Vicki Fourie is ‘n inspirasie ten spyte van gehoorverlies.

In 2009 is Vicki gekroon as Mej Dowe Suid Afrika 2009, en in 2010 het sy die titel van 1ste Prinses gewen by die Mej Dowe Internasionaal in Las Vegas, VSA. Sy het ook Suid Afrika verteenwoordig by die Mej Dowe Wêreld in Praag in 2011. 

Vicki het al in verskeie bekende tydskrifte verskyn:  Sarie, VroueKeur, People, Oprah Winfrey se O Magazine, ens.  

Sy was ook al op die voorblad van nasionale en internasionale tydskrifte:  JUIG, That’s My Girl, Passi, Single!, Sweet Designs, MyMag en CRC se tydskrif, Devoted.  Sy was al ‘n paar keer op TV: Kwêla, Pasella, etv’s Sunrise, SABC2’s Hectic Nine9 en Top Billing. Pasella se onderhoud is op YouTube beskikbaar: 

MOTIVERINGS SPREEKSTER

Nadat Vicki die Mej Dowe SA titel gewen het, het sy as motiverings spreekster begin optree regoor die land. Sy het tot nou toe al by meer as 200 geleenthede opgetree (dit sluit in: skole, funksies, kerke, ens).  Die feit dat Vicki taalmagtig is in albei Afrikaans en Engels, veroorsaak dat sy kan uitreik na duisende Suid Afrikaners. Sy het ook al die geleentheid gehad om op te tree by die Business Women’s Association Breakfast, en ook by die Universiteit van die Vrystaat.   

Wanneer sy met die tieners by hoërskole gesels, fokus sy op IDENTITEIT: Wie is ek en wat glo ek oor myself? Voorheen was haar tema altyd ‘Dapperheid is nie ‘n geskenk nie, dit is ‘n keuse’. Nadat Vicki geskiet was deur die skouer op die ouderdom van 14, het sy gesukkel met depressie maar het dit tog oorwin deur om haar lewe vir die Here te gee.   By die laerskole is haar tema ‘Ek Weet Jy Kan.’ Sy deel praktiese voorbeelde met die kinders, soos byvoorbeeld hoe sy ballet gedoen het op skool sonder om die musiek te hoor; wat haar geïnspireer het om drama klasse te neem al kon sy nie haar eie stem hoor nie, ens.  

Een van haar praatjies is beskikbaar op YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=8y6eG4z-nHc 

Vicki het onlangs die Tributes Excellence Award gewen onder die Creative Arts Category vir haar werk as motiverende spreker in Suid Afrika. Voorheen het sy ook die Cosmopolitan se ‘Fun Fearless Female Award’ gewen, ook vir haar werk as motiverende spreekster.  

SKRYWER & AKTRISE

Gedurend haar matriek jaar het sy ‘n 2-jaar se skryfkunskursus oor die internet gedoen van Amerika, Jerry B. Jenkins se ‘What Is Your Story?’ Tot nou toe het sy al meer as 250 artikels gepubliseer in tydskrifte – nasionaal en internasionaal. Sy het ook al vir verskeie koerante, tydskrifte en websites geskryf as rubriekskrywer. Haar eerste boek en memoir – Viva la Vicki! – is nou beskikbaar in Suid Afrikaanse boekwinkels. Dit is ook beskikbaar op Kindle. Haar tweede boek – God Lief My – was in 2014 uitgereik deur Carpe Diem Media. 

In Mei 2013 het Vicki in Straatligkinders se musiekvideo vir hul lied ‘Petrus’ verskyn. Kyk dit hier op Youtube: 

https://www.youtube.com/watch?v=JmD9jQfaang

Hier is die skakel na Vicki se onderhoud met Pasella : https://youtu.be/BXldEeJuUU8

As aktrise het sy die hoofrol vertolk van Sandra in Kinders van Stilte, ‘n teater-stuk wat by die Vryfees 2013 opgevoer was, asook by Aardklop 2014. Antoinette Louw en Zane Meas was haar medespelers. Sy het ‘n toekening ontvang vir haar rol by die Nasionale Institute vir die Dowes.

