Victor Bravo, ’n musiekgroep uit die Vaaldriehoek, het op 28 April 2021 twee toekennings losgeslaan by die eerste Afri-Indie Onafhanklikekunstenaartoekennings wat by Platteland in Centurion gehou is.

Die duo, wat bestaan uit Weco van Basten en Jopie Pienaar het ’n sertifikaat gewen vir Beste Duo-enkelsnit vir hulle oorspronklike liedjie, Skemer, en ’n trofee vir Beste Algehele Enkelsnit vir hulle debuut-enkelsnit, Breakway Line.
Dié lied, wat ook spog met ’n pragtige musiekvideo (waarin Jopie en sy vrou Rhoda Hartzer die hoofrolle speel), is deur Weco geskryf vir sy vrou en die groep se bestuurder, Annelien van Basten, en is gereeld op kykNET NOU! gespeel.
Suiderkruis, hulle nuutste enkelsnit, kan tans op verskeie radiostasies gehoor word. Al drie liedjies is opgeneem en vervaardig deur Renier Henning en sluit die talent van sessiemusikante soos die dromspeler, Bruce Wallace, en baskitaarspeler, Janes Blomerus, in.
’n Gedeelde liefde en passie vir betekenisvolle musiek, het gelei tot die ontstaan van Victor Bravo, wat vanaf 2018 saam optree by kuierplekke in die Vaaldriehoek en omliggende areas.
Die groep, wat se naam geskep is uit die eerste letters van hulle familievan – van Basten, het ’n baie unieke styl wat elemente van Alternatiewe-, Kontemporêre-, Rock-, Pop-, Folk- en Bluesklanke soomloos laat saamsmelt om ’n vars en nuwe aanslag na die Suid-Afrikaanse musiekmark te bring en waarby gehore van alle ouderdomme aanklank vind. “Die projek, Victor Bravo, is so vier jaar terug gebore as ’n konsep in my kop. Die idee was om ’n platform te skep uitsluitlik vir musiek, sonder die ander sideshows,” verduidelik Weco.
In die kort tydjie wat hulle amptelik saam musiek maak, het die musiekpaar (wat ook familie is) reeds verskeie hoogtepunte beleef. As deel van die Local is Lekka-kompetisie en -inisiatief; wat deur die bekroonde Country-ster Vernon Muso, VCR 90.6, IFM Radio 102.2, Mooivaal Media en Barnyard Vereeniging aangebied is; het hulle nie net die wonderlike voorreg gehad om te open vir komedielegende, Barry Hilton, se konsert nie, maar het ook ’n radio-onderhoud en koerantartikel gekry as gevolg hiervan. Weco het ook onlangs ’n baie suksesvolle openingsvertoning gedoen vir Nicholis Louw.
Verder was Victor Bravo ook deel van Aardklop 2019, die Boshof Skou, die On Tap-kunsbierfees by Emerald Resort & Casino en het hulle al by verskeie groot kuierplekke in die Vaaldriehoek, Pretoria en omliggende areas opgetree, waaronder Stage at N12, Café Barecelona, Shovels Pub, Monte de Dios and Grill én die Yami Rib & Burger-groep se verskillende restaurante.
“Goeie musiek moet jou hart raak en dit is wat ons anders maak. Die liedjies wat ons kies, is dieper en ons pas die klank aan om ’n meer treffende en emosionele boodskap deur te gee,” verklap Jopie oor wat gehore van hulle konserte kan verwag.
Hulle was ook saam met ’n mede-plaaslike musikant, Carla van Wijk, deel van die toergroep, Klankgolf, wat in November 2019 deur die Tuinroete getoer het en baie goed ontvang is.
DIE MANNE AGTER VICTOR BRAVO
Voorsanger, liedjieskrywer, ritmekitaar- en klavierspeler, Weco van Basten, kom uit ’n musikale familie wat gereeld saamkuier om die braaivleisvuur met ’n kitaar in die hand en ’n liedjie om te deel. Hy het hoofsaaklik in Sasolburg grootgeword en van kleins af musieklesse geneem, in die skoolkoor gesing en deelgeneem aan al wat kunswedstryd en konsert is. Gedurende die laaste twee jaar van sy laerskoolloopbaan, was hy ook lid van die Drakensberg Seunskoor. Omdat hy nog altyd passievol was daaroor om mense te vermaak en die stories in sy hart op papier te deel, is hy na skool Amerika toe om Drama en Engelse Kreatiewe Skryfkuns te studeer. In hierdie tyd, was hy deel van die akoestiese groep, Victim, wat gereeld in en rondom Houston opgetree het. Die finale twee jaar van sy Taalstudies, is by Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus voltooi, waar hy ook sy vrou ontmoet het. Alhoewel hy ’n wye verskeidenheid musiek geniet, sonder hy kunstenaars R.E.M., Cat Stevens, Sarah McLachlan, Eric Clapton, Ted Hawkins, Karen Zoid, Klopjag, Eminem, Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, 2nd Life en Jo Black uit as musikante wat, vir verskeie redes, sy eie styl tot dusver beïnvloed het. Hy verklap verder dat enigiets hom kan inspireer om ’n liedjie te skryf op die regte oomblik. “Alledaagse dinge, soos koudkry, braaivleis en vriende, gee my soms idees vir lirieke. Maar dis die rou menslike oomblikke, daardie hartverskeurende mooi insidente waar die menslike weerloosheid naak lê vir almal om te sien, wat my die meeste tref… en dan moet ek skryf,” sê hy. Natuurlik is al sy musiek nie ewe ernstig nie en het hy dit geniet om onlangs die treffer, Boontasties, vir die trap-kunstenaar BOON se eerste album te skep. ’n Tweede lied, Sê Net Wat Jy Wil Sê, is ook deur dié kunstenaar aanvaar, maar verskil hemelsbreed van sy prettige voorganger. Tans werk hy ook aan twee liedjies vir ander opkomende kunstenaars.
