Die bekende Radio Rosestad-omroeper Mario Lategan stel eerste enkelsnit vry – Sagte val.

Die bekende Radio Rosestad-omroeper Mario Lategan het met die bekroonde jeugskrywer Fanie Viljoen stem-en-liriekkragte saamgesnoer en die resultaat is ‘n kaberetagtige luisterliedjie, Sagte Val, wat so sag op die oor is soos ‘n donsige gansveerkussing.  

Dit is Mario, ‘n boorling van Bloemfontein, se heel eerste enkelsnit en hiermee betree hy ‘n nuwe musiekera in Afrikaans. Dié van ‘n grendeltydperk-musiek-en-liriekbeweging.

Coenie de Villiers, wat een van die vaders van die musiek-en-liriekbeweging in die jare tagtigs was, is ook een van sy musiekrolmodelle: “Coenie kan met woorde toor en elke  sin is ‘n meesterstuk. Ek hou van dinge in die lewe wat sin en betekenis het en dit moet ook ‘n storie vertel. Rou, eg en opreg.”  

Oor sy samewerking met Fanie sê hy: “Ek het so ‘n paar jaar gelede ‘n kursus saam met Fanie bygewoon en hom sommer net gevra of hy nie dalk ‘n liedjie vir my het nie. Hy het toe inderdaad lirieke gehad, maar hy kon dit nie toonset nie. Ek het die liedjie vir een van my vriende Arno de Wet gegee om te toonset, maar my verwagtinge was nie vreeslik hoog nie. Nadat Arno se musikale genialiteit op die lirieke losgelaat is, het my mond oopgehang.”

Hoewel Mario met dié enkelsnit sy debuut op radiospeellyste maak, is hy nie ‘n groentjie in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie. Hy het sy stem in verskeie musiekblyspele waaronder Beauty and the Beast en, Les Miserables, asook in pantoniemes soos Cinders finds a Glee Fella, Hansel hunt Gretle en Snow geslyp.Hy was ook deel van die groep

 Il Quattro waar hulle vir ‘n paar maande op die eiland Mallorca in Spanje gesing het.

“Ek was eers ‘n bietjie skepties om dit self te sing, want ek sing meer in die klassieke genre, maar Arno het aangedring dat ék dit moet sing; hy het dit vir my stem getoonset. “Ek het gewag tot die tyd reg is voor ek die liedjie vrygestel het– en die tyd het nou aangebreek,” vertel hy.

Mario spot lekker met sy vrees om tot die ligter musiekgenre toe te tree, maar Sagte Val getuig van die veelsydigheid van sy stem; hy is so tussen ‘n tenoor en ‘n bariton. “Dit maak die lewe vir my hel,” lag hy. “Die meeste van die mooiste areas is vir die eerste tenore geskryf en glo my dat dit nie ‘n grap is om by daardie note by te kom nie. Ek kan darem met gemak die A-Mol, as my stem goed opgewarm is, bykom.”

Hy glo ook dat ‘n Suid-Afrikaanse kunstenaar homself nie net op een genre kan toespits nie. “Die mark is net te klein daarvoor, maar my hart en my passie lê op die verhoog en die teater.”  

Sagte Val is nie ‘n tipiese konvensionele Afrikaanse liedjie nie. Dit neem ‘n mens op ‘n emosionele reis en Mario se stem beweeg met gemak tussen ‘n vol stem en ‘n falsetto.

Mario beskryf Sagte Val as ‘n liefdeslied wat op verskeie maniere geïnterpreteer kan word. “Sommige mense glo dit handel oor die liefde; ander interpreteer dit weer as iemand se liefde vir musiek wat ook  ‘n “sagte val” kan wees.”

Hy is nie net ‘n klassieke musiekkenner nie (sy musiekprogram Klassieke Keur is ‘n getuigskrif vir sy opleiding en deeglike kennis) maar ook ‘n bedrewe sakeman wat onder meer ‘n boutique-hotel en privaatskool bestuur. Hy het ook onlangs Phoenix Artist Management and Production House gestig en het omtrent van die Rosestad se belowendste talent onder sy musiekvlerk.

Mario se stem is groot en ‘n mens hoop dat daar nog baie liedere uit sy mond gaan kom.

Media onderhoud met Mario oor Sagte Val.

  1. Jy is al baie jare betrokke in die musiekbedryf; as vervaardiger, promotor en self ook as kunstenaar. Hoeveel jaar? Hoekom het jy nou eers jou eerste enkelsnit vrygestel?

Ja, ek is al van standerd 7 af betrokke met al daai dinge… Dit wil sê hier by die 25 jaar rond. Ek het altyd vir myself gesê ek wil eers iets opneem as die tyd reg is en dan moet dit sommer net van self gebeur… Ek het toe vir baie jare korporatief gewerk in die boubedryf, maar altyd myself naweke en saans besig gehou met my passies… So het dit in 2018 gebeur dat ek vir ‘n jaar in ‘n groep “Il Quattro” op die eiland Mallorca in Spanje gaan sing het. Met my terugkeer uit Spanje het ek ‘n ets kursus gedoen saam met Fanie Viljoen (Die jeugboeksrywer) en ek vra hom toe sommer uit die bloute of hy nie vir my ‘n lied het nie… Hy het toe nou inderdaad, maar hy kon dit nie toonset nie en ek moet ma kyk wat ek daarmee kan maak. Ek het dit toe vir ‘n jong vriend van my gegee om te toonset, maar nie vreeslike verwagtinge gehad daaroor nie… So het Arno de Wet dit getoonset en my mond het oop gehang toe hy dit vir my sing… Ek was eers ‘n bietjie skepties om dit self te sing, want ek sing meer in die klassieke genre, maar Arno het aangedring dat ék dit moet sing, hy het dit getoonset met my stem ingedagte en so het dit toe nou gebeur…

  • Jy is veral betrokke by musiekteater? Hoe moes die spesifieke genre deur Covid-19 aanpas en miskien ook verander?

Ek is BAIE lief vir musiekteater en het al verskeie rolle in verskeie musiekblyspele vertolk onder andere Gaston in Beauty and the Beast. Covid-19 het dit totaal en al lam gelê en alle groot projekte wat ons in die pyplyn gehad het is gekanseleer en alle borge het van sulke groot produksies onttrek. Ons wou Fiddler on the Roof in die Sand du Plessis Teater gedoen het hierdie jaar.(Gelukkig kon ek toe darem die video daar skiet). Kunstenaars is ongelooflike vindingryke mense en ons het allerhande planne gemaak om aanlyn konserte en klein huis konsertjies etc te doen en dit het dan ook gelei na die maak van die video vir “Sagte Val”.

  • Jy is ‘n bekende stem op Radio Rosestad en bied die program “Klassieke Keur” met Mario Lategan – wat behels die program?

Ek neem aan (ek het nog nie na Radio Rosestad geluister nie) jou program fokus op klassieke musiek? Luister die Suid-Afrikaners nog na klassieke musiek? Indien wel, hoekom dink jy is daar nog ‘n luisteraarsmark?

Ja, die program is Sondae aande tussen 18:00 & 22:00 en fokus hoofsaaklik op Klassieke musiek, maar ek werk ook ‘n bietjie “World music”, Jazz, Blues, Swing en sommer net ou bekende “Classics” en nostalgiese musiek in… Suid-Afrikaners luister VERSEKER nog klassieke musiek en jy sal verbaas wees hoeveel van hulle is jong mense… Klassieke musiek is waarlik ‘n kuns en vir my is daar ‘n tipe van ‘n “goddelikheid” en ‘n intrige aan en mens kan meeste van die tyd nie glo die menslike liggaam kan sulke ongelooflike klanke produseer nie.

