Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se jongste buitelug-uitstalling in die Groen Galery vier die Verenigde Nasies se Wêreldomgewingsmaand – waarvan die tema vanjaar “Herstel die Ekostelsel” is – en fokus op sommige van die plante en bome op Paarlberg. In die tuin van die Taalmonument is daar ook plante en struike met medisinale waarde, en naas die Taalmuseum in die Paarl is ‘n historiese wingerd wat steeds jaarliks druiwe lewer.
Die uitstalling se klem is op die veld as apteek, historiese geneeskundige praktyke en ʼn aantal plante met medisinale waarde wat in die tuin voorkom. Dit is ʼn besliste salf vir die lyf en siel waarvan die skoonheid hopelik ook besoekers van enige Covid-19-tamheid sal genees. Boonop gaan verskeie skole dit besoek as deel van hul opvoedkundige programme om die ekostelsel aan leerders bekend te stel. Die program word in samewerking met CapeNature aangebied en daar word veral gekyk na die mens se verhouding met die natuur ten opsigte van brandstigting, waterbesoedeling en -besparing asook aardverhitting.
Die Taalmonument is bevoorreg om in sowat 100 hektaar se natuurprag geleë te wees. Met hierdie voorreg kom daar ook ʼn verantwoordelikheid om die Kaapse fynbos te beskerm en te bevorder deur deurgaans uitheemse indringerspesies met wortel en tak uit te roei. Fynbos is een van die wonders van die wêreld met ongeveer 9 000 spesies wat oor 90 000 km² voorkom – altesaam 6 190 van hierdie spesies is eksklusief tot die Kaapse flora (oftewel endemies).
Die agteruitgang van die ekostelsel beïnvloed die welstand van minstens 3,2 miljard mense, 40% van die wêreldbevolking. Suid-Afrika het meer as 95 000 bekende spesies, wat dit die derde mees biodiverse land ter wêreld maak. Tog word sy natuurlike ruimtes erg bedreig deur menslike optrede, waaronder mynbou, boerdery, stedelike uitbreiding en industriële ontwikkeling.
Die uitstalling in die monument se tuin duur tot Augustus 2021, maar kan aanlyn by www.taalmuseum.co.za/groen-galery/ gesien word, waar vorige uitstallings ook beskikbaar is. Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur
en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van veral opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus.
Vir verdere inligting oor hierdie en ander geleenthede, (aanlyn-)kursusse en Covid-19-protokolle, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18.