Egmond stel nuwe enkelsnit vry getiteld HELLO!

. Die video en digitale vrystelling vind plaas volgende Vrydag 4 Februarie 2022.

HELLO! Maak weer kennis met Afrikaanse liedjieskrywer en musikant Egmond. Dis bykans twee
dekades sedert die sanger ‘n verhoog gedeel het met Adam Tas, waar hy in 2003 sy eerste
Afrikaanse enkelsnit V’more bekend gestel het aan ‘n klein Bosveld gehoor. En as jy nog nie Egmond
raakgeloop het op die radio golwe van Pretoria FM, Laeveld Stereo, Caledon FM of Bosveld Stereo
nie, of sy musiek videos gesien het op MyTV en kykNET se “Die Van Coke Show” nie, maak gereed
om die elmboog-groet te doen!


Die titel snit Hello is die nuuste uitreiking vanaf die kunstenaar se album Ongevraagde “Hello” 2.0,
die 10de herdenkings album van sy 2011 debuut. Naas die enkelsnit wat op 4 Februarie 2022 die lig
sien op digitale platforms, maak die gepaardgaande musiek video ook sy debuut op YouTube.
Die kleurvolle musiek video vang nie net die huidige pandemie se nuwe groet-maniere vas nie,
maar spog ook met die sanger se groot liefde vir pop-kultuur vanaf die tagtiger jare tot nou! Daar
is selfs ‘n greep waar die sanger uitgebeeld word as kinder program ikone He-Man, She-Ra en Lion-
O. In ‘n tong-in-die-kies verwysing word Amerikaanse besigheid Super7 geprys vir hul onlangse
redding van die ThunderCats-versamelaars lyn wat gered is uit vergetelheid nadat speelgoed
magnaat Mattel die duur stokperdjie onvoltooid agter gelaat het in 2016. As jy Francois van Coke
se klets program gesien het in 2018 sou jy beslis die sanger se eie versameling gesien het in hul
geselsie op die lug.


Hetsy jou rekenaar skerm, selfoon, slim TV or radio aan is, iewers sal die treffende klank en
polsende ritme van Hello jou tref in 2022. Die liedjie, oorspronklik getiteld Gister op die sanger se
debuut, is in 2021 weer opgeneem en herskryf vir die 2.0 album. Boonop is die treffer ‘n
internasionale produksie wat voltooi is in Australië onder die direksie van Sandy Robbie, lid van die
sewentiger kult-groep Clout.

Olka Bolka het ook ‘n onderhoud met Egmond gehad om bietjie meer oor hom uit te vind:

Waar is jy gebore en het jy grootgeword?

Ek is ‘n gebore Bosvelder wat in Warmbad (nou Bela Bela) groot geword het, skool gegaan en gematrikuleer het.

Wat het jy na Matriek gedoen?

Ek was in Standerd 9 ‘n uitruilstudent gewees Duitsland toe. Ek het so baie daarvan gehou dat ek na skool vir ‘n jaar in Duitsland gewerk het en ‘n jaar daarna in Engeland gewerk het voor ek teruggekom het.

Wat doen jy behalwe musiek?

Ek werk in die toerisme bedryf, maar meer in die bemarking kant daarvan.

Skryf jy self jou liedjies?

Ja, ek dig al van skooldae af en het in Engeland destyds gedigte gepubliseer. Dit was die regte motivering gewees om aan te hou. Eendag het ek ‘n ritme in my gedigte ontdek en toe word dit lirieke… Ek’t nooit gedink ek kan wysies skryf nie, maar die woorde het daardie tyd ‘n wysie na vorie gebring, en van toe af was dit soos fiets ry.

Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?

Ek het einde verlede jaar die 10de herdenking van my album ONGEVRAAGDE “HELLO” uitgereik. Die album was oorspronklik reeds in 2008 selektief uitgereik, maar dit was in 2011 wat die album tot sy volle reg gekom het en digitaal uitgereik was en begin sukses behaal het met sy verskeie video en radio treffers. Die nuutste uitreiking daarvan af is HELLO. Die liedjie is in Australië en Suid-Afrika opgeneem einde 2021 deur Sandy Robbie, voormalige lid van die pop kult groep Clout. Die enkelsnit is die eerste nuwe musiek vir 2022. Maar daar is nog baie meer oppad. Ek neem volgende maand die liedjie ENCORE (OP DIE RADIO) op wat vanaf die opkomende treffer album SIRKUS APPLOUS ENCORE af uitgereik gaan word later die jaar.

Ek sing 99% van die tyd in Afrikaans, maar het in die verlede ‘n Engelse liedjie hier en daar uitgereik. In 2018 het ek in Francois van Coke se “Die Van Coke Show” ‘n draai gemaak met die liedjie KOM RED MY, en het te danke aan Adam Tas in 2003 ernstig begin musiek maak nadat hy my genooi het om die verhoog te deel en my eerste Afrikaanse opname V’MORE te sing. Ek het al met verskeie internasionale talente gewerk, insluitende Bernie Millar van Circus, Glenda Hyam van Clout, asook nuwe opkomende talente soos Algorrid3m en Marc Skarda van Parable Fifteen.

Watse invloed het covid op jou musiekloopbaan gehad , en nog steeds?

Ek het die stil tyd gebruik om te reflekteer op my loopbaan en het deur die argiewe gekrap vir inspirasie. In retrospek was dit goed gewees om te ontdek waar alles begin het vir my. Dit het basies ‘n domino effek gehad en ek het projekte vooruit beplan tot volgende jaar wat ek in hierdie tydperk opgedroom het.

Hoe het jy 2020 ervaar?

Om by die huis te sit was ‘n blessing in disguise want dit het my geforseer om myself besig te hou.  Ek het ‘n versamelings album REMIXED uitgereik wat ‘n visuele projek was en het ‘n totaal van 11 musiek videos vir die album geproduseer in ‘n baie kort tydperk.  VERSLAAF se musiek video was die oorsaak van als. In 2010 was daar begin werk aan ‘n musiek video maar dit was halfpad gestaak destyds omdat ek toe reeds te veel goed aan die gang gehad het.  Toe ek op die half voltooide video afkom het een plus een skielik twee gemaak en ek het die video voltooi 10 jaar later.  Dit is nogals snaaks want jy kan sien hoe ek in 2010 en 2020 lyk en dan saam in dieselfde gedeeltes sing. Mense het gedink dis my jonger broer of ek is ‘n groep wat sing omdat baie van die liedjie in twee verskillende stemme gesing is! Dit was lekker om die liedjie tot sy reg te laat kom, al het die beeldmateriaal gestrek oor 2 dekades.

Met Covid en als wat gebeur in die wêreld, hoe sal jy seker maak dat jou musiekloopbaan momentum hou?

Mense bly makliker by die huis en gaan dalk nie meer in groot groepe uit nie. Almal soek na vermaak op ander maniere, so ek fokus al my energie op die platforms waar mense musiek luister soos iTunes, YouTube, Spotify ens. Die getalle luisteraars daarop het die afgelope jaar drasties geklim wat wys ek is op die regte pad.

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

Ek het ‘n trilogie geskryf getiteld The Stone Heroes. Dit moes al lankal gepubliseer gewees het. Dit sal ook nog gebeur eendag.

Wat inspireer jou?

Stories met ‘n goeie of ‘n slim einde, of dit nou ‘n drama of ‘n spook storie is, die mens se manier om karakters te skryf wat deurdruk om sterker aan die ander kant uit te kom, laat my dink dat daar hoop is vir almal. Daai vonk wat wegkruip is ‘n inspirasie, want dit kan lei tot groter en beter dinge.

As jy saam met enige iemand in die wêreld kan sing, wie sal dit wees en hoekom?

Daar’s tonne, maar ek dink iemand wat ek graag iets unieks mee sou wou doen is die sangeres Kimera. Kan jy haar nog onthou?

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

SIRKUS APPLOUS ENCORE en die enkelsnit ENCORE (OP DIE RADIO) sal in die middel van die jaar uitkom. Volgende jaar (2023) word die album KARNAVAL uitgereik. Die liedjies daarvoor is al reeds geskryf en ek kan nie wag om SPOOKASEM, IEMAND en AARDBEWING aan gehore te speel nie.

Wat is jou gunsteling:

Tipe Musiek – Pop musiek.

Sanger  Ek’t van Dr Alban gehou.

Sangeres Enya vir rustigheid en Tina Turner vir rock ‘n roll!

Band Roxette

Gunsteling liedjie Joyride deur Roxette

Rolprent Lord of the Rings en Harry Potter

Akteur Chris Pratt

Aktrise Viola Davis

TV reeks  Lost en Desperate Housewives en Fringe. Daai drie!

Kos en drankie Pizza en soet wyn. Net nie saam nie.

Ontspanning Om ThunderCats te kyk…

Boek Weereens Lord of the Rings en Harry Potter

Vakansie bestemming Op die skip na Pomene in Mosambiek

Kleur Groen

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.

Pretentious mense, iemand wat poer poer agter ‘n stuurwiel, self-bejammering en politiek.


Hello word uitgereik deur Next Music. Vir navrae, kontak musiek@egmond.co.za of besoek
www.egmond.co.za.

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →