Die rock-‘n- roll-groep , YsterperdTert, het met hul heel eerste enkelsnit, Praat met my, ‘n kans gewaag wat hulle óf soos ‘n keffende brakkie aan die hakke kon hap óf waarmee hulle met die figuurlike lourierkrans kan wegstap.
YsterperdTert, wat bestaan uit Judith Kea en Kobus Stix Droskie, het soos motorfietswaaghalse die rock ‘n roll-prinses van Fleetwood Mac, Stevie Nicks, se treffer Talk to me in Afrikaans vertaal, en daarmee ook hulle grande entreé tot die Afrikaanse rock-‘n-roll-mark gemaak.
Maar Judith, wat onlangs by die Onafhanklike Afrikaanse Musiektoekennings met die louere weggestap vir die beste vroulike solo-album vir Dink twee keer, is ‘n vrou wat daarvan hou om kanse te waag. “Ons het natuurlik ‘n reusewaagstuk aangepak, maar wie is YsterperdTert as ons nie ‘n bietjie gewaagd is nie.”
Die vertaling is uitstekend gedoen en en die melodieë (wat nie presies dieselfde as die oorspronlike weergawe is nie) het ‘n unieke Suid-Afrikaanse klank. Dit is ook waarom musiekresensente vir Judith volpunte kan gee vir die poging.
Vir die milleniërs: Stevie Nicks en haar groep Fleetwood Mac het in die tagtigerjare die wêreld skoon op hol gehad met die een rock ‘n roll-treffer na die ander wat op die musiekparades geboer het. Dan was sy ook nog heel aantreklik – blonde krulle, swart uitrustings en haar kenmerkende pluiskuile.
Judith, wat die voorsanger van die groep is, se suiwer stem herinner nogal sterk aan die van Stevie en interessant genoeg was Talk to me was ook die eerste enkelsnit wat Stevie vrygestel het.
Hieroor sê sy: “Dit is ‘n kompliment as iemand my as Suid-Afrika se eie Stevie beskou, maar ek is glad nie soos iemand anders nie. Ek is my eie, unieke self.”
Judith sê sy en Kobus Stix Droskie, haar medegroepslid wat die kitaar slaan, het gesels oor hoe hulle luisteraars aan die YsterperdTert bekend gaan stel. “Ons het ‘n liedjie nodig gehad wat Judith Kea-aanhangers nie sal vervreem nie, maar sterk genoeg sou wees om YsterperdTert as groep te vestig . Nadat ek vir die eerste keer na Talk to megeluister het, het dit my asem weggeslaan en ek het geweet dat ons met YsterpedTert se kitaarklanke en die nuwe Afrikaanse woorde, ons die liedjie in iets fantasties kan omskep. ‘n Kreatiewe wonderwerk,” lag sy.
Judith en Kobus is beide entoesiastiese motorfietsryers. Judith spring gereeld op haar lekkergoedrooi Honda 2008 VTX1 en brul van die een dorp na die volgende. Dit is ook waarom die groep se naam YsterperdTert is. “Ek is deel van ‘n motorfietsklub en ook ‘n omroeper by Bikerhart Radio. Die motorfietsbrigade is deel van ons kultuur; van ons menswees. Ek was agtien jaar oud toe ek die eerste keer by ‘n motorfietssaamtrek opgetree het. Ek het halsoorkop verlief geraak op dáárdie sout-van-die-aarde motorfietsryers en hulle het (natuurlik) ook op my verlief geraak,” knipoog sy.
“My oorlede skoonpa was ook ‘n bekende in die motorfietskringe en na sy dood het ek begin selfondersoek instel. Ek het té veel tyd aan my solo-loopbaan spandeer en té min tyd saam met my hartsmense. YsterpedTert was ‘n openbaring – deur die groep kan ek nou my liefde vir musiek, my liefde vir my familie en natuurlik my liefde vir my ysterperd kombineer.”
YsterperdTert is wel Judith se baba, maar toe Kobus haar op Facebook kontak om ‘n musiekvideo saam met haar te doen, het sy besluit om hom deel van die groep te maak. “Hy is ‘n briljante musikant en ek het dadelik besef dat hy die groep se ander helfte is. Ons het ook beide ‘n liefde vir musiek uit die tagtigerjare, en dit is ook een van die redes waarom ons so goed saamwerk.”
Die naam YsterperdTert?
“Ons is mal oor alles wat van yster gemaak is. En ‘n tert is iemand wie se bekkie soms lekker glad kan wees. En wie hou nie van ‘n tert nie? My gunsteling tert is ‘n souttert.”
YsterperdTert is ‘n lekker groep; lekker klank; lekker ritme; ‘n brullende ysterperd. ‘n Mens kan nog groot dinge van hulle verwag en Praat met my is ‘n nostalgies lekkerkry wat ‘n mens sommer terugneem na die dae van leeruitrustings en pers perms. Na daardie dae toe musiek nog eg, skaamteloos, rebels en kleurvol was.
Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:
Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za