Kuier saans en staan kans om 14 kaartjies na Jazz Piekniekkonsert te wen, Taalmonument later oop, ter wille van die liefde!

Ter viering van Valentynsdag sal die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) tussen 12 en 17 Februarie saans oopbly om besoekers te verwelkom en boonop aan hulle die kans te bied om 14 kaartjies na die Jazz Piekniekkonsert met Chadleigh Gowar se orkes op Saterdag, 19 Februarie 2022, te wen.

Danksy die maand van liefde se soel sonsondergange en hemelse skouspelle op die pragtige Paarlberg, sien die vriendelike personeel daarna uit om een en almal saans te verwelkom by hierdie magiese plek. Gaste kan die beeldskone omgewing, simboliek-gelaaide struktuur en tydelike uitstallings bewonder terwyl die speletjies en speelparke kinders uit die kwaad sal hou. Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by die ATM Koffiehuis via 082 216 2510 of info@atmkoffiehuis.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings tydens die aande verkoop. 

Om vir die sewe stelle van twee kaartjies na die Jazz Piekniekkonsert te kwalifiseer, moet gaste die monument tussen 17:00 en 20:00 besoek, hul kontakbesonderhede op hul kaartjies skryf en in die boks vir die geluktrekking plaas. Besoekers met jaarpermitte sal ook kwalifiseer deur ʼn inskrywingsvorm in die Besoekersentrum te voltooi. Wenners sal elke dag aangekondig word. Op 18 Februarie is daar boonop weer die gewilde Volmaanpiekniek, dus besoekers op daardie aand kry ʼn volmaan én ʼn kans op ʼn kaartjies op die koop toe.

Op Saterdag, 19 Februarie, sal Chadleigh Gowar se orkes met saksofoon-sensasie Zeke le Grange en meester van die slaginstrumente Jason Ward die gehoor op ‘n musikale reis neem terwyl die son agter die ikoniese monument wegsmelt. Die res van die talentvolle en ervare groep bestaan uit Roderick McKay op die klavier, Lee Ludolph op die kitaar en Damian Kamineth op die tromme. Die aand se jazz-repertoire sluit ook plaaslike, oorspronklike en Afrikaanse items in, asook dansmusiek wat jou die hele aand op die been sal hou. 

Toegang hiervoor is slegs R100 per volwassene en R80 vir pensioenarisse, studente en kinders onder 18, en die vertoning begin om 19:00. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en, indien daar nog oor is, by die hek op die dag self vanaf 17:00. 

Voor die kortste maand van die jaar verbyvlieg, kan Kapenaars en besoekers ook die skitterende sterrehemel – spesifiek die sprankelende Orion – van nader leer ken tydens die ATM se Sterrekykpiekniek op Paarlberg op Saterdag, 26 Februarie 2022. Meer besonderhede hieroor op hul webtuiste.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT, TAALMUSEUM EN KOFFIEWINKEL IS OOP VIR BESOEKERS. Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.


About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →