Die boek van Hoop deur Marilize Terblanche-Swart.

Wanneer jy die boek vat en begin lees voel dit asof jy tussen die hartseer, liefde en hoop kan wegdwaal.

Hier is ‘n uittreksel uit die voorwoord om jou ook lus te maak om die boek te kry want dis egte stories wat jou hart raak.

“Hierdie boek was my droom vandat ek kan onthou…” – Die skrywer
Lank gelede was daar ‘n groot porseleinhond in ons sitkamer en gipsafdrukke teen die mure. Cora-Marie se stryd teen kanker was gereeld in die Huisgenoot en daardie kere is ek nie toegelaat om die tydskrif deur te blaai nie. Die foto’s van die siek tannie sou my kwansuis te veel ontstel het, daarom het Mamma dit weggesteek saam met Marita van der Vyver se veelbesproke boek, Die dinge van ‘n kind. Wanneer Mamma by die werk was, het ek dit versigtig uit die wegsteekplek gehaal en ‘n bladsy of twee per dag gelees. Ek het altyd seker gemaak dat my handjies skoon was en die boek presies teruggesit word waar ek dit gekry het. Ek het gereeld gedroom oor balletskoentjies en ‘n pienk tutu… My hartsbegeertes was ‘n verjaarsdagpartytjie by die Wimpy en ‘n Prinses Diana papierpop. Ek onthou nog die geur van rooibostee, want ek was allergies vir babamelk… Chocolate Log-sjokolade en boeke vol feëverhale…. Heidi op televisie en ‘n babapop met ‘n stootwaentjie, houtbedjie én rottangwiegie. Die pop se hare stomp afgesny, want “Mamma, babas se hare is nie so lank nie…” Ons sit in ‘n kartondoos… Ek, die pop en die meubeltjies. Ons speel huis-huis. Ek is kléin, maar my verbeelding is gróót…

“Cornél, hoekom ken jy nie jou geskiedenis-antwoorde nie?” vra Mamma kwaai wanneer sy van die werk af kom. Ek het reeds die skottelgoedjies mooi gewas en die wasbak blink gevryf, sodat Mamma nie moet raas nie. Dit is eintlik my sussie se werk, want sy is die oudste. Maar Sussie sien dit andersom, want ék is die jongste en behoort al die werk te doen. Ek wil vir Mamma sê Cornél het heeldag prentjies van sexy sangers in ou tydskrifte gesoek, maar ek doen dit nie, want ek weet in elk geval nie wat sexy beteken nie… Netnou is dit ‘n vloekwoord. “Mamma, kan ék antwoord?” My ogies groot, groen en opgewonde. Angstig vir aandag en erkenning. “My liefie!” Sy vryf oor my donkerbruin hare. “Kom ons gaan maak tee… En kam die koeke uit jou hare.”
Sjoe, dis ‘n lekker plek hierdie… Net boeke wáár jy kyk. Voor, by die toonbank, sit twee ietwat onvriendelike tannies wat bril dra. Hulle kyk vir my. Ek glimlag skaam en kyk met groot ogies na my ma. “Hoe oud is sy?” vra een van die tannies. Sy loer kwaai oor haar bril. Dit lyk of sy somme maak in haar kop. “Drie jaar”, antwoord Mamma, sy sê altyd net die nodigste. “Goed, die kinderboeke is dáár!” Die tannie wys na ‘n droomland. Alles vervaag om my. Ek het tuisgekom….
“Pappa, kan ons weer vandag by die see stop?” Twee pare groen oë ontmoet mekaar. Syne sag. Myne afwagtend. “Ek gaan net gou sigarette koop.” Hy krap munte uit onder die matjie by sy voete. Hy bly ‘n rukkie weg en kom terug met ‘n pakkie Niknaks vir my. Ons ry al teen die kus af met die ou, blou bakkie, tot ons uiteindelik stop. Dit is Sondagmiddag en daar is nie ander motors in die parkeerarea nie. Ek hardloop by die trappe af tot op die sagte sand. “Pappa, hoe groot is die see?” vra ek opgewek. Hy antwoord my nie. Seker al moeg vir al my vrae. Maar ek gee nie eintlik om nie. Ek het Niknaks én ek kan op die strand baljaar. Ek mag net nie vir my boetie en sussie sê van die bederfie nie. Dis my en Pappa se geheim…

Om verder te lees sal jy die boek moet kry!

Olka Bolka het met ‘n onderhoud meer oor Marilize uit gevind:

Waar is jy gebore en het jy grootgeword?

