Die Melkmaan kom Taalmonument toe – Nóg ʼn volmaanpiekniek op die horison; gratis vir onder-18’s.

Met die jaar wat vinnig einde se kant toe staan, is dit die perfekte tyd om asem te skep en die volmaan van nader te bekyk op ʼn heerlike somersaand op die beeldskone Paarlberg. Daarom nooi die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se vriendelike personeel almal hartlik uit om hierdie natuurlike verskynsel op Vrydag, 19 November 2021, met hulle te vier.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek aan die Melkmaan gewy – dit verwys na die feit dat suiwel nog altyd ʼn belangrike bron van proteïene vir onder meer die Khoekhoen was. Dit is vars en gefermenteer aan besoekers aangebied, en in die voorbereiding van kos asook die maak van botter gebruik. 

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies en drankies te bring. Onthou ook warm klere en ʼn flits, asook ʼn masker. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensionarisse, en gratis vir kinders onder 18 jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tot 30 November 2021 teen ʼn 20%-afslag aangebied), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Die volgende Volmaanpieknieks is op 18 Desember en dan op 15 Januarie, 18 Februarie en 18 Maart in 2022. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by https://cfah.org.za

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die ATM, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18. 

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →