Nuwe Afrikaanse sanger HARRY BROERSMA, gaan harte steel!

Harry Broersma is ‘n splinternuwe Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer. Hy noem dat musiek nog altyd sy beste ontvlugting vir alles in die lewe was. Die aspirante kunstenaar het op 17-jarige ouderdom begin kitaar speel met YouTube-tutoriale, en het in sy eerste jaar op universiteit begin liedjies skryf. “Ek glo die beste liedjies kom vanuit ‘n gebroke hart en ek is gelukkig om my gesonde verstand te behou deur musiek te skryf. My grootste inspirasie is die band, Spoegwolf.” Hy het sy musikale loopbaan begin om oorspronklike liedjies sowel as cover-liedjies op Instagram, Facebook asook live by kroeë te sing. Nou stel hy sy eerste Afrikaanse pop-enkelsnit op alle musiekplatforms vry. Hy het die liedjie geskryf vir ‘n meisie wat sy hart gebreek het. Snaaks genoeg op die 13de Februarie 2019. Dit was vir hom belangrik om die liedjie op die 13de Februarie vrytestel en dit is toe hoe dit gebeur het. “Die liedjie gaan oor my “journey” om haar te probeer vergeet, maar maak nie saak hoe hard ek probeer nie sy bly nog heeltyd in my agterkop, asof ek nie moet opgee nie.” Die liedjie is vars, relevant en het so bietjie van ‘n verrassing met Harry wat Kletsrym in die brug gedeelte van die liedjie. Hierdie jong man het soveel dinamika en verseker ‘n kunstenaar om dop tehou in die toekoms.

Related posts