Die Gauntengse rockgroep, Die Eindste, se eerste enkelsnit – L – het groot opslae gemaak in musiekkringe toe dit vroeër vanjaar uitgereik is.
Nou kom dié vars briesie in die plaaslike musiekmark om luisteraars weereens te beïndruk met die vrystelling van ’n splinternuwe liedjie, JOU OPTOG, wat beloof om die sukses van hulle debuut-enkelsnit te oortref.
Hierdie snit, uit die pen van die groep se voorsanger en akoestiese kitaarspeler André Faurie, gaan oor die angs van sosiale verwerping en die impak wat so ’n ingesteldheid op jou lewe en selfvertroue kan hê. “Die liedjie vertel die storie van iemand wat as gevolg van sosiale angs nie die selfvertroue het om te veg vir die meisie van sy drome nie. Dit veroorsaak dat sy hom verwerp en iemand anders bo hom kies,” verduidelik Faurie. “Hy sit dan letterlik en hoop en wag dat sy van plan verander, alhoewel hy diep binne-in homself weet dat hulle nie vir mekaar bedoel is nie.”
Die lied, wat beskryf kan word as alternatiewe rock, val lekker op die oor en sal aanklank vind by luisteraars van alle ouderdomme. Volgens Faurie, is die boodskap agter die lirieke dat luisteraars nie hulle waarde moet koppel aan ander mense se opinies nie en hulleself moet aanvaar nes hulle is.
“Daar is altyd hoop dat wanneer jy jouself aanvaar, jou selfvertroue sal toeneem en alles op die ou einde sal beter uitwerk. Soos ons in die liedjie sing, kan die ou dalk eendag genoeg moed hê om die meisie weer te nader.”
’n Musiekvideo van die snit word vir vroeg volgende jaar beplan en gaan deur Bow Tie Media verfilm word by ’n ligtoring in die Weskaap.
JOU OPTOG is die tweede enkelsnitvrystelling vanaf hulle debuut-album, GRYS, wat deur Markus Els van Mark7Studios vervaardig is.

GRYS is spesifiek as titel gekies om as metafoor te dien vir die emosies wat deur elke liedjie weerspieël word en waarby luisteraars kan aanklank vind. “Dit is ’n donker kleur, met ’n bietjie hoop.”
Die album bestaan uit elf oorspronklike alternatiewe rock-snitte wat sorgvuldig geskep is om verskeie temas, soos sosiale angs, verwerping, hoop, aanvaarding en liefde, aan te spreek en is geïnspireer deur Damien Rice se musiek waarby die groep baie aanklank vind.
“Ons wil graag hê dat ons musiek mense moet laat dink en iets moet laat voel wat hulle nie altyd bereid is om te erken nie. Niemand is altyd gelukkig nie en worstel soms met emosionele kwessies. Maar daar is altyd hoop, al gaan jy deur ’n moeilike tyd. Die son kom altyd weer op na ’n wintersaand,” sê die driemanskap.
Hulle gunsteling-liedjies op die album is Myself of Almal en Reën. Omdat die twee snitte heeltemal van mekaar verskil, vang dit die kreatiwiteit, veelsydigheid, diversiteit en dinamiek van die groep vas en stel dit André se talent en vaardighede as sanger en liedjieskrywer behoorlik ten toon.
Ten spyte van baie uitdagings en struikelblokke, is hulle baie trots en verlig om hulle album uiteindelik met bewonderaars te deel.

Die Eindste, waarvan die naam uit ’n gesprek tussen die groeplede ontstaan het, is in 2019 gestig toe ’n groep skoolvriende (André Faurie, Ruan Pieterse en Ian Putter) besluit het om saam musiek te maak as gevolg van hulle gedeelde passie vir Afrikaanse musiek waarby luisteraars kan aanklank vind.
Hulle beskou die vrystelling van hulle eerste album as die hoogtepunt van hulle musiekloopbaan, wat almal op die oomblik deeltyds beoefen, sover en wil graag so gou as moontlik nog een uitbring as GRYS goed ontvang word.
Die groep het nog baie planne en drome vir die toekoms, wat meer lewendige vertonings insluit, en hulle sal ook graag eendag die verhoog met kunstenaars soos Jan Blohm, Francois van Coke en Spoegwolf wil deel.
“Ons glo dat mense ons musiek sal geniet, omdat dit nuut en anders is as wat oor die algemeen in Afrikaans beskikbaar is. As ons sien dat mense nog daarvan soek, sal ons dit beslis vir hulle gee. Vir nou fokus ons daarop om ons nuwe album te bemark en soveel gigs as moontlik te doen,” sê Faurie.
Die aanslag van Die Eindste se album en enkelsnit is vars en modern en is maar net die begin van groot en opwindende dinge wat op hulle wag.
“Elkeen van ons het ons eie musieksmaak, so dit was nogal ’n uitdaging om ’n unieke klank te skep, maar ons is tevrede met die eindresultaat en opgewonde om dit met die publiek te deel,” sluit hulle af.
