Wedevaringe en reise as lugvaartingeneur gee aanleiding tot Kobus de Villiers se boeke.

Olka Bolka het Kobus gevra om sy biografie met ons te deel.

Dit voel vreemd om oor myself as persoon te praat. Ek was altyd een van die ‘backroom boys’ by die werk, die ouens met die wit jasse, dik brille en penne in die bosak. Ek is ʼn lugvaartingenieur en my vrou het linguistiek studeer.

    Ek het as kaalvoetseun op die myndorp, Welkom, in die Vrystaat groot geword en weens die nuus en algemene invloed van die 60s se koue oorlog en ruimteprogramme, was ek so

beïndruk met al die nuwe idees en tegnologie, ek wou met alle mag vuurpyle en vliegtuie ontwerp en bou. Die mense om my het dit nie verstaan nie, gedink ek is bietjie snaaks en ek verwar selfs die klas en ons Voorligting juffrou met my verduideliking dat ek eendag by Caltech in Pasadena wil studeer en dan by NASA se Jet Propulsion Laboratory (JPL), gaan werk.

    My familie is meestal onderwysers, kuns en musiek, en daar is ʼn paar predikante en so een of twee (my pa ingesluit) wat iets te doen het met die mediese wetenskap. Net my een oupa, ʼn plaasboer aan my ma se kant, verstaan my en moedig my aan.

    Soos van al die jong manne destyds verwag word, doen ek my Diensplig en Grensdiens. Met ‘n gesukkel gaan studeer ek ingenieurswese. Omdat ek iets so uitheems wil aanpak kry ek min steun van die familie en moet ek vir my eie studies betaal.

     My eerste boek beskryf hoe ek uiteindelik my droom bereik het en in verskeie lande aan die nuutste vliegtuie en ruimtetuie gewerk het. 

Daarna het ek begin skryf oor ons ander ervaringe in vreemde lande en ‘n boek vir mense wat in die buiteland woon en na SA verlang.

Ons is nou afgetree en woon in Port Moody, op die weskus Kanada. Ons spandeer ook met rukke tyd by ons kuierplek in die suide van Frankryk.

    Hoe ons ontmoet het en uiteindelik in Kanada beland het is ʼn lang en half ongelooflike storie veral as mens in ag neem waar ek groot geword het en dat sy, ʼn beeldskone Franse meisie, naby Le Lavandou in die Côte d’Azur haar kinderjare deurgebring het. Beide van ons het miere gehad en wou om verskillende redes die wêreld gaan verken. Om een of ander rede het ek ʼn gawe om ingewikkelde tegniese goed te kan ontwerp en dit het vir my geleenthede geskep om in die buiteland te studeer en te werk. Dit is ook hoe ons toe die wêreld verder saam gaan verken het.

1 Waar is jy gebore en het jy grootgeword?

Gebore in Bloemfontein en het in Welkom groot geword.

 2 Het jy na skool gaan studeer, indien wel wat?

Ek het meganiese Ingenieurswese by Tukkies studeer, daarna Vlietuigontwerp by die School of Aeronautics in Milan, Italië. Later jare verder nagraadse werk gedoen by CalTech in die VSA.

3 Wat is jou beroep?

Lugvaartingenieur. Ek het in 2010 op 55-jarige ouderdom afgetree.

4 Skryf jy voltyds?

Nee, deeltyds. Skryf is een van vele goed wat ek deesdae doen.

 5 Het jy van kleintyd af al gelees?

Ja, baie lief gewees vir lees as kind. Ek en my vrou lees nog steeds baie, ons huis lyk soos ʼn biblioteek.

6 Wanneer het jy begin skryf en wat was jou eerste verhaal?

Ek was 7, my eerste ‘boek’ was ʼn storie van ʼn Franse renjaer, ‘Die man sonder senuwees!’

7 Hoeveel boeke het jy al geskryf?

Verskeie, maar sover is daar 4 wat gepubliseer is.

 8 Wat is jou genre?

Memoirs en geskiedkundige fiksie. Hoofsaaklik boeke gebaseer op my omswerwinge en vreemde ervaringe terwyl ek aan uiters geheime lugvaartprojekte gewerk het in SA en vreemde lande.

9 Watter tipe boeke lees jy?

Ek lees baie wyd. Spioenasie, speurverhale, reisjoernale en nuwe boeke wat handel oor onlangse gebeure in die wêreld.

10 Is daar ‘n boek wat jy gelees het, wat ‘n groot indruk op jou gemaak het?

Verskeie boeke op verskillende tye in my lewe, dit is baie moeilik om net een te kies!

11 Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?

Dit voel vreemd om oor myself as persoon te praat. Ek was altyd een van die ‘backroom boys’ by die werk, die ouens met die wit jasse, dik brille en penne in die bosak.

