Om die afskaffing van slawerny in die Kaap in 1834 te herdenk bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Historium Trust en DAK Netwerk ʼn opwindende piekniekkonsert op Woensdagaand, 1 Desember 2021, aan. Met dié geleentheid wil hulle die fokus plaas op die geskiedenis van slawe, hul nageslagte en kultuurerfenis (soos hul rol in die skep van Afrikaans) asook moderne slawerny.
Die kunstenaars sluit Marco Mentoor, Clarissa Benjamin, Diana Ferrus en The Rockets in, en die opbrengs sal ten bate van die DAK Netwerk se beursfonds vir studente aangewend word. Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, vorm dié geleentheid deel van die instelling se visie om ʼn inklusiewe gehoor te lok en ʼn geleentheid te skep vir plaaslike kunstenaars wat nie in die Covid-19-grendeltydperk kon werk nie. “Hiermee wil ons die fokus plaas op die geskiedenis van slawe en hul nageslag, iets wat grootliks onder die mat gevee word in Suid-Afrika,” sê hy. “Die piekniekkonsert bied ook aan besoekers die geleentheid om in ʼn pragtige, veilige omgewing – waar alle Covid-protokolle handhaaf word – vermaak uit die boonste rakke in ons intieme Tuinteater te kom geniet.”
The Rockets is meer as net ʼn groep; dis inderdaad ʼn musikale instelling wat byna elke jaar ʼn suksesvolle draai by die Taalmonument maak. Hulle het al meer as 3 miljoen kilometer gereis en gaan voort om plaaslike sowel as internasionale verhoë aan die brand te sing met hul kleurryke, kompromislose en energieke optredes. Die Paarlse legende Marco Mentoor is gereeld by die Taalmonument te siene en het al saam met onder andere Jonathan Butler, dr Victor & the Rasta Rebels, Elvis Blue en Jimmy Dludlu opgetree. Sy talentvolle mede-Paarliet, Clarissa Benjamin, sing reeds van die ouderdom van 10, is ʼn bedrewe klawerbordspeler en het al saam met kunstenaars soos Crushanda Forbes opgetree en die verhoog met Karen Kortjie, Emo Adams, Belinda Davids en vele meer gedeel. Diana Ferrus is ʼn pryswennende skrywer, storieverteller en stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging. Sy is veral bekend om haar 1998-gedig oor Saartjie Baartman wat eindelik daartoe gelei het dat Baartman se liggaam vanaf Frankryk na Suid-Afrika gerepatrieer is
Gaste kan reken op ʼn beeldskone skemeraand en die perfekte piekniek- en kuierplekke by die monument, waar tydelike uitstallings asook ’n avontuurlike speelgrond en buitelugspeletjies wink. Boonop kan almal hierdie ikoniese monument vir een van Afrika se jongste tale gratis verken en bewonder. Bring ʼn piekniekmandjie en drankies, komberse en kussings, en onthou ook warm klere en ʼn masker.
Toegang is R50 per persoon en kan vooraf op Computicket gekoop word. Indien enige kaartjies oor is, sal hulle ook op die aand self te koop wees. Hekke open om 17:00, en die voordrag en musiek vind tussen 18:00 en 20:30 plaas. Vir enige navrae kontak Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za. Meer oor DAK Netwerk, wat hul toespits op die holistiese ontwikkeling en groei van agtergestelde Afrikaanssprekendes, by daknetwerk.com.
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS. Tot 30 November 2021 geld gratis toegang vir kinders onder 18. Jaarpermitte (tot 30 November teen 20%-afslag beskikbaar) kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.
The Rockets, Ferrus en andere vermaak gaste by Taalmonument – Piekniekkonsert herdenk afskaf van slawerny.
