Taalmonument vier Jeugdag met (virtuele) program. Drakenstein-kunstenaars sal jonges motiveer en vermaak.

Ter ere van Jeugdag 2021 bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ʼn opwindende gratis program wat ter plaatse opgeneem en vanaf 16 Junie 2021 aanlyn beskikbaar sal wees vir ʼn wêreldwye gehoor.

Gegewe die huidige uitdagings, is dit ʼn geleentheid vir die instelling om hul bande met die gemeenskap te versterk asook musiekbeoefening en kulturele loopbane onder die jeug te bevorder. Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, wil die instelling ook Afrikaans in al haar diversiteit en gedaantes ter bevordering van nasiebou en maatskaplike samehorigheid vier.

Die program self vind op 5 Junie by die Taalmonument plaas waar 100 uitgenooide jongmense na die gewilde en plaaslik bekende Nosipho H se motiveringspraatjie en sangitems kan luister. Dit word opgevolg met Zebulon Kochk, 2020-wenner van ʼn Kokertoekenning vir die bevordering van Afrikaans onder die Suid-Afrikaanse jeug, wat sy gedigte voordra. Daarna sal Bianca Goosen, wat onder meer al by talle kunsfeeste opgetree het, asook die jong opkomende Wellingtonse sterre RJay & LKay die gaste met musiek en sang vermaak. Die hele geleentheid sal professioneel opgeneem en geredigeer word om ʼn pragtige program vir ʼn wêreldwye gehoor saam te stel. Dit sal boonop unieke skote van die monument insluit sodat kykers ʼn beter idee kry wat die instelling als bied.

“Plaaslike talente word dikwels tydens groot geleenthede misgekyk of uitgebuit en word ook nie altyd na waarde geskat nie,” sê Jonas. “Om hierdie redes wil ons ʼn platform aan plaaslike kunstenaars bied om te kan groei, vaardighede te slyp en broodnodige blootstelling te bekom. Vermaak het immers die krag om ons te verenig en in krisistye aan mekaar te verbind.”

Volgens Jonas het die opstande van 16 Junie 1976 verreikende gevolge vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die Afrikaanse wêreld gehad. “Die tragiese gebeure kan seer sekerlik beskou word as een van die grootste flaters in die geskiedenis van hierdie relatief jong Afrikataal. Dekades later gaan die taal steeds gebuk onder negatiewe persepsies weens die opstand, daarom bied Jeugdag ons die kans om te herbesin oor die instelling se omstrede verlede en die by tye steeds verdeelde taalgemeenskap wat ons bedien.”

Die Jeugdagprogram sal vanaf 09:00 op Woensdag, 16 Junie 2021, gratis op die ATM se Facebookblad en YouTube-kanaal beskikbaar wees waar enigiemand dit enige tyd kan bekyk. Vir verdere inligting oor hierdie en ander geleenthede, (aanlyn-)kursusse en Covid-19-protokolle, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →