Zandrie Burger stel haar eerste enkelsnit, Goeie ou dae, vry.

Zandrie Burger, ’n boerenooi uit die hart van  Clanwilliam in die Wes- Kaap het pas haar eerste enkeslnit Goeie ou dae bekendgestel.

En met dié enkelsnit maak Zandrie haar toetrede tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en hopenlik gaan dié snit net soos die Hantam-karoo se skilpadvygies op die luisteraar groei.

Goeie ou dae is ’n nostalgiese terugreis na die verlede; ’n ou plaasskuurdans wat herinneringe van ’n suiwer hemelruim en welige sukkelente-prag oproep.  Onskuldiger dae voordat die Covid-19 en misdaad ons in ons huise ingedwing het.

Zandrie het aan die Augsburg Landbouskool in Clanwilliam gematrikuleer en omdat sy oor omvattende landboukennis beskik, het Goeie ou dae ook sonder ’n gesukkel uit haar pen gevloei.

Die liedjie handel oor die plaaslewe Zandrie is in Calvinia in die Noord-Kaap gebore, maar boer nou saam met haar man met skape. “Ek het nog nooit in ’n stad gebly nie, nog altyd op ’n dorp, maar die plaaslewe is eintlik ’n eiesoortige lewe. Gedurende die vlak 5-grendeltydperk, kon ons byvoorbeeld, vrylik op die plaas rond beweeg. Die inperking het nie enigsins ’n invloed op ons dag-tot-dag lewens gehad nie.”

“As ek soggens op ons stoep sit en my koffie drink, luister na die voëls en uitkyk oor die berge, dan besef ek hoe bevoorreg ons is om nie elke dag in die verkeer te sit, om nie in aanraking te kom met die lelik daarbuite nie en om waardering te hê vir die stilte rondom ons.”

Die plaaslewe pas haar net so eksieperfeksie soos ’n winterswoltrui. “Ek het vir ‘n ruk skool gehou, maar ek het voor my seuntjie se  geboorte ’n tuisbly-plaasma te word. Ek geniet dit om tyd saam met my kinders te spandeer; familietyd is baie spesiaal.”  

Zandrie het ook ’n dogtertjie.

Sy het ook Goeie ou dae met die doel geskryf om herinnering wat mense op hul eie manier na aan die hart lê, en nie noodwendig dit wat sy geskryf het nie, terug te bring. Elkeen verlang na iets anders, en ek wil hê elkeen wat hierna luister nie net met ’n gevoel van hiemwee gelaat word, maar ook trots wees op wat hulle vandag bereik het. Ons paaie loop soos dit moet loop en ons moet dankbaar wees vir dit wat ons het.”

Dié enkelsnit neig in ’n volwasse kontemporêre rigting, maar Zandrie is versigtig om dié liedjie slegs in die volwasse kontomporêre genre te klassifiseer. “Ek sal graag wil hê dat die liedjie byval by kinders en volwassenes moet vind.”

Hoewel Zandrie nie ’n onbekende naam in die musiekkringe is nie – sy bespeel al sedert haar plomp kindervingertjies die note kon vind, klavier en het al aan vele sangkompetisies deelgeneem – glo sy dat die tyd nou eers reg was om die enkelsnit uit te reik.  

“Afrikaans is my hartstaal en ek wou nog altyd deel geword het van die Afrikaanse musiekbedryf. My droom – om ’n liedjie in my eie taal vry te stel – het uiteindelik waar geword.”

Zandrie beskryf haarself as ’n spontane mens wat maklik met mense oor die weg kom. “Ek neem soms baie impulsiewe besluite, maar gelukkig draai die besluite die meeste van die tyd positief uit. Om Goeie ou dae op te neem was ook een van dáárdie impulsiewe besluite, maar ek glo dat dié liedjie luisteraars positief sal beïnvloed;  hulle sal help om weer met nuwe energie (en moed) die lewe aan te pak.”

Zandrie se jarelange stem- en musiekopleiding is ’n getuigskrif van Goeie ou dae. Die liriek en melodie is perfekte pasmaats en haar stem is so suiwer soos die Hantam-karoo lug.  Die lirieke is hartswoorde en enige luisteraar sal kan hoor dat die woorde nie net neergepen is nie, maar met passie en talent neerge-ink is.

Riaan Steyn van Traxtudio het die liedjie opgeneem.

Zandrie is ’n aanwins vir die musiekbedryf en daar gaan hopenlik nog ’n paar liedjies uit haar pen verskyn.

Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:

Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za

Related posts