  • Jy het jou nismark (of dalk ook jou stem) in verskeie musiekblyspele gevind. Het jy klassieke musiek opleiding gehad?

Ek het inderdaad ja en ek dink mens hou nooit op leer nie… Ek het verskeie dinge by verskeie mense geleer deur my lewe en self ook baie ge-eksperimenteer. Die persoon wat my die meeste van tegniek in die “Bel Canto” styl geleer het is Alida van der Walt en ek sal haar ewig dankbaar wees.

  • Korrigeer my asb as ek verkeerd is, maar ek sal jou stem beskryf as iets tussen ‘n tenoor en bariton. A2 tot middel C… Watter note kan jy sing en wat nie?

Ek is inderdaad iets tussen ‘n tenoor en ‘n bariton wat die lewe vir my hel maak!!! Meeste van die mooiste areas is vir eerste tenore geskryf end it is nie ‘n grap nie!!! Ek haat hulle!!! – Grappie… A-mol is my hoogste noot in vol stem as ek goed opgewarm is…

  • Sagteval kan beskryf word as ‘n kaberetagtige luisterliedjie.  Kan jy daarop uitbrei asb?

Dit is verseker so ja, dit is nie jou konfensionele oorgeklankde afrikaanse liedjie nie, dit vat mense bietjie deur ‘n emosionele reis en selfs met die musiek self wat spring en wissel tussen vol stem en falsetto. Dit bevat “an element of surprise” as mens dit so kan noem…

  • Wie het Sagteval geskryf en gekomponeer?

Fanie Viljoen bekende jeugverhaal en kinderboek skrywer het die lirieke geskryf en die 24 jarige Arno De Wet het dit getoonset.

  • Waaroor handel Sagteval? Hoe sal jy die liedjie beskryf?

Sagte Val is ‘n liefdes lied wat homself toelaat vir verskillende interpretasies… Verskillende mense het al op verskillende maniere daarna gekyk en geïterpreteer, party dink dit gaan net oor liefde en ander dink weer dit gaan oor musiek wat jou liefde en jou “sagte val” is…

  • Sagteval is glad nie tradisioneel klassiek nie? Jy het tog klassieke agtergrond? Hoekom, hoekom nie?

Ek dink as Suid-Afrikaanse sanger/kunstenaar kan jy nie jouself net op een genre toespits nie, die mark is net te klein en hoe meer mens doen, hoe meer kan jy doen. Ek wou myself nog nooit laat “lable” het nie, alhoewel my hart en passie op die verhoog in die teater lê.

  1. Jy het al ‘n verhoog met Coenie de Villiers gedeel? Het sy musiek dalk ‘n invloed op styl gehad?

Dit het verseker en Coenie is een van my GROOT rolmodelle!!! Coenie kan toor met woorde en elke sin is ‘n meesterstuk!!! Ek hou van dinge in die lewe met sin en betekenis en wat ‘n storie vertel… Rou, egteheid en opregtheid. Net soos sangers en liedjie skrywers soos Amanda Strydom, Stef Bos, Anna Davel, Lize Beekman en Joshua na die reën.

  1. Wat is jou toekomsplanne?

Ek is baie gelukkig in Bloemfontein en ek dink ek gaan nog vir so paar jaar hier bly… Ek het ‘n bouprojek waarmee ek tans besig is en ek is baie geseënd om te werk vir ‘n maatskappy wat ‘n privaat skool en boutique hotel besit, ek kry elke dag geleentheid om ‘n verskil in ander mense se lewes te maak. My eie maatskappy, “Phoenix Artist Management and Production House” doen baie goed onder die leiding van Cezanne Yzelle en ek wil graag nog meer in die maatskappy in ploeg. “Sagte Val” is een van drie nuwe liedere en musiekvideo’s wat die maatskappy die laaste tyd die lig laat sien het. Die ander twee is; “Waar ek moet wees” en “In jou arms slaap” van Cezanne Yzelle.

Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:

Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za

Related posts