Olka Bolka het ook met Vicki gesels:

Vertel ons lesers waar jy gebore, grootgeword en waar bly jy tans?

Ek het al in meer as 30 huise gebly in my lewe, en in ongeveer agt dorpe gewoon (Bloemfontein, Elisras, Polokwane, Rawsonville, Worcester, Johannesburg). Tussendeur het ek ook vir 9 maande in Redding, California gewoon. Ek is gebore in Bloemfontein, en ek woon nou op Jeffrey’s Baai – dorp nr 8. Dit voel of ek paradys gevind het.

Wanneer het jou ouers agtergekom jy is doof?

Op twee, toe my ouma besef het ek reageer nie wanneer sy my naam roep nie. Ons dink ek het op 6 maande my gehoor verloor na ‘n ernestige koors wat amper my lewe weggeneem het.

Vertel ons lesers kortliks oor die uitdagings om doof te wees.

Ek het in 2013 en 2015 my kogleere inplantings gekry, en van daaraf het ek baie minder uitdagings. Ek is elke dag dankbaar vir my inplantings, want dit het die kwaliteit van my lewe verander. Voorheen was my wereld wit-en-swart, nou is dit kleurvol en vol lewe.

Ek het 3% gehoor gehad, met ‘n gehooraparatte kon ek 40% hoor. Met die inplantings kan ek nou 80% hoor.

Vertel ons kortliks oor jou skool jare?

Kort nadat my ouers besef het ‘n staatsskool sal nie vir my werk nie – omdat die onderwyser haar rug op my sou draai wanneer sy sou skoolgee – en ‘n dowe skool sou ook nie werk nie want ek praat nie gebare taal nie (ek lees lippe en praat soos ‘n horende), het my pa vir my ‘n privaat horende skool gestig, Lifestyle Christian Academy. Dit was ‘n A.C.E. (Accelerated Christian Education) skool. Hierdie skool sisteem van Amerika het fantasties gewerk vir my – ek kon op my eie werk, en as ek hulp nodig gehad het, het ‘n juffrou by my kom sit en die skoolwerk verduidelik. Ek het my hele skoolloopbaan op hierdie sisteem skoolgegaan, en ek het matriek geslaag met toppunte.

Jy was nog altyd ‘n inspirasie, jy het jou nie laat onderkry om met ‘n gestremdheid te lewe, vertel kortliks van jou reis met Mej Dowe Suid Afrika.

Ek wou graag kreatiewe skryfkuns studeer op universiteit, maar op daardie stadium het die universiteite in SA dit nie aangebied nie. By my matriek-afskeid het ‘n paar mense oor my geprofeteer en gesê ek gaan soos Ester van die Bybel wees – ek gaan my skoonheid gebruik om ‘n nasie te red en te inspireer. Ek het gaan oplees oor Ester se lewe, en ek het besef sy het in ‘n skoonheidskompetisie deelgeneem. Ek het begin kyk na geleenthede rondom my. Ek het eers ingeskryf vir Mej. Bloemfontein-Roos; ek was in die TOP 20. Daarna het ek ingeskryf vir Mej Dowe SA in 2008. Ek was Mej. Persoonlikheid en 1ste Prinses daardie jaar.

Die teleurstelling was groot, en ek het amper nie weer ingeskryf in 2009 nie. Ek was deel van die gap jaar span 13thFLOOR (die voormalige C-Kruis) daardie jaar, en my vriendin het my sterk aangeraai om weer in te skryf. Ek is so dankbaar vir haar, want nie net het ek daardie jaar die Mej Dowe SA titel verower nie, ek het ook die Mej HESC (Hoedspruit Endangered Species Centre) se titel gewen (hulle was die hoofborg van die kompetisie).

Wat is jou beroep?

Ek is tans op ‘n sabbatical, maar ek het onlangs weer begin skryf. Ek wil graag my memoir Viva la Vicki vertaal na Engels, asook dit oorskryf. Ek het soveel nuwe wyn om te deel, asook nuwe openbaringe oor my lewe waarby ek glo mense sal kan baatvind.

Vertel ons kortliks van jou tyd in Amerika?

Ek het die voorreg gehad om Bethel Church se Bybelskool te doen – BSSM (Bethel School of Supernatural Ministry) in Amerika. Dit het my lewe verander. Voorheen was ek baie godsdienstig. Elke dag by Bethel was soos ‘n ope hart operasie; dit was nie maklik nie, maar dit het my vrygemaak van so baie dinge wat my teruggehou het.

Jy het ook verskeie publikasies die lig laat sien, vertel ons daarvan.

My eerste boek en memoir, Viva la Vicki, is in Afrikaans gepubliseer deur Naledi Boeke en het ‘n paar duisende eksemplare verkoop. My tweede boek, ‘n dagstukkies boek gedruk deur Carpe Diem Media, is uitverkoop.

Jy het ook programme op Radio aangebied vertel ons daarvan?

Ek het al die voorreg gehad om vir OFM in Bloemfontein, asook Maluti FM in Bethlehem, radio programme aan te bied. Ek beplan om binnekort ook op Oasis FM ‘n radio program te begin – hier in Jeffrey’s Baai.

Hoe het jy 2020 tot nou in 2021 ervaar?

Dit is vir my ‘n geweldige groot aanpassing, veral wat die maskers aanbetref. Ek maak staat op lippe lees, en dit voel vir my of ek oornag blind en doof geword het. Ek skryf juis oor my ervaring daaroor hierso: https://vickifourie.com/miss-heard/

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

Sjoe, dis nou ‘n moeilike vraag! Mmm, ek is meestal ‘n ope boek. Ek deel graag wat aangaan in my lewe, en ek glo ons moet deursigtig wees. Lees dalk my skryfwerk as jy dalk meer wil weet…?

Wat inspireer jou?

Mense en die gesprekke wat ek met hulle voer. Openbaringe wat ek kry deur om tyd te spandeer met Heilige Gees. Boeke wat ek lees en liedjies wat ek luister. Daar is elke dag iets wat my inspireer – inspirasie is rondom ons, ons moet dit net raaksien en vier.

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

My nuwe memoir! Ek is so opgewonde daaroor, ek glo dit is tyd om dit nou oor te skryf. My eerste memoir het in 2012 uitgekom; volgende jaar is dit 10 jaar. Dan kom my nuwe memoir uit… dalk in 2032 sal ek weer ‘n memoir skryf? Wie weet…?

Ek is ook besig om ‘n skryfskool te begin in Jeffrey’s Baai. Kontak my gerus vir meer info: jbaycreatives@gmail.com.

Wat is op jou emmerskoplys?

Ek sal graag nog Mauritius toe wil gaan – maar eers nadat lockdown, maskers en isolasie verby is.

Wanneer verjaar jy?

5de Junie

Wat is jou gunsteling:

Tipe Musiek – Bethel Music, Dido, Liani Reynolds, We The Kingdom

Gunsteling liedjie – Op die oomblik is dit Waking Up deur We The Kingdom

Rolprent –  Daar is te veel… Ek hou van so baie flieks.

Reeks – Fringe en McLeod’s Daughters

Kos en drankie – Ek hou van enige kos behalwe afval; drankie – Dry Lemon

Ontspanning – Speel met my kat

Boek – Die laaste goeie boek wat ek gelees het is The Glass Castle deur Jeannette Wells

Vakansie bestemming – My huis! Jeffrey’s Baai is ‘n permanente vakansie plek!

Kleur – Blou

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.

Ek hou niks van afval eet, diere wat verniel word, die maskers wat ons moet dra en die tye wat ek sukkel om te skryf.

Gaan lees ook artikel wat Vicki skryf hier:

My Past Rewritten – Vicki Fourie

VICKI’S VOICE: Beware the Cheetah | Netwerk24

Onderhoud op RSG :

https://www.facebook.com/106906204959464/videos/558227315557965/

Onderhoud Oasis FM

https://www.facebook.com/106906204959464/videos/295750252252211

http://girls-4-god.blogspot.com/2011/04/interview-vicki-fourie.html

Waar kan mense jou kry en volg?

Ek het ‘n website met al my artikels – www.vickifourie.com

Ek is op Instagram – @fourievicki

Facebook Page: https://www.facebook.com/Vicki-Fourie-106906204959464/

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →