Mari Minnaar – Vat ’n kans op liefde.

Vat ’n kans op liefde!

Dit is wat ons almal doen; om weer te probeer; weer lief te kry; weer om te gee. Om weer die liefde ’n kans te gee.

En dit is presies wat dié talentvolle sangeres Mari Minnaar met haar eerste enkelsnit Vat ’n kans op liefde wil bereik – om luisteraars aan te moedig om die liefde ’n tweede kans te gee.

Mari het haar toetrede al langer as twee dekades gelede tot die musiekbedryf gemaak. Sy het op die verhoë by kunstefeeste en in kuierkroeë gelanterfanter en op die manier het sy ’n stewige ondersteuningsbasis opgebou, maar sy het nooit haar hartsmusiek met die publiek gedeel nie. “Ek het al ’n hele paar hartsliedjies wat stories vertel geskryf, maar die opnames daarvan was net nooit op standaard nie.”

Toe skryf haar vriendin Richelle Grant, wat ook ’n stemafrigter, liriekskrywer en fotograaf is, Vat ’n kans op liefde, en die woorde het haar bittersoet-suiwer stem en ook haar hart soos ’n Aspoester-skoen gepas.

“Richelle het die liedjie spesiaal vir my geskryf omdat sy net gevoel het dat die liefde nooit vir my uitwerk nie. Sy voel ook dat ek die liefde ook nooit ’n regverdige kans gegee het nie. Sy het moontlik ’n punt beet,” vertel Mari.

Die volwasse kontemporêre snit is nie ’n melodramatiese gesanik oor die liefde nie, eerder ’n volwasse vrou se versugting na ’n pasmaat; na ware liefde wat haar haar lewe lank,  soos ’n suiwer noot soms ’n klavierstemmer,  ontwyk.  “Ek is ’n trotse mamma van twee dogters, maar verhoudings het om een of ander rede nog nooit vir my uitgewerk nie. Gelukkig hou dié twee my baie besig, maar….”

Dié verlange na ’n pasmaat vind ook weerklank in die koorgedeelte: “… vat ’n kans op liefde, vat ’n kans op my, vat ’n kans op hier, vat ’n kans op nou…”

Mari het op Koster in die Noordwes-provinsie grootgeword en was van kleinsaf lief vir musiek. “Ek kom nie uit ’n musikale familie nie, maar my ouers het moeite gedoen om my talent te ontwikkel. Ek het aan ’n paar sangkompetisies deelgeneem en ek het glad nie sleg gevaar nie. Ek het besluit om na my skoolloopbaan op musiek te fokus – ek het myself leer kitaarspeel en het elke geleentheid om op te tree aangegryp.”

Maar nadat nog ’n verhouding misluk het, het sy geleenthede in Amerika gaan soek. “Ek is baie lief vir country-musiek. Trouens, ek het met Don Williams se musiek grootgeword, en het geglo dat ek moontlik my drome in die wêreld se country-mekka sou vind, maar dié pandemie het ook ’n stokkie voor dáárdie planne gesteek.

“Ek werk nou as eiendomsagent, maar ek sal altyd sing. Musiek is my hele lewe en sal altyd wees.”

Mari is een van dáárdie kunstenaars wat nie moed opgee nie. Indien sy besluit het om haar kitaar en stem in ’n kluis weg te sluit, sou ons nooit haar musiek kon hoor nie, sou ons nooit aan haar suiwer stem blootgestel word nie. Hopenlik gaan Mari ook met dié enkelsnit haar musiekmerk maak en die landskap van kontemporêre musiek ’n bietjie verander.

Vat ’n kans op liefde is ’n getuigskrif van Mari se karakter – om nooit op te gee nie. Dit is ’n luisterliedjie wat sal byval vind by almal wat opsoek is na ware liefde.

Vir meer inligting, kontak Lydia Winchester:

Sel: 082 554 8453; E-pos: lydiaw@mweb.co.za