LYS VAN SNITTE:
Intro
Myself of almal
L
Gedagte
Dood
Jou Optog
Alweer
As jy vir my sê
Alles oor en oor
Sal ek sien
Reën
Die album is nou aanlyn beskikbaar. Kry dit hier: https://distrokid.com/hyperfollow/dieeindste/grys
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/die.eindste
Instagram: @die_eindste_band
DIE EINDSTE
Die Eindste is ’n Afrikaanse alternatiewe rockgroep van Gauteng, wat bestaan uit André Faurie (voorsanger, liedjieskrywer en akoestiese kitaarspeler), Ian Putter (hoofkitaarspeler) en Ruan Pieterse (baskitaarspeler).
’n Gedeelde passie vir betekenisvolle alternatiewe Afrikaanse musiek tussen skoolvriende (waarvan sommige lede ook familie is), het in 2019 gelei tot die ontstaan van dié besonderse driemanskap wat daarin glo om musiek te skep waarby gehore sal aanklank vind.
Volgens André is die groep se naam gebore uit ’n gesprek wat hulle gehad het waarin “die eindste” gebruik is. Hy het later gedink dat dit ’n goeie naam sou wees vir ’n musiekgroep en die res van die manne het dadelik van die voorstel gehou.
Alhoewel hulle reeds ’n geruime tydjie deeltyds saam musiek maak, het hulle eers in 2021 die musiekmark amptelik betree met die vrystelling van twee enkelsnitte, L en Jou Optog, asook hulle debuut-album – Grys – wat baie goed ontvang is.
Die groep, wat ’n vars en unieke styl van hulle eie na die plaaslike musiekmark bring, vind aanklank by Damien Rice se musiekstyl en sal nog graag eendag die verhoog wil deel met name soos Jan Blohm, Spoegwolf en Francois van Coke.
André Faurie is die groep se een-en-twintigjarige hoofsanger, liedjieskrywer en akoestiese kitaarspeler van Benoni en beskryf homself as ’n introvert wat maklik aanpas by enige omstandighede. Hy is van jongs af met musiek doenig en het begin met klavierles op die ouderdom van sewe. Deesdae spog hy met ’n Graad sewe-en Graad vyf-kwalifikasie in klavier en musiekteorie van UNISA en ’n Graad twee-kwalifikasie in stemopleiding van Trinity College. Hy is tans ook besig om regte te studeer aan die Universiteit van Pretoria. Dié musikant het ’n wye musieksmaak, wat wissel van alternatief en rock tot folk en Country en vind inspirasie vir sy eie musiek in die emosies wat hy ervaar. Verder glo hy ook dat verhoudings baie belangrik is en dat jy mense se ondersteuning nodig het om jou te help om jou doelwitte te bereik.
Ian Putter is die hoofkitaarspeler van die driemanskap. Hy is in Pretoria gebore, maar woon tans in Heidelberg. Dié een-en-twintigjarige is ’n musikant deur murg en been en erken dat die enigste werk waarvoor hy musiek sou verruil sal wees om rekenaarspeletjies te ontwikkel, omdat die ontwikkeling van sagteware sy ander groot liefde is. In sy vrye tyd, skryf hy graag gruwelstories en spog hy ook met kwalifikasies in kitaar en klavier van Trinity College. Hierdie storieverteller hou baie van metal en meen dat Marty Friedman die grootste invloed op sy styl gehad het. Volgens Ian het die musiekbedryf hom sover geleer dat dit belangrik is om jou produk behoorlik te bemark en om goeie verhoudings te bou.
Ruan Pieterse is ’n drie-en-twintigjarige baskitaarspeler van Benoni, wat in ’n huis vol musiek groot geword het, maar eers as tiener begin instrumente speel het. Hy glo dat musiek die vermoë het om lewens te verander en vind aanklank by betekenisvolle alternatiewe musikante soos Spoegwolf en Francois van Coke. Hierdie gemaklike gees, met die sagte hart, sal graag eendag sy eie besigheid wil hê en is dankbaar vir die positiewe impak wat musiek sover op sy lewe gehad het.
Die groep het nog baie planne en drome vir die toekoms, wat meer lewendige vertonings en ’n tweede album insluit.
“Ons glo dat mense ons musiek sal geniet, omdat dit nuut en anders is as wat oor die algemeen in Afrikaans beskikbaar is. As ons sien dat mense nog daarvan soek, sal ons dit beslis vir hulle gee. Vir nou fokus ons daarop om ons nuwe album te bemark en soveel gigs as moontlik te doen,” sluit hulle af.
Die Eindste se wens is om mense, regoor die land, positief te beïnvloed en met wat hulle reeds met die publiek gedeel het, is hulle beslis op pad om hierdie doelwit te bereik.
STARBURST PROMOTIONS
Gizela Arndt – PUBLICIST