Ek het as kaalvoetseun op die myndorp, Welkom, in die Vrystaat groot geword en weens die nuus en algemene invloed van die 60s se koue oorlog en ruimteprogramme, wou ek met alle mag vuurpyle en vliegtuie ontwerp en bou.

    Soos van al die jong manne verwag was, doen ek my Diensplig en Grensdiens. Met ‘n gesukkel gaan studeer ek ingenieurswese. Omdat ek iets so uitheems wil aanpak kry ek min steun van die familie en moet ek vir my eie studies betaal.

     My eerste boek beskryf hoe ek uiteindelik my droom bereik het en in verskeie lande aan die nuutste vliegtuie en ruimtetuie gewerk het.

Ek en my Franse vrou is nou afgetree en woon op die weskus Kanada. Ons het ook ‘n kuierplek in die suide van Frankryk.

    Hoe ons ontmoet het en uiteindelik in Kanada beland het is ʼn lang en ongelooflike storie veral as mens in ag neem waar ek groot geword het en dat sy, ʼn beeldskone Franse meisie, naby Le Lavandou in die Côte d’Azur haar kinderjare deurgebring het.

Beide van ons het miere gehad en wou om verskillende redes die wêreld gaan verken.

12 Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

Weens my werk op geheime projekte is daar baie goed wat mense nie weet nie!

13 Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

My 5e boek, ʼn Poskaart uit Moskou’, is nou byna klaar. Sodra Covid ons weer toelaat gaan ons weer begin reis. My vrou het onder andere ʼn ruk in Indië gewoon, so sy wil weer daar ʼn draai daar gaan maak.

14 Wat inspireer jou?

Van kleins af was ek baie nuuskierig en wou weet hoe goed werk. Ons reis gereeld, probeer nuwe kossoorte en vind altyd iets nuuts om te gaan probeer. Fotografie, mense en hulle kulture en die natuur. My vrou, kinders en kleinkinders en hulle doen en late is ook ʼn groot inspirasie.

15 As jy met enige iemand oor ‘n koppie koffie kan gesels, wie sal dit wees en hoekom?

Kelly Johnson, John le Carré, Colin Chapman, Ayrton Senna, Winston Churchill en ʼn paar ander. Ek kan so baie by hulle leer!

16 Wat is op jou emmerskoplys?

Ek het van ʼn baie jong ouderdom af ʼn baie lang lys gehad. As jy my boeke lees kan jy sien wat dit was en hoeveel daarvan ek reeds ervaar het! My probleem is dat die lys elke keer groei nadat ek iets nuuts probeer het. Baie min mense het so baie goed al gedoen en ervaar!

17 Hoe wil jy onthou word?

Baie jare gelede het ek geleer dat dit vir my meer belangrik is dat ek my drome nastreef en goed gaan doen en ondersoek waarin ek belang stel. Mense kan my onthou soos hulle my ervaar het, te veel mense tree op om ander te beïndruk of om op ʼn sekere manier onthou te word. In die proses verloor hulle die kern van hul lewe. Ek is nie hier om onthou te word nie, dit is die wat agter bly se keuse.

18 Wat is jou luukse tyd vir jouself?

Ons huis het ʼn kelderverdieping. Ek het dit omskep in ʼn werkswinkel en studeerkamer. Ek het ʼn ou kat en ons twee werk daar in die kelder waar ons saam dink, goed skryf en ek ontwerp en bou kontrepsies wat ons daar toets. Tyd in die kelder is hemels.

19 Waar kan lesers jou volg, en jou boeke aankoop?

In SA is my boeke beskikbaar by Malherbe Uitgewers en Bargain Books. In die buiteland verkoop my boeke flink op Amazon.

Malherbe Uitgewers-Publishers – Kobus de Villiers

 My blog is hier; https://howzit.ca/blog/slypsteen/

Wat is jou gunsteling:

Tipe Musiek:

Klassieke musiek en die 60s se popmusiek.

 Sanger / Sangeres

Dit hang af na watter musiek ek luister. Daar is baie.

Rolprent

Grand Prix, Top Gun, Love Story, Monty Python, Apollo 13, ens.

Akteur / Aktrise

Robin Williams, Goldy Hawn, Paul Newman, Meryl Streep, Steve McQueen.

Kos en drankie

Met ʼn Franse vrou is kos en wyn baie belangrik! Beeshaas, potjiekos verskeie seekosse. (Sy het by die see groot geword). Ons is lief vir wyn en ons gunsteling is ʼn Kir.

Ontspanning

Lees, stap, fotografie en kuier met my vrou.

Boek

Te veel om te noem, daar is ʼn hoop op my bedkassie wat nog gelees moet word!

Vakansie bestemming

Ons rits baie rond, kuier by die familie in Europa en gaan toer gewoonlik by nuwe plekke in verskillende lande.

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.

Ongemanierde mense.

Sogenaamde ‘Polities korrekte’ reëls, net om vir my voor te skryf wat reg of verkeerd is.

Advertensies.

Mense wat kinders en diere seermaak.

Related posts