ʼn Volmaan vir ʼn nuwe jaar vol belofte – Taalmonument se eerste 2021-volmaanpiekniek op die horison; gratis vir onder-18’s.

Met die verslapping van inperkingsreëls is dit tyd om vorentoe te kyk. Sluit dus by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se vriendelike personeel aan om vanjaar se eerste Volmaanpiekniek op Vrydag, 26 Februarie 2021, tydens ʼn heerlike somersaand op die beeldskone Paarlberg te vier. 

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 piekniek hou op die groot grasperke en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en het ook toegang tot veilige parkering, buitelug-speletjies, kinderspeelparke asook ’n skryfwerk-uitstalling (tans met nuwe Arabies-Afrikaanse werke).

Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjies en drank (geen glas) te bring. Onthou warm klere en ʼn flits, asook ʼn masker. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensionarisse, en gratis vir almal onder 18 jaar – getalle sal beperk word. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die laaste Volmaanpiekniek vir hierdie seisoen is op 27 Maart 2021.


About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →