Goeie nuus is dat daar so pas ‘n ekstra vertoning van MY OOM SE VROU SE PLEKKIE geskeduleer is vir Sondag, 30 Oktober 2021 om 15:00 by die Atterbury Teater in Pretoria. Frans Swart, Regisseur en Vervaardiger van Lefra Produksies sê dat hulle baie opgewonde is oor die ondersteuning wat “Plekkie” tans ondervind. “Ons is so dankbaar dat ons weer terug is op die verhoog en dat ons gehore uitgekom het en ons so mooi ondersteun. Uitverkoop beteken natuurlik deesdae iets heel anders, want ons kan slegs vir 50% kapasiteit speel, maar meeste van die vertonings was reeds “uitverkoop” en juis daarom het ons besluit om ‘n ekstra vertoning te skeduleer.” Hy sê ook dat die akteurs en tegnici baie opgewonde en dankbaar is om weer terug op die verhoog te wees. “Ons het “Plekkie” 18 maande gelede opgevoer, en toe ons begin repeteer, toe is die vertoning skielik weer daar op die planke met ongelooflike spel deur elke liewe akteur. Ek is so dankbaar!”
Die lekkerlag Lefra-klug My Oom se Vrou se Plekkie, onder regie van Frans Swart, speel by die Atterburyteater in Pretoria van 27-30 Oktober 2021 met vertonings daagliks om 19:00. Cobus en Estelle Venter het die teks vertaal en verwerk. Besprekings kan aanlyn by www.seatme.co.za gedoen word, of telefonies by 0118153000, en groepe van meer as 10, kry oudergewoonte ‘n lekker afslag. Skakel Monica by (011) 815 3000 of besoek www.lefra.com vir meer inligting. Daar word streng by alle Covid-19-protokolle gehou en besoekers word daaraan herinner om hul maskers saam te bring. MY OOM SE VROU SE PLEKKIE word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Britz Couriers and Removals, Ambassador Execudrive, Crown National en Lift aangebied.
My Oom se Vrou se Plekkie speel af in die baie elegante dakwoonstel in Melville van Philip en Jeanette Martins. Die woonstel is pas opgeknap en het grootliks leeg gestaan. Philip is ‘n baie eerbare kinderboekuitgewer, en deel ‘n kantoor met sy venoot Henry Loots, op die grondvloer van dieselfde gebou. Philip stem teen sy sin in dat Henry die woonstel een aand leen om sy nuutste vriendin te “vermaak”. Terselfdetyd word Jeanette deur Linda, Henry se vrou, oortuig om dieselfde woonstel vir haar te leen sodat sy haar nuutste minnaar kan trakteer. Maar wat niemand weet nie, is dat die binnenshuiseversierder, wat die afgelope drie maande aan die wooonstel gewerk het, besluit het om vir die au pair, Sylvie, die nuwe, ronde bed te wys. En ja, dit alles gebeur op dieselfde aand!

Frans Swart sê dat My Oom se Vrou se Plekkie seker een van die “malste” klugte is wat Lefra nog aangepak het. “Ons hele span moes werklik baie kop hou met die een, want deure klap toe, mens kruip weg in kamertjies, misverstande is aan die orde van die dag en soos dit die klug behaag, gaan mense beslis vir twee ure heerlik kan lag,”sê Swart. “Mense wil nie meer wroeg as hulle teater toe gaan. Mense wil ontspan en dis juis hoekom ons klugte so gewild is. Vir twee ure, sien jy daar is ander mense wat meer moeilikheid as jy het. En die lekkerte is dat jy nog vir daardie ouens kan lag!”
My Oom se Vrou se Plekkie spog met van die land se mees talentvolste akteurs: Etienne du Plessis, Johan Joubert, Marissa Claasen, Ana van Achterbergh, Botha Enslin, Janè Swanepoel, Francois van Rensburg, Vasti Vermeulen, Jennifer Myburgh en natuurlik die veteraanaktrise, Elma Potgieter. Elma Potgieter is al vir sewe en veertig jaar ‘n toneelspeler. “Ek moes die som maak: 2020 minus 1973 toe ek by Kruik begin speel het. Kan jy glo!” sê Elma. Woorde leer en lees was nog altyd vir Elma natuurlik. “Ek het begin op vier te lees – nogal koerant – ‘n sigaretadvertensie!” Elma is op vyf reeds skooltoe en het haar skoollopbaan uiteindelik aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar in Johannesburg voltooi. Daar het sy haar toegespits op leer, lees, toneelspeel en sang. Na skool kry sy haar universiteitsopleiding aan die Univeristeit van Pretoria, en slaag met Afrikaans/Nederlands, Engels, Frans, Duits, Sielkunde en Kunsgeskiedenis. Drama en sang het sy na ure bestudeer.
Sy gaan werk eers as joernalis by ‘n koerant waar sy begin skryf, en ontmoet gou die liefde van haar lewe, die akteur en regisseur, Schalk Jacobsz. As Die Bywoners voer hulle verskeie produksies op onder andere Hallo & Koebaai! deur Athol Fugard, wat deur Schalk in Afrikaans vertaal was, Die Wildsboudjie met onder andere Cobus Rossouw en Ernst Eloff in die rolverdeling, en ook Moervrug waarin sy ses karakters speel – drie mans en drie vroue. In 1979 bied sy die kinderprogram Wielie Walie aan en in 1980 ‘n ruk lank Kraaines. Sy skiet wyedoekrolprente met hoofrolle in onder andere Dr. Marius Hugo, Sonja en Eensame Vlug waartydens sy vir Jan Scholtz werk. Toe hy haar bel vir die TV-reeks Iemand om lief te hê, sê hy: “Jy speel mal rolle baie goed. Die vrou in dié reeks is mal. Jy moet haar vir my speel”.
“Nou ja. Wat is maller as om ‘n groot rol binne twee weke oor te neem?”, lag Elma. “En dis waar Frans Swart van Lefra in die prentjie kom – in sy klug Daa’ Gaat die Bruid in 2017 nadat Marga van Rooy siek geword het. Ek neem ook oor in Mis deur Reza de Wet vir André Stolz Produksies en die volgende klug is My Oom se Vrou se Skelmpie, ook vir Frans van Lefra. En hier is ek nou in die derde klug vir Lefra – My Oom se Vrou se Plekkie. Die heerlike rol van Doretha Marié van der Spuy, skrywer van die Woefter-kinderboekreeks!”

MEDIA NAVRAE | Charl Senekal by 011 815 3000 of admin@lefra.com