Aandwedloop samel draf-draf geld vir palliatiewe sorg in- Taalmonument gasheer vir geleentheid van pret, gesellig eet en ʼn bietjie sweet

Met die groeiende uitdaging om die lewensgehalte van pasiënte met lewensbedreigende siektes, asook hul gesinne, te verbeter, is dit nou die tyd om draf-draf (of stap-stap) geld in te samel vir die Drakenstein Palliatiewe Hospies. Boonop is talle medaljes en kontantpryse op die spel wanneer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Historium Trust en Paarl Atletiekklub se Aandwedloop op Woensdag, 8 Desember 2021, op die beeldskone Paarlberg plaasvind. 

Soos altyd kan deelnemers en ondersteuners staatmaak op die perfekte piekniek- en kuierplekke by die monument, waar tydelike uitstallings asook ’n avontuurlike speelgrond en buitelugspeletjies wink. Boonop kan almal hierdie ikoniese monument vir een van Afrika se jongste tale gratis verken en bewonder. Maak ’n heerlike aand daarvan: bring ʼn piekniekmandjie en drankies, komberse en kussings, en onthou ook asseblief warm klere en ʼn masker. 

Die 10km-Aandwedloop, wat ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:30; dit volg ʼn opwindende en uitdagende roete op teer- en grondpaaie. Die inskrywingsfooi is R70 en tydelike nommers (vir diegene wat nie lede van ʼn atletiekklub is nie) is beskikbaar teen R40. Die gesellige 5km-Woordloop, wat om 18:45 begin, is gemik op die hele gesin – selfs stootwaentjies is welkom! Die inskrywingsfooi is R50 en deelnemers skryf in met ’n prettige Afrikaanse woord in stede van ʼn nommer. In beide gevalle is stappers is ook welkom, dus daar is g’n verskoning om nie gesond, goed en vrygewig te voel nie. 

Deelname aan die 10km-wedloop sal tot 1 000 beperk word, en mense word aangemoedig om voor 12:00 op Maandag, 6 Desember 2021, in te skryf deur Lucky Mokwena op mokwenal@sun.ac.za of 084 826 5895 te kontak. Indien daar nog plekke is, kan deelnemers op Saterdag, 4 Desember, tussen 10:00 en 12:00 of op die wedloopdag self tussen 16:00 en 18:00 by die Taalmonument registreer. Vir navrae oor die 5km-Woordloop, kontak Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za. Toegang is gratis vir ondersteuners. 

Meeste palliatiewe sorg in Suid-Afrika word uitsluitlik deur privaatinstellings aangebied, en Drakenstein Palliatiewe Hospies is in 1991 deur ‘n klein groep vrywilligers gestig is om hierdie gemeenskapsdiens te verrig. Hulle versorg gemiddeld 230 pasiënte met lewensbedreigende siektes in hul huise per maand, en bedien die hele Drakenstein-distrik van Saron tot Simondium, insluitend al die dorpe, landelike gebiede en informele nedersettings. Hul sorgspan verseker dat pasiënte en hul gesinne van die beste gehalte palliatiewe sorg voorsien word en met waardigheid sterf. Die doel is om lyding te voorkom en te verminder deur middel van vroeë identifikasie en deeglike assessering, en deur die pyn en ander probleme wat met die siektes verband hou op ’n fisieke, psigososiale en geestelike vlak aan te pak. Kontak hulle by marketing@drakensteinhospice.org.za of 021 872 4060.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS. Tot 30 November 2021 geld gratis toegang vir kinders onder 18. Jaarpermitte (tot 30 November teen 20%-afslag beskikbaar) kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.