Anna-Mart van der Merwe se boek “Stilte voor die storm” is deur die gebeure van ‘n wonderwerk geinspireer.

Olka Bolka het vir Anna-Mart gevra om bietjie haar lewesverhaal met ons te deel, hier vertel sy:

Ek is, Anna-Mart van der Merwe ‘n plaasmeisie en ek het groot geword op Mooiplaas geleë naby die dorp, Wolseley in die Weskaap. Ek het gematrikuleer in 1986 by Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl en in 1990 my Graad in Maatskaplike Werk verwerf aan die Universiteit van Stellenbosch.

My passie was nog altyd om God en die mensdom te dien. Daarom was dit dan ook geen verrassing dat ek by die Departement van Korrektiewe Dienste te Brandvlei Maksimum ‘n geskikte betrekking gevind het nie.

Ek is in April 1991 met my beste vriend en sielsgenoot, Albertus getroud. Vir my was dit liefde met die eerste oogopslag. Die probleem was my oog het hom reeds gevang toe ek slegs 14jaar oud was. Met ‘n ouderdomsverskil van 7jaar het hy soos Jakob van ouds geduldig gewag tot dat ek goed in my werk gevestig was voor ons die knoop deurgehaak het. Ons woon sedertdien op die plaas , Goedgeloof in Breërivier waar hy en my middelkind, Ludi met vrugte boer.

Ons huwelik is geseën met drie pragtige seuns – kort opmekaar – binne twee jaar was ons gesin volledig.

Andries ons oudste het reeds sedert sy geboorte my Mamma hart bekommerd gehad met die gebrek aan gewigstoename. Sy gesondheidsprobleme het vinnig kop uitgesteek en ek moes noodgedwonge my beroep staak met die aanhoor van die dokter se prognose dat hy die genetiese siekte, Sistiese Fibrose, het en dat sy lewensverwagting slegs 12jaar was.

Ek was voltyds Mamma vir 15jaar. Ek het egter gedurende hierdie tydperk steeds my kennis en vaardigheid as Maatskaplike Werker aangewend by plaaslike Maatskaplike Werk instansies en projekte geloods om die gemeenskappe rondom Wolseley en Breërivier te bevorder.

Ons jongste kind, Albert is in 2010, soos sy broers, vir sy Hoërskoolloopbaan na Charlie Hofmeyer,Ceres. Andries se gesondheid het gepaard gegaan met baie struikelblokke.Nietemin het ons dit na die beste van ons vermoë as gesin bestuur.

Die seuns was almal op Hoërskool en in die koshuis. Tuis het ek begin kriewel omdat die drang om ander te help so groot was.

Junie 2010 het ek weer by die Departement van Korrektiewe Dienste in Worcester as Maatskaplike Werker vir die oortreders begin werk op kontrakbasis. 2013 tot 2014 het ek die geleentheid gehad om die EAP (Employee Assistant Practitioner) van die lede van die Department te wees. My werksgeleenthede as Maatskaplike Werker het ‘n plato in die Department bereik en in 2015 sluit ek aan by PROCARE.

PROCARE bied my die geleentheid om my droom as Maatskaplike Werker in die ontwikkeling van plaasarbeiders en werknemers van maatskappye uit te leef. Ek werk sedertdien op verskeie plase en pakstore in die Ceres, Tulbagh, Kouebokveld, Franschhoek en De Doornsdistrikte.

Ek glo daarin om myself te ontwikkel,om sodoende effektiewe dienste aan elke kliënt wat my pad kruis te verseker. Daarom gedurende 2020 het ek ‘n internasionale internskap deur TIRASA gedoen en myself bekwaam as ‘n Trauma berader. Traumatiese gebeure en die gebrek om daardeur te werk kan lewenslus en lewensvreugde steel. Ons leef slegs eenmaal en daarom moet ons verseker dat ons dit met vreugde en ‘n huppel in ons stap, doen.

Andries se gesondheid het in 2019 in so ‘n mate verswak dat hy ‘n dubbele longoorplanting benodig het. Die wagperiode was vir ons as gesin ‘n baie moeilike pad omdat ons daagliks die moontlikheid van sy dood in die gesig moes staar. God was so getrou en ons gebede is verhoor. Andries het op 24 Augustus 2019 sy dubbele longoorplanting ontvang. Groot die Here se genade en ons vreugde dat die skenker, Storm Smorenburg, aan ons bekend geword het, deurdat Albertus se niggie, Beatrix, ‘n vriendin is van Lisa, Storm se mamma.

