Om te droom…Die ontstaan van Malherbe Uitgewers.

Gekryf deur Trientjie Malan

Ek is oortuig daarvan dat elke mens ’n lewensdroom het… almal kan dalk nie hul droom uitspel nie, of het vergeet daarvan… party glo nie meer daarin nie. Maar dit is daar. Alle mense is soms entoesiasties oor drome. Die een dertig minute lank, ‘n ander dertig dae lank. Maar dit is die een wat dertig jaar lank entoesiasties kan bly oor ’n lewensdroom, wat ander inspireer om ook in drome te glo.

Ek het veertig jaar gedroom… miskien om nie ander mense te help publiseer nie, maar om vryheid in al sy fasette te ken en toe ek daardie droom begin uitleef, het meer drome gevolg.

Ek, as digter en skrywer, weet hoe dit voel om telkens in niemandsland te beland met my skrywes. Deure wat toeslaan in jou gesig wat jou drome verbrysel. In 2015 het ek my droom begin uitleef om ander digters en skrywers te help om in hulle drome te glo en ook daarom dit uit te leef. Dit was nie ‘n maklike pad nie, maar saam het ons die pad begin loop. Die eerste stap was met selfpublikasie, maar tog het dit bly knaag aan my. Jy druk 50 of meer boeke wat naderhand net in ’n kas bly lê en jy bly onbekend.

Maar tog is drome die heel beste motiveerders, veral as jy d.m.v. jou droom ’n sprankie vuur na ander kan laat oorspring om ook hulle droom te laat ontvlam. 28 Junie 2017 is Malherbe Uitgewers as maatskappy geregistreer en kon ek my eie stempel afdruk in wat ek wil doen want my gesegde bly steeds: “as jy my hart uithaal, kan ek net sowel alles laat vaar.”

Hierdie inspirasie van Josiah G Holland het deurentyd deur my kop gemaal terwyl ons beplan het: “daar is nie ’n vinnige deurpad na enigiets van waarde nie. Een ding op ’n slag, een dag na die ander. Dit is die geheim. Wat te vinnig gebeur, taan ook maar vinnig. Wat stadig tot stand kom, het ‘n groter kans om te bly.”

Malherbe Uitgewers bestuur ses Facebook-groepe, een vir skrywers, een vir digters en een spesifiek vir Engelse skrywers en digters. Daar is ook die Kinderhoekie/Kiddies Corner vir ons reeks kinderboekies asook ons gesels- en bemarkingsblad Potpourri. Daar is ook ‘n Facebook-groep vir die Namibiese skrywers en digters wat ondersteun word.

Hierdie groepe stel skrywers in staat om te oefen en kritiek en wenke van gevestigde skrywers te ontvang en aan die skryfkompetisies in die groepe deel te neem. Die beste gedigte en kortverhale word op die maatskappy se webwerf vertoon. Van tyd tot tyd word die beste gepubliseer in bundels sonder koste vir die skrywers om dit te bevorder.

Die bundels en boeke van opkomende digters en skrywers word op ‘n ‘druk-op-aanvraag’ op die maatskappy se webwerf gepubliseer en verkoop, wat die skrywers help om hul koste laag te hou.

September 2017 het die maatskappy sy eie drukkery bygevoeg, wat dit makliker en meer koste-effektief gemaak het om op aanvraag vir die outeurs te druk, aangesien die meeste drukkers ‘n ekstra fooi vra by die druk van minder as 20 eksemplare van ‘n boek.

Ek het visie maar visie is nie sodanig wat mense en onderneming laat groei nie. Net passie kan dit doen en daarvan het ons almal baie. Passie vuur visie aan en visie is weer die fokuspunt van die krag wat die passie genereer.

Dit is Malherbe Uitgewers in ‘n neutedop.

Heleen Malherbe

CEO Malherbe Uitgewers

Mike Grobler

Bemarking

https://www.malherbe-uitgewers.co.za/

Hierbo is hul webblad se skakel, besoek dit gerus vir ‘n groot verskeidenheid boeke.

Address: 12B Johnny Ralph Crescent
Margate
KZN
South Africa
Mobile: 066 089 967

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →