Angelique se eerste Engelse enkelsnit – Safe outside

Die Johannesburgse liedjieskrywer en sangeres Angelique Greffrath het pas haar eerste Engelse enkelsnit Safe Outside uitgereik en met dié liedjie bereik sy nie net nuwe musikale hoogtes nie, maar vestig haarself nou ook as ‘n Engelse liedjieskrywer van formaat.

Angelique het verlede jaar eers tot die kommersiële musiekmark toegetree – en binne agt maande het twee Afrikaanse enkelsnitte uit haar pen (en stem) verskyn.

Beide liedjies is uitstekend deur plaaslike radiostasies ontvang en daarmee het sy ook ‘n bekende naam in die Afrikaanse musiekbedryf geword.

Met Safe Outside betree sy ‘n nuwe era in haar eie musikale ontwikkeling. Haar vorige liedjies se temas het rondom die liefde gedraai terwyl  Safe Outside die verlies en pyn wat met die Covid-19-pandemie saamloop  tot op die been oopvlek.  

Dit is asof die nuwe generasie liedjieskrywers uit die trauma, wat deur die pandemie meegebring is, nuwe inspirasie put wat duidelik in sterk liriek en musiek figureer.  

Dié liedjie, vertel Angelique, moet hoop vir die wêreld bring.  “Aan die een kant vertel die liedjie die storie van hoe ons ons familie, vriende, byeenkomste en kuiers in die verlede net as vanselfsprekend aanvaar het. Aan die ander kant is die liedjie ‘n metafoor vir hoe alles vining tot ‘n einde kan kom, maar ook dat daar nog maar eintlik altyd ‘n pandemie aan die gang was – ‘n pandemie van wraak, gierigheid en liefdeloosheid.”

Safe Outside het deel gevorm van ‘n projek Sing Aanlyn waarmee Angelique in die stadium besig is. “Germandt Geldenhuys (Louis van Binneland) is my mentor. Elke deelnemer kry maandeliks ‘n projek wat teen ‘n sekere spertyd ingedien moet word. Ek en my mede-deelnemer, Marissa de Klerk, het opdrag gekry om ‘n oorspronklike liedjie te skryf, dit rofweg aanmekaar te sit, en dit dan in te stuur vir terugvoering.

“Ons het dáárdie maand ‘n ernstige aanval van skrywersblok beleef en nie een van ons kon die woorde net reg ink nie. Toe gaan nog ‘n geliefde aan Covid dood en my beste vriend is in die hospitaal weens Covid-komplikasies opgeneem…. Die skrywersblok het soos mis voor die son verdwyn…”

“Safe Outside se lirieke is uit my trane gebore,” vertel Angelique. “Die idee was om aan die oorweldige gevoel uitting te gee, maar die resultaat was meer as dit. Ek en Marissa het saam aan die liedjie geskaaf en dit het daardie maand in die top 5 van Sing Aanlyn beland.”

Sy het vroeër vandeesmaand besluit om gevolg van die inperkingsmaatreëls nie die liedjie as ‘n duet saam met Marissa op te neem nie, maar as solo-enkelsnit vry te stel.

Jade Stoem van Storm Music Productions het die liedjie vervaardig.

Angelique sê: “Hoewel dié pandemie fisiese isolasie veroorsaak, beteken dit nie dat ons alleen hierdeur moet wroeg nie. Ons hoef nie alleen te wees nie, en ons is ook nie alleen nie.”

Die belofte word ook in die lirieke verwoord: “When it’s safe I’ll hold my arms wide open, and shout out to the world to go outside. Don’t give up on hope the end is drawing nearer. If we stick together, we’ll all win this fight, when it’s Safe Outside.”

Met die vrystelling van Safe Outside betree Angelique ‘n nuwe fase in haar loopbaan, want vir die eerste keer het die internasionale mark ook kennis gemaak met haar Bonny Tyler-agtig stem en sterk lirieke.  

Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:

Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →