ou stad floreer. “In die video besoek ek en Maryke van ons kleintydplekke. Van die huise waarin ons groot geword het, ons skole en kerk, tot ons gunsteling Chinese wegneemrestaurant. Daar waar ons paaie konstant moes gekruis het, sonder ons medewete. Ons het ook besluit met hierdie projek te wys hoe mooi ons stad is,” deel hy.
Kyk die video hier:
https://youtu.be/nA8JB1aKu1E
Hy is verder ook ongelooflik trots op die feit dat sy nuwe album saam met sy eie toepassing, ShareTime, uitgereik word. Die doel hiervan is om ’n platform te skep wat dit vir mense maklik maak om mekaar te help met hulle tyd en hy glo dat dit regtig ’n verskil kan maak.
Dan is die liedjie, Ek Wonder, wat óók op die album verskyn, die amptelike temalied vir Solidariteit Helpende Hand en Boere Droogtehulp SA NPC vir die Projek 40 inisiatief wat gesorg het dat veertig trokke vol voer afgestuur kon word na Beaufort-Wes. Hierdie inisiatief het ook gesorg dat veertig behoeftige studente in 2021 sal kan gaan studeer. Lees meer oor hierdie merkwaardige projek hier: Projek40 | Solidariteit Helpende Hand / www.projek40.co.za
Die musiekvideo vir Ek Wonder sal gedurende die week van 7 Desember 2020 bekendgestel word. Hou gerus Helpende Hand se sosialemedia dop.
Herman is in Sunland in die Oos-Kaap gebore. Sy liefde vir sing is reeds op ’n jong ouderdom gebore en is geïnspireer deur sy pa, wat altyd kitaar gespeel en gesing het wanneer vriende kom braai het. Hy sing al van die laerskool af in die koor en was in die hoërskool in die musiekgroep, Slagyster, wat die treffer Kantlyn uitgebring het wat vir ses weke nommer een was op MK89 se 6@6. Hy het egter eers in 2012 begin om voltyds musiek te maak en is nou reeds sestien jaar doenig in die musiekbedryf.
Oor die jare het hy die voorreg gehad om saam met verskeie groot name in die bedryf te werk en het hy talle loopbaanhoogtepunte bereik, waaronder ’n Ghoema-toekenning vir die Publiek se Gunsteling-Duo of Groep as deel van die groep, TWEE, asook ’n SAFTA-benoeming vir die musiek wat hy en Dawie de Jager vir die kykNET-reeks, Alles Malan, geskep het.
Wanneer hy nie sing nie, hou hy homself besig met die ontwikkeling en bemarking van sy nuwe toep, asook sy twee ander besighede, TWEE Vellies en TWEE Plakkers, wat hy en Maryke saam bestuur.
Die sanger het groot bewondering vir plaaslike sangers soos Coenie de Villiers en Stef Bos se menswees en geniet die musiek van internasionale groepe soos Queen, Kings of Leon, Dire Straits, Mumford and Sons en Coldplay.
Herman glo dat die lewe is wat jy daarvan maak en hy fokus hard daarop om al sy passies behoorlik uit te leef. Sy nuwe album is ’n versameling van die mooiste hartsmusiek, wat sag is op die oor, en jou laat uitsien na ’n rustige kuier voor die kaggel of saam met vriende om die vuur. Sy unieke aanslag, veelsydigheid en strelende stem is die perfekte bestanddele vir ’n wenresep wat nog vir jare hierna gewild gaan wees.
LYS VAN SNITTE
Vliegtuig
Beter As Gister
1000 Koffies
Droom
Ruite Oop
Brandewyn Drink
Haal ’n Bietjie Asem
Ek Wonder
Dankie
Messelaar
Waar’s Jy?
Ons Kan
Laai die album hier af: https://lnk.to/081txIZY
Olka Bolka het ‘n onderhoud met Herman gehad om meer oor hom uit te vind:
Waar is jy gebore en het jy grootgeword?
Ek is gebore in Port Elizabeth en het groot geword in Sunland (naby Addo).
Het jy naskool gaan studeer, indien wel wat?
Ek het nie, nee.
Hoe en wanneer het jy in die musiek bedryf beland?
Musiek was al sedert skool my groot passie en einde matriek (2005) het MK89 begin groot gaan en het ons video’s vir hulle gemaak. Ek het egter al in st.9 my eerste optrede in Dorpstraat Teater gehad en alhoewel ek eers in 2012 werklik voltyds begin musiek maak het, is dit seker veilig om te sê dat ek al in 2004 die bedryf betree het.
Vertel my van jou nuutse enkelsnit?
