Olka Bolka het vir Amor gevra om ons ‘n bietjie van homself te vertel.

Gedigte het aan my begin groei so 33 jaar terug tydens my studentedae. Ek het net gaan sit en my gedagtes op papier begin neerpen. Na ‘n paar traumas in my lewe, het die “dig-gogga” my behoorlik gebyt. Seker om sin iewers in myself te soek?!
My eerste “resensie” is gedoen deur ons enigste(toe) oorlewende groot-oom, Harry Vorster. Ek het toe nog net so 25 gedigte geskryf en hulle aan hom voorgelê, terwyl ek by hom en tannie Ankie in my onderwys-proeftydperk loseer het.
Hy was ‘n ou skoolhoof van Parys Hoërskool en ook ‘n Afrikaanse onderwyser en sou graag wou hoor wat hy daarvan dink. Ek het rooi strepe en baie kommentaar verwag, maar was verras deur sy positiewe en opbouende kommentaar.
Ek het soms nagte deurgesit met ‘n gedig, tot ek tevrede was en het toe nie besef dat God my oppad, na Hom toe begin terug lei nie!
Ek het begin uitkyk na publikasie, en het enkel gedigte by die Christian Poetry Association in versamel-bundels begin publiseer.
Ek het in die laat 90’s – vroeg 2000’s, my gedigte (saam met ander digters) regoor Pretoria begin voorlees.
Dit is juis op een van die geleenthede, dat ek vir Heleen Malherbe op ‘n naweek, in ‘n ou huis in Capital-Park(Pretoria)ontmoet het.
Nie lank daarna nie het ek my eerste bundel,- Resonans -, uitgebring. My vrou, Enid het die naam aan my voorgestel.
Resonans se betekenis is, – naklank- en dit is presies waaroor my gedigte gaan.
Daar gebeur so baie in ‘n mens se lewe, dat soveel emosies, gedagtes en belewenisse eers na ‘n ruk of ‘n paar jaar, eers terugbons of terugplons in ‘n mens se lewe, wat reflekteer in jou lewe.
My tweede bundel, – Resonans – II Nie Bepaald, het nie lank daarna gevolg met ‘n woord-ekonomie aanslag. Ek het dit spesifiek so gedoen omdat ek die leser ruimte gee om sy/haar eie verdere gevolgtrekkings te maak en stof tot nadenke voor hulle voete te lê.
Ek verbind my nie tot ‘n spesifieke genré nie en probeer so vêr as moontlik vrydenkend te dig.
Ek dig soos woorde, situasies en gebeure hulle voordoen en druk myself nie altyd in ‘n vaste vorm uit nie en dig soos ‘n bepaalde gedig/ gevoel my lei.
Dit is “gevaarlik”, want ek bloot dele van my siel of wese en ek weet nie of almal gemaklik is daarmee nie.
My geloof in ons Vader is die primêre stukrag in my gedigte want hy het my, méns gemaak en dit is wat ek ook wil reflekteer
Verder is ek ‘n 53 jarige man, pa, broer en seun, wat die lewe soveel keer weer teruggekry het en in ontsag staan voor ‘n Almagtige God met Sy Liefde en doel met ons elkeen se lewens.
Hier is maar net ‘n “opwekkertjie”, wat ek gou vir julle geskryf het:
Ek is maar net
‘n doodgewone ou
wat van woorde hou
en as hul kom,
skribbel ek hulle gou neer
voor hul gou weer
uit my geheue rettereer
Want ek glo woorde
se krag en sin
is baie, baie meer
Soos ‘n trein rangeer
joú gedag, voel en leef
bring die regte woorde
joú op die régte spoor
©Amor Vorster


Olka Bolka het met Amor ‘n onderhoud gedoen.
Waar is jy gebore en het jy grootgeword?
Windhoek, ou SWA
Suidwes, Noord Natal, Transvaal en Vrystaat
Het jy naskool gaan studeer, indien wel wat?
Diploma in Rekenaar-Data Verwerking
BA(Psigologie, Sosiale Antropologie)
H.O.D(Voorligting)
Wat is jou beroep?
Gedwonge afgetrede gestremde pensioenaris met min of meer 30 jaar ondervinding in die ope arbeidsmark, wat strek van Rekenaar-Data Verwerking, Onderwys, Besigheids-bestuur en vrywiliger
Skryf jy voltyds?
Soos woorde, situasies, gebeure, frase en gedagtes by my opkom, skryf of tik ek hul gou neer .
Het jy van kleintyd af al gelees?
Ja, van Trompie se dae
Wanneer het jy begin skryf en wat was jou eerste verhaal?
Het my eerste gedig in 1987 geskryf, ek dink sy naam was : “Hulle sê”
Hoeveel boeke het jy al geskryf?
‘n Paar gedigte in versamel-bundels, uitgegee deur: Christian Poetry Association en twee eie bundels: Resonans en Resonans II Nie Bepaald
Wat is jou genre?
Digkuns, oor alles en nog wat. Woorde kies my, ek kies hulle nie!
Watter tipe boeke lees jy?
Meestal Afrikaans
Is daar ‘n boek wat jy gelees het, wat ‘n groot indruk op jou gemaak het?
“Reach for the sky’ – Douglas Bader. ‘n Voorgeskrewe boek in st.8, oor ‘n Engelse, Tweede Wêreld Oorlog vegvlieënier wat meer dekorasies gekry het,(nadat hy afgeskiet is en albei bene verloor het) en weer terug gegaan het om verder aan die Oorlog as vegvlieënier deel te neem!
Wat is jou drome?
Om ‘n goeie man, pa, broer en vriend te wees en die lewe uit te leef soos wat die Vader bestem het.
Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?
Ek vat die lewe, met sy -op en af-, net soos hý kom. Elke seisoen het sý mooi en lelik
Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?
Min mense weet ek was amper ‘n proffesionele ballet- danser
O ja, en ek haar Brusselse Spruite
Wat inspireer jou?
God se Almag, die lewe en mense se verhale(Bitter & Soet)
As jy met enigeiemand oor ‘n koppie koffie kan gesels, wie sal dit wees en hoekom?
Elke mens het sy/haar verhaal en dit is juis dié “uniektgeit” van elkeen en sy “ berge en dale” deur sy/haar lewe
Om in ‘n “Camper”, deur die hele wêreld te reis en mense en hul kulture te beleef
Covid het ons “normale” lewe op sy kop gedraai, hoe ervaar jy dit?
Hoe wil jy onthou word?
Dit is nie vir my belangrik nie! Ek wil net ‘n man, pa, broer, seun en vriend wees
My Tswana-naam is –
Mokgotsi(vriend)
Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?
Ek is al klaar met so 3 of vier digbundels en moet hulle net stuur vir oorweging en redigering.
Ek het geleer om nie te vêr vooruit te beplan nie, want ek weet nie wat hou die toekoms in nie?
Tipe Musiek
Afrikaans beslis, ‘70s, ‘80s- Rock(nie heavy metal)en Pop en waardeer klassiek
Sanger / Sangeres
Te veel om te noem, ek hou van natuurlike talent
Rolprent
Alweer te veel
Akteur / Aktrise
Robin Williams, o.a.
Kos en drankie
Niks kom by pap en vleis saam met sous nie.
Daar behoort ‘n hulpgroep gestig te word teen kaffeine.
Iets soos : K.A.-
KAFFEINE ANNONIEM
Ontspanning
Rusbank-aartappel (veral in rugby-tyd), kuier by huismense, so nou en dan blokraaisels en ek weet ek moet oefen.
(Teen die einde van die dag – los ek gewoonlik vir die volgende dag!)
Boek
‘ n Goeie Afrikaanse Boek
Vakansie bestemming
Kus( Kaap of Natal)
Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.
Kan valsheid nie verdra nie!
Om laat te kom of mense wat laat is
Om ander te gebruik
Het ek Brusselse Spruite genoem?
Waar kan lesers jou kontak en van jou boeke bestel?
Skakel na Resonans :
https://www.malherbe-uitgewers.co.za/shop/product/445-resonans-amor-vorster-digbundel
@R83.99
Skakel na Resonans II Nie Bepaald :
https://www.malherbe-uitgewers.co.za/shop/product/284-resonans-ii-nie-bepaald-amor-vorster-digbundel
@R85
Bestellings of navrae by Malherbe Uitgewers
Epos – sales@malherbe-uitgewers.co.za
Kontak nommer: 0683032818
Whatsapp nommer: 0683017883
Saam met Amor Vorster by Malherbe Uitgewers