HUNTER LEITE OORKOM HAAR GROOTSTE VRESE IN NUWE ENKELSNIT.

deur Elingua Editorial Services

Spits jou ore, want HunTer Leite se nuutste enkelsnit, Hoogtevrees, is beslis nie iets wat jy wil mis nie. Die liedjie is pas vrygestel en reg om die radiogolwe oor te neem. Dit spog met ’n strelende kontemporêre klank en diep lirieke, uit die pen van Rudi Claase, waarby luisteraars van alle ouderdomme sal aanklank vind.

Foto Krediete Marhihess Leite.

Hoogtevrees is ’n baie persoonlike liedjie wat gaan oor die vrees om alleen te wees in liefde en om iemand te vra om by jou te bly – deur goeie en slegte tye.

“Ek het ’n baie spesiale persoon ontmoet en gevra: ‘Belowe dat jy by my sal bly’. Die liedjie gaan oor daardie eerste gewaarwording van vrees… wanneer jou keel letterlik wil toetrek daarvan,” deel sy oor hierdie lied wat haar fluweelstem soos ’n handskoen pas. “Dis vir my baie spesiaal, omdat ek al self deur dit is en dit soms steeds ervaar. Ek raak baie emosioneel wanneer ek dit sing, omdat dit voel asof ek vir die eerste keer werklik uiting kan gee aan my gevoelens.”  

Die snit word gekomplementeer deur ’n ewe hartroerende musiekvideo wat deur Soundz of HunTer Studio in Magaliesburg en Hartebeespoortdam verfilm is. “Die video beeld uit dat daar verskillende vrese is en verskillende tonele word gebruik om dit oor te dra. My doel is om mense te motiveer om nie in sak en as te gaan sit wanneer dit voel of vrees jou wil oorweldig nie, want almal het vrese en dit kan oorkom word,” vertel die sangeres. “Dis ’n hartsvideo wat seer en kwesbaarheid, asook die oorwinning van vrees uitbeeld.”

Hoogtevrees is die kunstenaar se vyfde Afrikaanse enkelsnit en volg in die suksesvolle voetspore van vorige treffers soos Toe Laat My In, Gee Nooit Op Gee Nooit in en Halfway Around The World wat bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier het en waarvan die musiekvideo’s ook gereeld op die kassie te sien was.

HunTer is ’n veelsydige en talentvolle sanger en liedjieskrywer wat nog altyd versot was op musiek en gehore begin vermaak het op die ouderdom van vyftien, nadat sy ’n openingsvertoning vir Manuel Escorcio gedoen het. As kind was sy nie net lief daarvoor om aan karaoke te sing nie, maar ook aan Eisteddfods en ander kompetisies deel te neem.

Hierdie diereliefhebber, wat op ’n kleinhoewe in Benoni groot geword het, het oor die jare verskeie hoogtepunte in haar loopbaan bereik en verskeie plaaslike en internasionale toekennings ingepalm.

Die sanger verklap dat sy mal is daaroor om na betekenisvolle musiek te luister en dat sy groot groot bewondering het vir ’n verskeidenheid internasionale musikante soos Céline Dion, Toni Braxton en Cher, terwyl sy plaaslik graag saam met name soos Karen Zoid en Sarah Theron sou wou werk.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, werk sy as radio-omroeper en musiekregisseur en is sy besig om Grafologie te studeer. Sy is ook besig om te werk aan haar nuwe Afrikaanse album en om opnames te doen saam met internasionale kunstenaars in Amerika, Ierland en Meksiko.

“Musiek is my bloedgroep,” sê HunTer en daarom maak sy dit deel van elke aspek van haar lewe. Hoogtevrees gaan nie net hoop gee vir diegene wat dit nodig het nie, maar is ook die begin van ’n baie belowende nuwe hoofstuk in hierdie talentvolle kunstenaar se musiekloopbaan.

Olka Bolka het ‘n onderhoud met HunTer gehad:

Waar is jy gebore en het jy grootgeword?

Ek is gebore in Kempton Park en het groot geword in Benoni 

Wat het jy na Matriek gedoen?

Ek het my sang loopbaan ten volle begin

Wat doen jy behalwe musiek?

Ek is ‘n regisseur in musiek videos en doen fotografie en skilder ook so bietjie.

Vertel my van jou nuutse enkelsnit?

My nuutste enkelsnit le na aan my hart, die naam daarvan is Hoogtevrees, dit is n pragtige lied geskryf deur Rudi Claase en die musiek verwerking is deur my gedoen.

Skryf jy self jou liedjies?

Ek skryf baie van my liedjies self, en dan het ek anders skrywers ook soos Claudia Cox van Benoni. Hoogtevrees is deur Rudi geskryf. En dan is ek besig om ook saam met skrywers van oorsee te werk.  

Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?

Ek is ‘n sagte hartsmens wat mense se seer kry diep aanvoel, en ek is ook n geen nonsens mens (hetsy die rooi hare) wat glad nie van onregverdigheid hou nie. 

Hoe het jy 2020 tot nou in 2021 ervaar?

Dit was en is nogsteeds vir my baie moeilik, veral as kunstenaar om geld te kan verdien om in alle opsigte vir my familie te kan sorg. Ek het in 2020 en 2021 ervaar dat ek glad nie kreatief kon wees tydens die Covid 19 inperkings nie, my muse was ook toe gesluit. 

Watse invloed het covid op jou musiek loopbaan gehad , en nog steeds?

Daar is positiewe en negatiewe invloede.

Die optredes van nul tot geen elke keer as ons in n inperking geplaas word, is definitief n groot negatiewe invloed.  

Dan aan die ander kant kon en kan ek steeds lewendige optredes hou op sosiale media platforms soos facebook.

Gelukkig kon ek hoogtevrees opneem, en n baie spesiale vriendin het dit vir my moontlik gemaak om hoogtevrees te kon bemark deur die PR Maatskappy te betaal spesifiek om hoogtevrees vry te stel. 

Daar was gelukkig n ligpunt toe Paul Rotherham my n posisie aangebied het om n country radio program te kon he op radio Caxton wat intussen toe gemaak het, maar weereens het die Here my geseen met n ander radio posisie by Ekurhuleni Fm (93.9) Ek doen ook n paar aanlyn radio programme vir Bulldogs Radio en is besig met nog onderhandelinge. 

Wat is jou gunsteling Musiek genre?

Volwasse kontemporere musiek styl

Som jou musiekstyl in een sin op?

Volwasse kontemporere musiekstyl, wat balades insluit van pop tot country. 

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

Ek is n introvert, en hou van tyd op my eie om asem te skep. 

Wat inspireer jou?

God inspireer my, die natuur, stories wat ek lees van mense wat deur diep waters gaan en bo uitkom en dan ander inspireer.    

As jy saam met enigiemand in die wêreld kan sing, wie sal dit wees en hoekom?

Brandi Carlile, want sy sing oor waarhede.

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

Musiek is my bloedgroep, so enigiets met musiek te doen is waarop ek konsentreer. Ek skryf nuwe liedjies en werk aan my nuwe enkelsnit.

 Ek is genomineer vir n hele paar toekennings oorsee die jaar in Amerika en Europa. Ek gaan meer op radio konsentreer en ek doen ook n hele paar stem advertensies vir radio,

Wat is jou droom?

Om die wereld te toer en my musiek te deel en ander te inspireer. 

Wat is op jou te doen lys?

Om by die Grand Ole Opry in Nashville op te tree.

Om Grand Canyon toe te gaan, om die Noordeligte te gaan sien.  En nog vele meer, te veel om op te noem.

Het jy enige stokperdjies?

Ja ek hou van tuinmaak en skilder.

Hou jy van katte en/of honde?

Ek het honde en katte, en is baie lief vir hulle almal. Ek is n groot diere liefhebber. Renosters is hoog op my lys om mense bewus te maak dat ons hulle moet beskerm.

Wanneer verjaar jy?

1 Maart

Wat is jou gunsteling:

Tipe Musiek: Volwasse kontemporere musiek, enigiets sielsvol

Sangers: Sarah Theron, Karen Zoid. Brandi Carlile, Kelly Clarkson, Pink.

Band: The Highwomen.

Gunsteling liedjie. The Highwomen

Rolprent: Shrek

Akteurs: Natasja Jacobs, Michelle Botes Jennifer Aniston, Caherine Zita Jones, Cameron Diaz.

Reeks: Grace en Frankie

Kos en drankie. Bobotie en enige portugese dis. Ek is baie lief vir n goeie koffie ( party noem my n koffie snop) Dan geniet ek ook n goeie Whiskey. 

Ontspanning. Maak tuin. gaan stap met die perde. ek ontspan deur in die natuur te wees.

Boek: Daar is so baie, op die ooblik is dit Confessions of a serial Songwriter en Brandi Carlile se Broken Horses

Vakansie bestemming: Die Drakensberge

Kleur: Turkooisblou 

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.

Onregverdigheid

Te droe biltong

Mense wat vir my jok

As mense diere seer maak

Hoogtevrees is nou aanlyn beskikbaar. Laai dit hier af: X. 

VOLG HAAR OP:

Facebook – https://www.facebook.com/HunTerLeiteSA2

Instagram – @hunterleiteza

TikToktiktok.com/@HunTerLeite

Webblad – www.hunterleite.co.za

YouTubehttps://youtube.com/channel/UC-72YTYAqftvetH6qY5scLg

VIR MEER INLIGTING OOR DIE ENKELSNIT EN KUNSTENAAR, KONTAK:

Christien de Klerk: christien@c-dk.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →