Die bekende Afrikaanse skryfster, Wilmarí Jooste, wat tot op datum 34 boeke die lig laat sien het waarvan titels soos – Bekende Vreemdeling, Dertien vir geluk, Dis Mooiweer en liefde, Liefste perske dief, om net ‘n paar te noem, doen die bekendstelling van Die Erfgenaam op 28 Junie 2021 vanaf 10H00 by Karoobrou Restaurant in Oudtshoorn.

Daar sal ook verskeie van haar ander boeke beskikbaar wees.
Hier volg ‘n kort uitreksel uit Die Erfgenaam.
Die eerste gewaarwording waarvan die meisie bewus raak toe sy haar bewussyn herwin waar sy in ’n kar onder die water vasgekeer is, is die van gevaar; dat sy moet wegkom.
Stian Retief kry haar langs die pad en besef dat die meisie aan geheueverlies ly. Sy vriend, kaptein Johan Ebersohn, stel vas dat sy Jolandi Hansen is ’n geskeide vrou met ’n interdik teen haar en ’n baie slegte reputasie. Tog weerspreek alles aan Jolandi se karakter, hierdie beeld.
Johan vermoed van die begin af dat daar meer agter Jolandi se ongeluk sit as wat op die oog af lyk. Hoe vêrder hy delf, hoe meer vrae duik op. Logiese leidrade druis teen alle instinkte in.
Stian is reg van die begin af verlief op die weerlose meisie wat hy onder sy vlerk neem. Hy is egter nie die enigste wat lief raak vir die rooikop, groenoogmeisie nie, maar Johan sal niks doen om die jarelange vriendskap met Stian te verongeluk nie. Hy neem hom egter voor om alles in sy vermoë te doen om Jolandi te beskerm, al is dit ook teen Stian, want mettertyd besef Johan dat jaloesie sy eens beste vriend in ’n vreemde wese verander.
Toe Johan en Wiehahn Lemmer, Stian se swaer, Jolandi se verlede ontrafel besef hulle dat haar lewe in baie groot gevaar is, maar dis juis ook die tyd toe Stian finaal knak. Kan Johan die vrou wat hy met sy hele hart liefhet beskerm en haar dan weer aan Stian afgee?

Olka Bolka het ‘n onderhoud met Wilmari gedoen.
Waar is jy gebore en het jy grootgeword?
Ek is gebore in Zeerust, waar ek my skoolgegaan het tot matriek.
Het jy naskool gaan studeer, indien wel wat?
Ek het van die ouderdom van 9 met dansklasse begin en in standerd 9 het ek my kwalifiserende eksamen gedoen as balletinstruktriese. Direk na matriek het ek Vrystaat toe verhuis en daar in 7 studio’s klasgegee het. Op 40 jarige ouderdom het ek ook ander dansstyle begin doen. Ek is tans gekwalifiseer in ballet, moderne danse, tap, hip-hop en kontemporêre danse.
Wat is jou beroep?
Nadat ek einde 2019 besluit het om my studio’s te sluit. Op die stadium gee ek nie meer klas nie, maar ek is ’n eksaminatrise en ek doen verskeie werkswinkels. Buiten vir die danswerk, bied ek ook ’n praktiese skryfkursus vir beginners aan.
Skryf jy voltyds?
Ek sou graag wou, maar ek is mens wat hou van verskeidenheid. Ek hou my besig met verskeie projekte. My dag is daarom mooi ingedeel om vir alles ’n tydjie toe te laat.
Het jy van kleintyd af al gelees?
Ja, ek het letterlik alles gelees wat voorkom. Ek het ook in die biblioteek geboer!
Wanneer het jy begin skryf en wat was jou eerste verhaal?
Ek het in 1997 my eerste manuskrip vir JP van der Walt en Seuns gestuur. Dit was Wedloop van die hart. Hy is ongelukkig afgekeur, maar daarna dadelik deur Perskor aanvaar. Intussen is my tweede boek, Slingerpad van die hart, deur JP van der Walt en Seuns aanvaar en gepubliseer, met Wedloop van die hart knap daarna.
Hoeveel boeke het jy al geskryf?
Daar is alreeds 34 boeke van my gepubliseer.
Wat is jou genre?
Ek skryf liefdesverhale, liefdesromans vir volwassenes en dan ook ’n bietjie aksieverhale (Hittegolf, Vlug of veg, Die erfgenaam)
Watter tipe boeke lees jy?
Ek hou van spanningsverhale en liefdesverhale.
Is daar ‘n boek wat jy gelees het, wat ‘n groot indruk op jou gemaak het?
Sandra Brown se boek, Charade. Dit was een van die heel beste boeke wat ek nog ooit gelees het!
Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?
Ek is op my heel gelukkigste wanneer ek dinge doen waarvan ek hou. My grootste vrees is om te stagneer, daarom is ek altyd op soek na nuwe uitdagings. ‘Kan nie’ bestaan nie sommer in my woordeboek nie.
Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?
Ek is ’n baie groot introvert! Om sommer te kommunikeer met mense, is vir my bitter moeilik.
Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?
Ek wil my hand waag in ’n fantasiestorie. Op my rype ouderdom, dink ’n mens nie sommer ligtelik aan die toekoms nie. Solank as wat ek my man en kinders het, is ek gelukkig.
Wat inspireer jou?
Ek put werklik inspirasie uit dinge wat ek om my sien en hoor.
As jy met enige iemand oor ‘n koppie koffie kan gesels, wie sal dit wees en hoekom?
Heleen Malherbe. Daardie vrou is vir my ’n ongelooflike inspirasie.
Gaan blomme kyk en ’n uitgebreide bootvaart. Ek sal ook baie graag een van my boeke as draaiboek wou sien.
Hoe wil jy onthou word?
As iemand wat vir my naaste omgee en ander mense inspireer.
Wat is jou luukse tyd vir jouself?
Dis die tyd wanneer ek en my man sommer net die berge invaar en paaie gaan ry. Ons hou albei van die natuur en ek is dol oor fotografie.
Waar kan lesers jou volg, en jou boeke aankoop.
Ek het ’n blad op Facebook: Wilmarí Jooste se publikasies en kuns. Ek het ook ’n aanlynboeke waar my boeke wat beskikbaar is, gekoop kan word. Dis by www.wilmarijooste.co.za/shop
My boeke is ook te koop by Malherbe Uitgewers en by Bargain Books
Tipe Musiek
Ek het ’n baie wye musieksmaak. Ek luister enige iets van klassieke musiek tot moderne musiek
Sanger / Sangeres
Ek is gek oor Bon Jovi se musiek
Rolprent
Soos musiek, hou ek ook van ’n verskeidenheid van rolprente. Ek hou net nie van rillers nie.
Akteur / Aktrise
Bruce Willis
Kos en drankie
Pasta en braaivleis. Koffie!
Ontspanning
Om agter my kunstafel te sit.
Boek
Te veel om op te noem.
Vakansie bestemming
Enige plek met mooi natuurskoon
Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.
Kosmaak, huisskoonmaak, stryk, ’n klomp mense om my.

Wilmari boeke is beskikbaar by Malherbe Utgewers.
Jy kan ook haar webblad besoek www.wilmarijooste.co.za/shop