Ter viering van Vrouemaand bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ʼn intieme pizza-wyn-sang-aand op Saterdag, 28 Augustus 2021.

Ter viering van Vrouemaand bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ʼn intieme pizza-wyn-sang-aand op Saterdag, 28 Augustus 2021, aan waartydens besoekers die kans het om informeel kennis te maak met die instelling se vriendelike personeel. 

Gaste sal met drankies en peuselhappies verwelkom word waarna die bekende Crushanda Forbes hulle sal vermaak met haar indrukwekkende weergawes van die internasionale sangsensasie Adele (Laurie Blue Adkins) se liedjies. Dit word opgevolg met pizzas en wyn – die perfekte kombinasie vir ʼn vroeë wintersaand.


Crushanda het ʼn huishoudelike naam geraak danksy haar deelname aan die Afrikaanse Idols (onder die top-10), optredes by kunsfeeste en Huisgenoot Skouspel, voordat sy haar vlerke gesprei en by oorsese produksies aangesluit het. Die Britse Adele is veral bekend om ‘Rumour Has It’, Chasing Pavements’, ‘When We Were Young’ en ‘Hello’ – almal liedjies wat sy self ook geskryf het.

Die gesellige geleentheid – kleredrag is wit met ʼn tikkie goud – vind in die Taalmonument se restaurant, wat met pragtige vergesigte spog, vanaf 18:00 tot 20:00 plaas en Covid-19-protokolle sal nagekom word. Gaste is welkom om die monument en Groen Galery te verken. Kaartjies kos slegs R150 per persoon, wat alle spys en drank insluit, en kan via kommunikasie@taalmuseum.co.za of 021 863 0543 bespreek en gekoop word. 

Vir meer inligting oor hierdie en ander geleenthede, (aanlyn-)kursusse en Covid-19-protokolle, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18.

Related posts