Ek is gebore op Oudtshoorn, ‘n pragtige dorp in die Klein-Karoo. Wanneer jy by die dorp inry, kry jy ‘n tipe van ‘n ouwêreldse gevoel…

My ouers het egter, ten tye van my geboorte, hulself reeds permanent in Mosselbaai gevestig, so “huis” was maar nog altyd dié kusdorp in die prentjiemooi Tuinroete.

Ek het hier grootgeword en net nooit weggegaan nie…

Het jy naskool gaan studeer, indien wel wat?

Ek het aanvanklik ná skool joernalistiek geswot en mettertyd ook ‘n diploma in sakebestuur verwerf.  

Ek wil graag mettertyd my kennis verbreed deur ‘n kursus in bemarking en digitale ontwerp te volg en sommer myself, bloot vir die pret, as voorkomskonsultant ook bekwaam.

Wat is jou beroep?

Ek is ‘n kantoorbestuurder en algemene assistentbestuurder by ‘n plaaslike onderneming wat verhuisings, die opberging van meubels, sleepwa verhurings en veilings doen. Hoewel dit nie deel gevorm het van my kleindogtertjiedrome nie, vind ek dit baie stimulerend en is ek reeds meer as 12 jaar werksaam by dieselfde onderneming.

Skryf jy voltyds?

Nee, ek skryf letterlik soos die lus my beetpak. Ek glo nie ek sal ooit voltyds skryf nie, maar ek glo wél daarin dat mens nooit “nooit” moet sê nie…

Het jy van kleintyd af al gelees?

Ja, ek wil dit nooit vir mense vertel nie, want dit klink nie geloofwaardig nie, maar my ouma aan moederskant het my op die ouderdom van drie jaar leer lees. Kort daarna het my ma my vir die eerste keer biblioteek toe geneem en daarna het ek nooit ophou lees nie. Ek het van jongs af eerder gelees as om speletjies te speel of myself besig te hou met “normale” kinderdinge. Vandag is ek nie spyt nie, dit het my uitstekende taalvaardighede geleer en my ook gehelp om redelik baie kennis in te win oor ‘n wye verskeidenheid van onderwerpe.

Wanneer het jy begin skryf en wat was jou eerste verhaal?

Omdat ek vroeg begin lees het, het stories my maar altyd gefassineer. Ek het letterlik my eie begin skryf toe ek léér skryf het. Met my heel eerste storie het ek reeds geld verdien in die destydse Sub B toe my klasonderwyseres my verhaal na die skoolhoof gestuur het om te lees. Ons moes oor ‘n pêrel skryf en my storie was blykbaar baie verbeeldingryk.

Hoeveel boeke het jy al geskryf?

Ek het my eerste (en tot dusver enigste) boek vrygestel in 2020. Midde-in die wêreldwye COVID-19 pandemie het ek dit goed gedink om die titel daarvan “Die boek van hoop” te maak. Verskeie van my skryfwerk is ook reeds in saamgestelde bundels deur verskeie uitgewers opgeneem.

Wat is jou genre?

Die boek van hoop is Christelike nie-fiksie (ware verhale), maar ek skryf ook gedigte en fiksie. Die boek van hoop is in joernalistieke styl geskryf (amper soos die in-diepte tipe artikels wat byvoorbeeld in die Huisgenoot gepubliseer word).

Watter tipe boeke lees jy?

Ek lees graag Afrikaanse boeke, veral speurverhale en biografieë, maar soms vang iets uit ‘n ander genre my oog en dan probeer ek dit. Ek is gek oor lees, alhoewel ek min tyd daarvoor kry.

Is daar ‘n boek wat jy gelees het, wat ‘n groot indruk op jou gemaak het?

Ja, Die donker god deur Fransi Phillips, Marita van der Vyver se Wegkomkans en Maretha Maartens se Ruitevrou. Ek is mal oor boeke met sterk vroulike karakters.

Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?

Ek is ‘n introvert en het ‘n empatiese persoonlikheid. Ons seuntjie, Elijah (amper 5) is my hart se punt. Ek en sy pa was hoërskoolliefdes en is hierdie jaar al ‘n dekade getroud. Behalwe lees en skryf, kook ek graag en is ek versot op binnenshuise versiering, geleenthede reël en meubels restoureer. Ek pak ook nou en dan liefdadigheidsprojekte aan, meestal ten bate van hulpbehoewende babas. Ek is op my gelukkigste wanneer ek saam met my gesin is en ons is regte huishenne.

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

Ek het ongelooflike erge hoogtevrees en, hoewel ek al meer as ‘n dekade gelede my bestuurderslisensie met die eerste poging gekry het, bestuur ek glad nie.

