Die ekonomie wêreldwyd het afgelope jaar ’n harde klap gekry. Een van die industrieë wat seker die hardste getref is, is die restaurantbedryf.
Maar moet die pandemie en die ekonomie al die skuld kry vir eetplekke se probleme? Het dit nie dalk ook te doen met swak diens, verouderde spyskaarte en oninspirerende dekor nie? Eienaars kan dalk erken dat hulle hard werk en alles gee, maar aan die einde van die maand wil die boeke net nie klop nie.
Indien jy só ‘n eienaar van ’n eetplek – of dit nou ’n koskaravaan, ’n fynproe- of familie-restaurant is – en op jou knieë is, is hier goeie nuus.
In die sop: Restaurant Evolusie is ’n splinternuwe realiteitsreeks wat eersdaags op kykNET gaan wees.
Aan die stuur van die program en ook as aanbieder, is die bekroonde supersjef Bertus Basson. Hy sal deur ’n span deskundiges ondersteun word.
Bertus is in die Kaap gebore, maar het in die noorde van die land grootgeword. Hy het van ’n baie jong ouderdom reeds sy ma in die kombuis begin help en het op 17 vir hom ’n loopbaan in die kosbedryf begin uitkap.
Op 19 het is hy Londen toe waar hy onder meer vir die Michelin-bekroonde Chez Bruce gewerk het. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika is hy met verskeie toekennings vereer waaronder die Eat Out San Pellegrino & Acqua Panna Sjef van die Jaar in 2019. Bertus is die eienaar en sjef by vyf restaurante in en om Stellenbosch.
“Ek het al groot sukses gesmaak, maar oor die jare het ek ook baie foute gemaak en duur lesse geleer,” sê hy. “Nou wil ek graag daardie insigte met ander restaurant-eienaars deel.”
Om in te skryf, gaan na kyknet.tv vir meer inligting of stuur ’n e-pos aan inskryf@indiesop.tv met jou kontakbesonderhede, adres en ’n kort paragraaf oor jou situasie en hoekom jy dink jy een van die plekke moet wees wat gekies word. Ons het ook foto’s van jou en jou restaurant nodig.
Een van ons span sal sou gou moontlik met die moontlike finaliste in kontak wees. Maar skud op: Die sluitingsdatum vir inskrywings is 14 Maart 2021 en slegs tien restaurante sal gekies word om deel van hierdie opwindende en unieke kans te wees.