Die boek ‘Stilte voor Storm’ is gebore en binne drie weke het ek ons verhaal geskryf. Ek moes net al die wonderwerke van God en die beantwoording van al my gebede – sommige reeds 18jaar gelede gebid en eers verhoor in 2019 – met die wêreld deel. Intussen het die engelse weergawe ‘Silence before Storm’ gedurende 2021 ook die lig gesien. Ek het nooit vantevore geskryf of gedig, maar skielik het ek hierdie nuwe talent en deel dit graag met ander tot groei in hoop, geloof en liefde. Mag die wonderwerk deur ons ervaar elkeen inspireer om God te vertrou vir die wonderwerk waarop jy wag.

Olka Bolka het ‘n onderhoud met Anna-Mart gedoen om nog bietjie meer oor haar uit te vind.

Waar is jy gebore en het jy grootgeword?

Ek is gebore in Ceres Hospitaal en het grootgeword op die pragtige plaas,Mooiplaas op die buitewyk van Wolseley in die Weskaap. Hierdie plaas word omring deur pragtige berge en twee riviere.

Het jy naskool gaan studeer, indien wel wat?

Ek het naskool by die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. Ek was in Harmonie koshuis om naby die Neelsie en Maatskaplike Werk fakulteit te wees. Hier het ek my dan ook as Maatskaplike Werker gekwalifiseer.

Wat is jou beroep?

Ek is ‘n Maatskaplike Werker asook Trauma Berader en werk vir PROCARE. Ek doen Maatskaplike en ontwikkelingswerk op verskeie plase in die omgewings van Kouebokveld,Ceres, Hamlet, De Doorns, Tulbagh, Franschhoek en Simondium.

Ek geniet my werk verskriklik baie, want ek leef my droom om werknemers op plase en by pakstore te help met hul krisisse ervaar, maar terselfdertyd ook mbv programme hulle verder toe te rus met meer kennis en vaardighede om as mens te ontwikkel en te groei.

Skryf jy voltyds?

Nee – nie tans nie. Ek hoop dat ek eendag- dalk met my aftrede – meer tyd tot my beskikking sal hê om te kan skryf en te dig.

Het jy van kleintyd af al gelees?

O ja ek het vreeslik baie gelees as kind. Ek het altyd ‘n boek gehad selfs wanneer ons dorp toe ry was my neus in ‘n boek. Dink die rede daarvoor is omdat ek so nuuskierig van geaardheid is, maar ook elke boek se verhaal neem jou op nuwe reise en ervarings tussen sy bladsye wat ek wou ervaar.

Wanneer het jy begin skryf en wat was jou eerste verhaal?

Ek het altyd gesê ek wil my lewensverhaal op die ouderdom van 90 skryf, want dan sal ek hopelik ‘n kleindogter hê wat kan tik – Ouma sal slegs dikteer.

Die Here het in Sy grootheid egter anders besluit. Na my seun,Andries se dubbele longoorplanting in 2019 het ek net besef dat ek hierdie wonderlike verhaal met die wêreld moet deel.

So ek het vir die eerste keer begin skryf Desember 2019.

Hoeveel boeke het jy al geskryf?

Slegs een my debuut “Stilte voor Storm” en die engelse weergawe “Silence before Storm”.

Wat is jou genre?

Ek skryf slegs oor ware gebeure en die inslag van my geloof in God drie-enig Vader, Jesus en Heilige Gees.

Watter tipe boeke lees jy?

Ek verkies ware  verhale en natuurlik die Bybel wat my lewe verryk en geloofslewe ontwikkel.

Is daar ‘n boek wat jy gelees het, wat ‘n groot indruk op jou gemaak het?

Beslis die Bybel, want soveel verhale van geloofshelde is daarin saamgevat. Elke probleem se oplossing is binne die verse en hoofstukke vasgepen tot verlossing, ontwikkeling en groei.

Vertel ons ‘n bietjie van jou boek Stilte voor die Storm?

Stilte voor Storm is ons gesin se lewensverhaal met ons oudste seun, Andries as hoofkarakter. Hy is gebore met die genetiese siekte – Sistiese Fibrose – wat daartoe gelei het dat hy sedert sy geboorte gesondheidsprobleme ervaar het. Ek sluit sy beperkte lewensverwagting van 12jaar in asook ons struikelblokke met hospitale, Medici en talle ander uitdagings asook wonderwerke ervaar.

Die wonderwerk van sy dubbele longoorplanting het ek in joernaalvorm dag tot dag beskryf sodat die leser besef dat God elkeen van ons wonderbaarlik in Sy Vaderhand styf vashou.

Die genade wat ons toebedeel is om kennis te bekom rakende die skenker van die longe, Storm Smorenburg, asook om sy moeder,Lisa as vriendin te leer ken.

Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?

Ek is van nature baie nuuskierig en avontuurlustig. Soms maak ek impulsiewe besluite wat genadiglik nog nooit tot my nadeel was nie.

Ek is ‘n ekstovert maar benodig ook dikwels stilte om te dink en te besin oor die lewe. Ek is dankbaar om te lewe en lewe vir die hier en nou, want aan gister kan ek niks doen nie en môre mag dalk nooit vir my aanbreek nie.

Ek besef elke dag dat die goeie en slegte wat met ons gebeur ten goede meewerk om ons naaste te dien.

Daar het al lelike dinge met my gebeur, maar dit gee my vandag die kennis en ervaring om ander met soortgelyke teenspoed te ondersteun en te help tot nuwe lewe en groei.

My lewensmotto is Nehemia 8 vers 10: Die vreugde in die Here is my krag en sterkte.

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

Ek het Everest Base Camp suksesvol voltooi net voor my 50ste verjaardag. Dit was ‘n kinderdroom. Die opwindendste en heerlikste ervaring alhoewel ek op my terugkeer geval en my enkel gebreek het. Vyf weermagmanne het my na die helikopter gedra en ek is in Kathmandu Nepal geopereer.

Die Here het my kragtig gebruik in die Hospitaal tot getuienis van Sy Naam tussen vreemdes van alle lande.

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

Ek wil daagliks meer die karakter van Jesus bestudeer en strewe om God en my naaste meer lief te hê.

Ek wil ons verhaal van wonderwerke met ander deel op alle platvorms of dit radio, televisie, motiveringspraatjies of artikels is om ander aan te moedig om God te vertrou vir elkeen se wonderwerk.

Ek wil graag ‘n opvolgboek “Stories na Storm” in 2025 die lig laat sien omdat die huidige “Stilte voor Storm” soveel wonderlike getuienisse ontlok het. Ek kry daagliks terugvoer van die impak van die boek op lesers se lewens.

Ek wil solank as moontlik as Maatskaplike Werker en Trauma berader ander dien.

Ek is baie lief vir stap en stap jaarliks ‘n roete van vyf dae en langer. Ek wil daarmee volhou en moontlik die Santiago Camino vanaf Porto eendag aandurf nadat ek die mooi roetes van Suid-Afrika kaf gestap het.

Wat inspireer jou?

Die Heilige Gees se sagte fluistering in my gees om die mooi raak te sien nie slegs in die natuur of die hemel se blou, maar ook in die lag van ‘n kind en die plooie van bejaardes as teken van – ek het gelewe!

As jy met enige iemand oor ‘n koppie koffie kan gesels, wie sal dit wees en hoekom?

Beslis Jesus om die sleutel van Sy onbaatsugtige liefde te bepaal en om deur Sy oë van liefde te sien.

Wat is op jou emmerskoplys?

Om ons verhaal met almal daarbuite te deel tot hoop en liefde.

Om die Pelgrimsreis van Hoop saam met vriende te stap vanaf Stellenbosch tot Kaap Agulhas in September 2022 vir die Bewusmaking van Orgaanskenking en ten bate van Sistiese Fibrose lyers

Hoe wil jy onthou word?

Dat ek liefde geleef en die lewe se geleenthede ten volle benut het.

Wat is jou luukse tyd vir jouself?

Alleentyd saam met God vir lofprysing en gebede.

Waar kan lesers jou volg, en jou boeke aankoop.

Hulle kan my volg op my Facebookblad en Stilte voor Storm blad.

My boeke is beskikbaar by Malherbe Uitgewers, Bargain Books, Triple One in Ceres asook by my.

My kontaknommer

082 619 6080

My eposadres annamartvandermerwe8@gmail.com

Wat is jou gunsteling:

Tipe Musiek

Geestelike

Afrikaanse

en Klasieke musiek wat vrede liefde en sielsrus bring

Sanger / Sangeres

Riana Nel

Rolprent

Skollie seker omdat ek eens by Korrektiewe Dienste as Maatskaplike Werker gewerk het.

Akteur

Bruce Willis – Hy herinner my aan my pa.

Kos en drankie

Vrugte alle soorte

Koffie koffie koffie

Ontspanning

Stap in die verskillende dele van die natuur – wingerde, boorde, strande, berge en bosse. Dis my kerk waar ek God hoor!

Boek

Die Bybelboek Kolossense

Vakansie bestemming

Enige grondpad in Suid-Afrika waar my voeteval ritmies gehoor kan word.

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.

Skelms

Leuenaars

Twee gesigte

Mense wat disrespekvol handel teenoor mens plant en dier.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →