Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) sluit vanjaar se menseregtemaand met ʼn unieke buitelug-piekniekkonsert af waartydens Paarlse musieksterre die gaste met ʼn verskeidenheid genres gaan vermaak. Dié eenmalige vertoning vind Sondagaand, 28 Maart 2021, plaas ter viering van die land se internasionaal geroemde menseregtehandves, waarvan taalregte ʼn deel uitmaak, en is ten bate van die Laat ons Lees!-geletterheidsprojek vir kinders, wie se reg op onderwys ook in wetgewing verskans is.

Ter bevordering van Afrikaans en veeltaligheid gaan onder andere Carl Hendricks, Clarissa Benjamin, Deon Valor, Hiram Hartogh, Marco Mentoor en Nosipho H die besoekers op die lowergroen grasperke met ʼn wye keuse van liedjies beïndruk voordat die hoofvertoning met Cheswyn Ruiters – wenner van 2019 se ‘Maak my Famous’-kompetisie – verrigtinge op ʼn hoogtepunt afsluit. Dit beloof om ʼn heerlike herfsaand met onder meer jazz, klassiek en R&B te wees.
Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, wil hulle met hierdie geleentheid nie net plaaslike kunstenaars, wat erg deur die covid-19-pandemie benadeel word, blootstelling gee nie, maar ook inwoners en toeriste daaraan herinner dat die pragtige monument ʼn lewende instelling is. “Besoekers kan ook van die geleentheid gebruik maak om hierdie unieke, simboolbelaaide beeldhouwerk te besigtig. Ons moedig gaste aan om die omgewing te verken en hulle het ook toegang tot veilige parkering, ʼn pendeldiens, buitelug-speletjies, kinderspeelparke asook ’n skryfwerk-uitstalling waar nuwe Arabies-Afrikaanse werke tans te siene is,” sê hy. Die aand is boonop ten bate van die ATM se geletterdheidsprojek, dus gaste word versoek om enige kinderboeke vir hierdie doel te skenk.
Belangstellendes sal egter moet spring om kaartjies via Computicket te koop aangesien net 200 beskikbaar sal wees teen slegs R50 per volwassene (gratis vir kinders onder 13). Hekke open om 17:00 en die vertoning begin om 18:00 in die Tuinteater – net betyds vir ʼn beeldskone sononder en maanopkoms. Gaste kan hul eie piekniekmandjies en drankies (geen glas) bring of die mobiele kiosk, wat verversings en drinkgoed verkoop, ondersteun. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie. Onthou warm klere, ’n kombers of kussing, flits asook ʼn masker. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.
Vir verdere inligting oor hierdie en ander opwindende geleenthede asook (aanlyn-)kursusse, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS.