Eerste Sterrekykpiekniek fokus op ʼn helder planeet
Kapenaars en besoekers sal die skitterende sterrehemel – spesifiek die planeet Saturnus – van nader leer ken tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se eerste somerpiekniek op Paarlberg op Saterdag, 6 November 2021. Dit beloof om ʼn feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ʼn pragtige sonsondergang en ʼn gratis besoek aan die ikoniese beeldhouwerk ingesluit, én is die aand ten bate van ʼn goeie saak.
Gaste kan die sterrehemel verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die fokus is op Saturnus, die tweedegrootste planeet in die sterrestelsel wat danksy 82 mane met die meeste natuurlike satelliete spog, en wie se helderheid maklik meeding met die van baie sterre.
Die pieknieks is gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies en drankies (geen glas) te bring. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Onthou asseblief verkykers, warm kleding en maskers. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning te skenk.
Die geleentheid begin om 18:00 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Die toegangsprys is R50 per volwassene en R10 per kind; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809 of kommunikasie@taalmuseum.co.za) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae. Voorafgekoopte kaartjies kan oorgedra of vergoed word.
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18. Jaarpermitte (tot 30 November teen 20%-afslag beskikbaar) kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.
ʼn Hemelse skattejag wag by Taalmonument.
