Germandt Geldenhuys is een van daardie mense wat met soveel talente gebore is en dan is hy nog baie aangenaam ook.
Kykers het werklik eers bewus geword van die talentvolle jongman met sy rol in Binnelanders as Louis Koster alhoewel hy al vanaf skooltyd uitgeblink het in toneelstukke en musiekblyspele.
Daar is soveel interessante fasette van Germandt dat ek sommer sy biografie gaan plaas want Germandt tree op, in een of ander kapasiteit, al vandat hy kan onthou en het op skool al in toneelstukke en musiekblyspele uitgeblink. In 2006 neem hy deel aan die Wêreld Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste waar hy die gesogte “Grand Champion Award” vir sang, verower.
Hy matrikuleer aan Hoërskool Jeugland in Kempton Park waarna hy sy tersiêre studies aan die Waterfront Theatre School in Kaapstad voltooi. Onder die bekwame leiding van Delia Sainsbury, Paul Griffiths en Keith Galloway verwerf hy ‘n Lisensiaat in Musiek-Teater en ‘n Lisensiaat in Drama vanaf die Trinity Guildhall College in Londen.
Hy word ook in sy finale jaar met die Richard Loring-prys vir Uitstaande Spel bekroon en word ook ‘n rol aangebied in Richard Loring se CAPE STORIES FROM THE MOTHER CITY in Seepunt, Kaapstad. Hy keer terug na Johannesburg in 2015 en tree op in THE JUNGLE BOOK, SISTER ACT, SWEENEY TODD (Nom: Fleur du Cap Beste Manlike Byspeler), SNEEUWITJIE, verskeie televisie advertensies en korporatiewe funksies.
Daarna maak hy sy televisie-buiging in STERLOPERS op KykNet.
Tans is Germandt te sien in die rol van “Louis Koster”, die kroegbestuurder en IT-foendie, in BINNELANDERS op kykNET – waarvoor hy in 2017 met Huisgenoot se gesogte Tempo-toekenning vir “Sepie-Akteur Van Die Jaar” bekroon is.
In 2018, maak hy sy filmdebuut in die volprese KANARIE en verower “Beste Manlike Byspeler: Film” by die kykNet Silwerskermfees. Vir hierdie film word Germandt dan ook benoem vir ‘n SAFTA vir “Best Supporting Actor in a Feature Film”.
In 2019 was hy ook te sien in Janice Honeyman se pantomieme, JACK & THE BEANSTALK by die Joburg Theatre.
Olka Bolka het in ‘n onderhoud nog meer van Germandt uitgevind
Waar is jy gebore en het jy grootgeword?
Ek is gebore in Kimberley in die Noord-Kaap. Grootgeword in Christiana (NW), Ladybrand (VS) en toe uiteindelik hoërskooljare deurgebring in Kempton Park, Gauteng.
Het jy naskool gaan studeer, indien wel wat?
Ek het naskool gaan studeer ja, ek het drama en musical theatre vir 4 jaar geswot by die Waterfront Theatre School.
Jy is baie talentvol in musiek en drama , wat het eerste gekom?
Baie dankie. Jong, ek dink maar die musiek ding het eerste gekom. My ouers is albei baie musikale mense, met my pa wat klavier speel en my ma wat sing. So ek het maar in ‘n musicale huis grootgeword.
Hoe het jou ouers oor jou beroepkeuse gevoel?
Nog altyd 100% aangemoedig en ondersteun. Ek dink hulle het geweet dat ek van ‘n klein ouderdom af al baie passievol is oor die uitvoerende kunste, so dit het hulle nie regtig baie verbaas toe ek noem dat ek in hierdie rigting wou swot nie.
Jy het ‘n rol in Kanarie vertolk vertel ons daarvan.
Dit was my heel eerste film-rol. Ek was bitter erg op my senuwees tydens daardie hele verfilmingsproses, maar dit was regtigwaar ‘n ongelooflike ervaring… en ek dink nie ek het al sedertdien dieselfde vreugde uit ‘n rol gekry soos met daai een nie.
Hoe berei jy jou voor vir ‘n rol?
Eerste dinge eerste, ek analiseer die teks en maak seker ek verstaan wie en wat die karakter is. Wat hulle dryfkrag is, hulle behoeftes, begeertes en dies meer. Dan leer ek die woorde so uit my kop uit as wat ek kan. En dan, gewoonlik met die repetisie-proses, dan begin die lekker “speel” aspek van die karakter, waar ek dan saam die regisseur die fisieke aspekte van die karakter uitpluis en oefen.
Hoe hanteer jy ‘n moeilike karakter of toneel?
Hahahaha, soos met enige iets in die lewe moet mens maar daardie bul by die horings pak en maar tot die beste van jou vermoëns doen. Op die ou einde is dit al wat elkeen van ons kan gee.
Hoe verskil jy van jou karakter wat jy speel in Binnelanders?
Ek dink daar is meer ooreenkomste tussen my en Louis as wat daar verskille is, maar ek is verseker nie so naief of goedgelowig soos Louis nie. Ek is beslis ook nie so impulsief nie.
Hoe hanteer jy publieke aandag?
Daardie is ‘n ingewikkelde vraag, want dit hang seker maar ook af van die konteks. As iemand my trompop loop erens in ‘n winkel is ek geneig om effens skrikkerig en angstig te raak. Glo dit of nie, die meeste akteurs/aktrises is eintlik maar skamerige mense (veral as ons omring word deur ‘n klomp vreemde mense), so die geneigdheid by my is ook maar net om te “smile en wave” en so gou as moontlik die aandag op iemand anders te prober fokus.
Toe jy bekendheid verwerf, hoe het dit jou lewe beinvloed?
Ek dink nie dit het regtig my lewe vreeslik baie beinvloed nie. Ek is maar nogsteeds soortvan dieselfde mens. Behalwe vir die nou-en-dan wat ‘n aanhanger jou in ‘n winkel raakloop en eers wil hallo sê, het my lewe nie regtig veel verander nie.
Wie se TV Klerkas sal jy graag wil hê?
Dr Tertius (Reynardt Hugo) s’n. Ek vermoed dit sal egter slegs om my enkel pas.
Watter werk sal jy graag agter die skerms wil doen?
Beslis ‘n regisseur. Ek hou daarvan om vir akteurs leiding te gee en saam-saam die storie te vertel.
Wat is jou nagmerrie scenario tydens verfilming?
Dat ek nie my woorde kan onthou nie, of dat my broek skeur. Allerhande sulke dinge gaan gereeld deur my kop.
Watter TV reeks sal jy wil oormaak en deel van wees?
Game of Thrones, beslis. Ek sal die draak wil speel.
As jy enige karakter kon speel wie sou dit wees?
Ek wou nog altyd ‘n ‘villain” gespeel het, of ‘n bekende person wat werklik geleef het – m.a.w ‘n “biopic”.
Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?
Enkellopend, twee honde, mal oor kosmaak, lief vir my familie en vriende, lief vir die oop pad, vir padstalletjies en padkos. Ek werk gewoonlik baie hard, met die gevolg is dat ek sommige dae net wil lê.
Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?
Ek dink nie dis regtig moontlik nie, want daar is nie regtig iets wat _niemand_ van my weet nie. Ek is maar ‘n oop-boek.
Wat is die beste raad wat jy nog ooit van iemand ontvang het?
“The only difference between a rut and a grave is the depth.”
Wat was jou angswekkendste oombilk ooit?
Oe nee, hopeloos te veel om te noem. My broek het eendag oopgeskeur tydens ‘n teater-show in Windhoek, en ek moes vir ‘n hele toneel lank met ‘n geskeurde broek speel sonder dat die gehoor dit agterkom.
As jy met enigeiemand oor ‘n koppie koffie kan gesels, wie sal dit wees en hoekom?
My oupa Len. Hy is ‘n paar jaar terug oorlede. Sou lekker wees om net weer “hallo” te kan sê.
Watter beroep sou jy beoefen het as jy nie akteur geword het nie?
TV-sjef of ‘n staatsaanklaer.
Jou fassinerendse onderhoud ooit?
Met ‘n film-kritikus oor die film Kanarie. Sy het dinge in die storie raakgesien en ontleed wat ek nie eers raakgesien het nie. Ons het baie lekker gesels, en ek het nogal daar weggestap en gedink: “Wow, wat ‘n wonderlike onderhoud!”
Wat beteken pryse en toekennings vir jou?
Dit beteken eintlik maar net dat iemand erens jou werk raakgesien het en dit genoeg waardeer het om vir jou dankie te wil sê. Dis maar al. Maar ek dink as mense hierdie tipe werk gaan doen net vir die toekennings, dan gaan jy ‘n massiewe problem hê.
2020 was ‘n vreemde jaar met viruses en inperkings, hoe het jy dit ervaar?
Dit was vreemd ja, en stil. Ek het maar basies net in “survival mode” ingegaan en die beste probeer maak van ‘n uiters vreemde saak.
Die vermaakliksheidbedryf een van die besighede wat hard geslaan is met die covid-virus, hoe moes jy aanpas om nog steeds ‘n inkomste uit jou beroep te kan kry?
Ek was baie bevoorreg om by Binnelanders redelik (soortvan) ononderbroke te kon werk, maar ek weet baie ander kunstenaars het nie ooit dieselfde gehad laasjaar nie. Nou meer as ooit moet die publiek asb die vryskut-kunstenaars ondersteun. Baie van hulle sit al sonder werk sedert Maart 2020.
Waarmee is jy op die oomblik besig?
Op die oomblik gee ek aanlyn drama- en sangklasse. Ek skryf ook ‘n paar tekste, probeer hier en daar nog liedjies skryf en doen basies Binnelanders op ‘n daaglikse basis.
Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?
Die volgende ding wat ek graag weer sal wil doen is om in ‘n film te speel… Kanarie was so ‘n “great” ervaring gewees, ek sou baie graag so iets wil repliseer.
Wat is jou gunsteling:
Musiek – Soul, gospel, funk, R&B, pop, contemporary, 80’s rock
Sanger – Ben Platt (op die oomblik)
Sangeres – Snaaks genoeg is dit Miley Cyrus op hierdie oomblik. Sy doen nogal baie interessante dinge met haar musiek deesdae.
Band – Queen
Gunsteling liedjie – Dis tussen “Purple Rain” en “Somebody to Love”. Maar ook “To Make You Feel My Love”
Rolprent – Hopeloos te veel om te noem. Dalk die animasie-weergawe van The Lion King.
Akteur – Weereens hopeloos te veel om te noem.
Aktrise – Kate Winslet, Emma Thompson, Amy Adams, Meryl Streep, Zendaya, Anna-Mart van der Merwe, Olivia Colman
TV reeks en karakter – Op hierdie stadium is dit seker Schitt’s Creek. En ek hou van al die karakters omtrent ewe veel.
Kos en drankie – Pasta + Whiskey
Klere & kleur – Jeans + T-hemp & Emerald Groen
Ontspanning Bosvakansie.
Boek “I know this much is true” van Wally Lamb. “One Day” – David Nicholls.
Vakansie bestemming – Bosveld. Of oorsee.
Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.
- Diere en kinder mishandeling
- Oneerlikheid
- As iemand nie erken dat hulle verkeerd was nie
- Lewer
- germandt.g
