Ná vyf seisoene van Getroud met Rugby is dit vir Deon Opperman en sy span ’n eer dat ’n nuwe seisoen van dié gewilde kykNET-sepie op Maandag 19 Julie begin het. Seisoen 6 skop op ’n hartseer noot af wanneer die Stryders op Dinsdag 20 Julie, finaal vir Reitz Bekker (Sean van Noordwyk) groet. Reitz was in ’n ernstige motorongeluk, wat hom breindood gelaat het. Dit is ’n moeilike en hartseer tyd, maar “Stryders bloed is bloedrooi,” en die hele Stryder-gemeenskap sal weer opstaan.

Groot en opwindende storielyne propvol intrige, drama en romanse wag om die draai! In die volgende drie maande kan kykers uitsien om die twee Greeff-babas te ontmoet, ’n vinnige troue word beplan, én ’n klompie nuwe karakters gaan die Stryders se lewens effens kom omvêrgooi…
Buks (Adriaan Marais) en Nesie (Melissa Massyn) kry ’n nuwe huis. Kykers kan daarna uitsien om Nesie se ouers en ouma te ontmoet, en niemand anders nie as die aktrise Hélène Truter vorm deel van dié eiesoortige familietjie.
Ryno (Adrian Steyn) en Thinus (Arno Marais) se huwelik word getoets wanneer Thinus ’n onweerstaanbare werksgeleentheid in die Kaap kry en Ryno besluit om nie sy kapteinskap by die Stryders prys te gee nie. Gaan die einde van hulle liefde ’n nuwe hoofstuk vir Ryno beteken?
Die trauma van Reitz se dood het ’n negatiewe uitwerking op Amanda (Natasja Jacobs) se persoonlikheid. Die dinamika in die Stryders-bemarkingskantoor verander drasties. Sal Kristien (Marlee van der Merwe), Amanda en Lienkie (Mandi du Plooy-Baard) die nuwe uitdagings deurstaan?
Kykers ontmoet Liam (David Johnson) se nefie, wat pas uit die tronk vrygelaat is. Festus (Louis van Niekerk) en Koekie (Rina Nienaber) is in die sop oor hulle geldmaakplanne.
Fafa se orkes gaan van krag tot krag, terwyl Bibi (Stephanie Petersen) en Maryke (Marijke Coetser) nie grondvat by hulle oorvol salon nie. ’n Nuwe, manlike, haarstilis word aangestel…
Die sangsensasie, Elandré, kom tree by Pottie’s op!
Kykers moet vasgenael bly op kykNET, DStv kanaal 144, op weeksdae om 18:00. Vir enige navrae, kontak Michelle Nortjé by michelle.nortje@getroudmetrugby.co.za