Hoofkitaarspeler, sanger en liedjieskrywer, Jopie Pienaar, is ’n passievolle musikant met ’n natuurlike talent om van die kitaar een van die hoofrolspelers in enige musiekproduksie te maak. Musiek was nog altyd deel van sy lewe en iets wat hom kon laat goed voel in enige fase of situasie waarin hy homself bevind het. Nadat hy op die ouderdom van veertien sy eerste rockkonsert (Straatligkinders) bygewoon het, het hy ’n kitaar aangeskaf en homself leer speel. Op hoërskool was hy deel van die band, Mad About You, en was hy ook betrokke by verskeie musiekprojekte by die skool en kerk. Dit is egter die tye, rondom die braaivleisvuur saam met Weco, wat vir hom uitstaan en wat hy beskou as die amptelike ontstaan van Victor Bravo. Wanneer hy nie besig met optredes nie, is hy ook ’n fiksheidsinstrukteur by ‘n CrossFit in Pretoria en werk hy daaraan om sy eie talent en selfvertroue as sanger en liedjieskrywer verder te ontwikkel. Buiten vir sy groot liefde vir Bluesmusiek, meen hy dat groepe soos Blink 182, Fokofpolisiekar, Dire Straits, Pink Floyd, Lynyrd Skynyrd en Kings of Leon die grootste invloed op sy kitaarstyl gehad het. “Tans luister ek na Spoegwolf. Hulle manier van skryf en hoe hulle musiek opbou en vloei, is baie goed. Ek hou ook van Rainbow Kitten Surprise se vreemde styl, metafore en die hoofsanger se stem,” vertel hy.
Victor Bravo wil hê dat hulle musiek moet wees wat ookal die luisteraar nodig het dit moet wees op daardie spesifieke oomblik wat hulle dit hoor. “Dit moet jet fuel wees vir die ouens wat wil kuier en dit geniet, maar dit moet ook ’n sagte vertroosting wees vir enigiemand wat op daardie oomblik ’n skouer soek om op te huil,” sê Weco.
Wat begin het as ’n Nuwejaarsvoorneme om musiek te maak ter wille van die passie en naletenskap daarvan, het uitgedraai in ’n kitssuksesverhaal wat die groeplede se wildste drome oortref het.
Facebook: https://www.facebook.com/VictorBravoMusic
Twitter: @VictorBravoMusic
Instagram: @VictorBravoMusic
SoundCloud: https://soundcloud.com/user-625588893
Hutsmerke: #VictorBravoLive #Suiderkruis #VierJouKultuur
BESPREKINGS EN NAVRAE:
Annelien van Basten
Sel: 082 863 6817
E-pos: victorbravomusic1981@gmail.com
YOUTUBE VIDEOS
Dancing On My Own (Cover)
Vat My Saam (Oorspronklike werk)
Home (Cover – Weco van Basten)
Don’t Think Twice It’s Allright (Cover – Jopie Pienaar)
Stay (Oorspronklike werk – Weco van Basten)
Narkose (Oorspronklike werk)
SKAKEL NA ENKELSNITOMSLAG EN FOTO’S & ANDER FOTO’S
https://www.dropbox.com/sh/8sijc5ls7qv4alt/AAD25dcUbS4F3ykKVEoqKupBa?dl=0
https://www.dropbox.com/sh/wt2x886vicin8qk/AABswggPddFnmvqUYhM4GRZda?dl=0
KREDIET
Skemer-publisiteitsfoto’s: Sheen Photography
Vorige foto’s deur Cobus van Zyl Photography
Enkelsnitomslag deur Heidi Heart Creative Studio
Aksiefoto’s deur Dani B Photography
—
Vir navrae kontak
Annelien van Basten
Victor Bravo Music Team
Sel: 082 863 6817