Ek en Maryke het mekaar op Tinder ontmoet. Dis nou ‘n jaar en ‘n half later en ek kan met ope hart erken dat ek die liefde van my lewe op die internet ontmoet het. Internet-liefde. Die liedjie handel hieroor en sommer ook net oor waarvandaan ons kom en waarheen ons wil gaan. Ons het beide in Port Elizabeth groot geword en alhoewel ons mekaar nie geken het nie, deel ons baie plekke (soos ons kerk) en herinneringe.
Skryf jy self jou liedjies?
Ek skryf inderdaad my eie liedjie, ja.
Het jy enige stokperdjies?
Ek geniet avontuur motorfiets ry deesdae nogal baie.
Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?
Ag wat, ek is ‘n normale mens wat hou van sy land, sy mense en musiek. My droom is om eendag deel te wees van ‘n groep mense wat Suid-Afrika verander in die florerende land wat ek weet hy kan wees. Verder werk ek aan ‘n app (wat moontlik hiermee kan help) en geniet ek die lewe op Patensie saam met Maryke, 4 honde en ‘n kat. Ons het ook ‘n vellie winkel genaamd TWEE Vellies in Jeffreysbaai en maak binnekort ‘n tak in Port Elizabeth oop.
Som jou musiekstyl in een sin op?
Dis melodieuse liriek gedrewe musiek wat ‘n storie vertel.
Watter invloed wil jy hê moet jou musiek op mense het?
Ag, ek weet nie regtig nie. Ek skryf nie musiek met die doel om mense te beïnvloed vloed nie. Ek doen dit slegs omdat ek daarvan hou en die feit dat mense aanklank daarby vind is fantasties.
Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?
My volle name is Herman Lukas Combrinck Kleinhans en ek hou nie van vrugtemotte of vlieënde sprinkane nie.
Waarmee is jy op die oomblik besig?
Tussen die toep (ShareTime), TWEE Vellies, die nuwe album wat bekend gestel word, bly ek darem redelik besig.
As jy saam met enige iemand in die wêreld kan sing, wie sal dit wees en hoekom?
Marcus Mumford. Sy lirieke is ongelooflik goed en ek was nog altyd mal oor sy styl van skryf.
2020 was ‘n baie moeilik tyd vir almal in die vermaaklikheidsbedryf met Covi19. Hoe het jy dit ervaar ?
Ek moet bieg, behalwe vir die gewig optel agv die feit dat kosmaak iets geraak het waarvan ek begin hou, was my ervaring van Covid19 eintlik heel positief. Ek en Maryke het het saam gelockdown in Patensie en dit was vir ons goed omdat dit op ‘n plaas was waar mens nog kon gaan stap het met die honde en so elke nou en dan op ‘n verantwoordelike wyse saam met ‘n pêl braai. Dit was ook lekker om na 8 jaar op die pad, net ‘n bietjie by die huis te wees. Die finansiële verliese was massief maar ons was gelukkig om die skoenwinkel te hê wat ons aan die gang gehou het. Dit te same met die feit dat beide ek en Maryke eintlik minimalisties lewe mbt tot skuld. Ek het ook in hierdie tydperk die nuwe CD klaar geskryf en opgeneem, wat ‘n goeie ervaring was. Verder het ek en die ouens van Toeps.co.za in hierdie tyd begin bou aan iets waaroor ek al jare droom – ‘n toep wat mense kan help.
Met Covid19 het daar heeltemal ‘n verandering in ons alaml se lewens gekom en ons moet nou buite die boks dink om veral in die vermaaklikheidsbedryf te kan oorleef, wat gaan jy anders doen om seker te maak dat jy as sanger nog steeds ‘n inkomste uit jou musiek kan maak?
Ek beoog om meer te konsentreer op inkomste van YouTube en gaan meer video’s skiet en oplaai. Ek wil ook ‘n Engelse album hierdie uitbring.
Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?
Engelse album, toep, velle winkel, verhouding, tyd saam met vriende en familie, toer, oorsee gaan indien moontlik. Ek dink my toekoms lyk heel goed want ek het opsies. Daarvoor is ek baie dankbaar.
Wat is jou gunsteling:
Musiek – Tans: Correzerwas
Sanger – Danie du Toit
Sangeres – Taylor Swift
Band – The Cat Empire
Gunsteling liedjie – Hallo van The Cat Empire
Akteur – Jason Segel
Aktrise – Charlize Theron
Reeks – Big Bang Theory
Kos en drankie – Enige iets was op die kole gebraak word en brandewyn.
Ontspannings – stap met die honde gevolg deur swem in die rivier.
Boek – al Deon Meiring se boeke. Tans besig met Donker Drif.
Kleur – Blou
Vakansie bestemming – Die mooiste plek in die wêreld – Eersterivierstrand
SOSIALE MEDIA SKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/hermankmusiek
Twitter: @HermanMusiek
Instagram: @hermankleinhans
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCipCFcgkd31TNH_2fxlJ_dw
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Gizela Arndt
Sel: 083 399 6869
E-pos: gizela@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za