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

Ek wil graag binnekort ‘n roman vrystel en mettertyd as vryskut-joernalis aansluit by enige groot mediagroep. Miskien ‘n blog ook begin en meer optree as motiveringspreker… Kom ons kyk…

Wat inspireer jou?

Ek put inspirasie uit enigiets, want ek kyk met sagte oë na alles. Indien ek iets móét uitsonder sal dit mense wees wat uitstyg bo moeilike omstandighede.

As jy met enigeiemand oor ‘n koppie koffie kan gesels, wie sal dit wees en hoekom?

Soos voorheen genoem, is ek ‘n introvert en sal ek veel eerder alleen sit en koffie drink, maar vir die doeleindes van die onderhoud, beantwoord ek graag die vraag soos volg: Ek sal graag, oor ‘n beker cappuccino en karamel sjokoladekoek, ‘n onderhoud wil voer met die bekende aktrise, Selma Blair en haar stryd met veelvuldige sklerose.

Ek sal graag eendag ‘n boek wil saamstel met verskeie verhale wat handel oor vroue met chroniese of terminale siektes. Dit sal in die lyn wees van Die boek van hoop, maar die verhale sal nie (soos in die geval van laasgenoemde) oor so ‘n breë spektrum strek nie. Die teikenmark sal juis lyers van dié tipe siektes en hul families wees.

Wat is op jou emmerskoplys?

Ek is nie juis avontuurlustig nie, so moenie iets té interessant verwag nie… 😊 My droom is om al die museums en sogenaamde spookhuise in Suid-Afrika te besoek en ek wil graag my vrees vir bestuur oorkom.

Hoe wil jy onthou word?

Ek wil graag onthou word as iemand met ‘n goeie, omgee hart wat almal met respek behandel het, ongeag van hul herkoms, ras, klas of beroep.

Verder sal ek voel ek het my doel in die lewe bereik as my seuntjie eendag na my verwys as “’n goeie mamma”.

Wat is jou luukse tyd vir jouself?

Ek hou daarvan om in die bed te lê en lees terwyl ek peusel aan alles wat ongesond is of om Afrikaanse televisiereekse op Showmax te kyk.

Wat is jou gunsteling:

Tipe Musiek

Ek luister graag na gospelmusiek of enige rustige, agtergrondtipe musiek.

Sanger / Sangeres

Ek luister op die oomblik graag na die gospelgroep, Hillsong, Amity Dry en Andriëtte Norman.

Internasionaal – Gone Girl, The Danish Girl en White Oleander

Rolprent

Plaaslik: Toorbos

Akteur / Aktrise

Plaaslik – Milan Murray, Rolanda Marais en Gérard Rudolf

Internasionaal – Sarah Jessica Parker en Eddie Redmayne

Kos – Lamsboud met knoffel en roosmaryn, die meeste pastadisse of enigiets met aartappel. Eintlik eet ek veel eerder nagereg as hoofgereg en enigiets met baie sjokolade in, is my gunsteling!

Drankie – Cappuccino of skemerkelkies 

Ontspanning

Ek besoek graag museums, dwaal rond in tweedehandse winkels, hou piekniek iewers in die natuur of bly in die bed met ‘n boek.

Boek

Die donker god – Fransi Phillips

Die Mannheim-sage – Lerina Erasmus

Ingrid Jonker, beeld van ‘n digterslewe – Petrovna Metelerkamp

Vakansie bestemming

Enige plek waar daar ‘n outydse, afgeleë huisie met ‘n binnenshuise kaggel en ‘n mooi uitsig is…

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge

  • Sekssisme
  • Onregverdigheid
  • Wanneer iemand disrespekvol optree teenoor my of neerhalend met my praat.
  • Kindermishandeling

Waar kan lesers jou volg, en jou boeke aankoop?

Lesers kan my gerus op Facebook volg by @marilizeswartskrywer of my per e-pos kontak by dieboekvanhoop@gmail.com. Die boek van hoop kan by jou naaste Bargain Books aangekoop word, by Prisma Boekwinkel in Pretoria, Cup of Grace in Hermanus of direk by my in Mosselbaai.

Die elektroniese weergawe van die boek kan op Amazon aangekoop word en die sagtebandboek is ook beskikbaar op Malherbe Uitgewers se webwerf. Dit kan ook uitgeneem word by die plaaslike biblioteek in Hartenbos. Daar word, interessantheidshalwe, melding gemaak van hierdie spesifieke biblioteek in my boek, siende dat ek my liefde vir lees dáár ontdek en gevoed het.

Facebook https://www.facebook.com/marilizeswartskrywer

Related posts