Paarl boorling stel boek by Taalmonument bekend en Kirby van der Merwe se ‘Eugene’ wyd geloof!

Die bekroonde skrywer en boorling van Paarl, Kirby van der Merwe, het op Vrydag, 27 Mei 2022, sy jongste roman ‘Eugene’ tydens ʼn gratis geleentheid in samewerking met die Historium Trust en NB-Uitgewers by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) bekend gestel.  Dié aangrypende boek oor vriendskap en verraad word beskryf as “ ʼn gatskop-roman oor die agterjaarts en die langstoepe van die sixties en die seventies”. ʼn Prikkelende gesprek tussen hom, die ATM se direkteur, Michael Jonas, en die ATM se raadsvoorsitter, Jean Meiring, beloof om gaste ʼn fassinerende insig op hierdie joernalis-outeur en sy boek te gee waarna besoekers vrae kan stel. 


Kirby is in die Paarl gebore en het aan Hoërskool Noorder-Paarl gematrikuleer waarna hy as onderwyser gekwalifiseer het. Sedert die laat 1990’s maak hy sy merk as digter en sy kortverhale verskyn in verskeie bundels terwyl sy radiodramas op RSG uitgesaai word. Hy was ʼn redaksielid van Insig, Huisgenoot en Beeld, en het ʼn Mondi-toekenning, Media24 Uitnemendheidstoekenning en ATKV-veertjies vir sy joernalistieke werk gewen. Sy prosadebuut was ‘Klapperhaar slaap nie stil nie’ en as vertaler het hy onder meer Carol Campbell se ‘My children have faces’ in Afrikaans as ‘Karretjiemense’ vertaal en Chris van Wyk se ‘Eggs to lay, chickens to hatch’ as ‘Daar’s ‘n hoender wat ‘n eier nie kan lê’.

‘Eugene’ het reeds die derde prys in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021 verower en word in die media geprys. Rapport meen “dit is geskryf in ’n taal wat nie huiwer om woorde soos vuishoue te plant nie; tog slaag dit daarin om met besonder gevoeligheid die kompleksiteit van ’n hele geslag mense se lewens vas te vang”. Vryeweekblad.com se resensent skryf: “Die boek waaraan dit my die meeste herinner, is ‘Kompoun’ van Ronelda Kamfer – mense en hul geite en wedervarings, hul ellendige lyding in ’n onherbergsame milieu en onderdrukkende bestel word poëties verwoord, met ’n oog vir detail en die absurde.” Huisgenoot se boekeredakteur reken hierdie “ ‘roesbolling’ van voorstedelike tuine en ghettostrate” is dalk die Afrikaanse roman van die jaar.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT, TAALMUSEUM EN KOFFIEWINKEL IS OOP VIR BESOEKERS. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

Jeffrey Pietersen
Assistent: Geleenthede en Kommunikasie
Assistant: Events and Communication
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument
T +27 (0)21 872 3441
F +27 (0)86 231 7324/+27 (0)21 872 3642
E bemarking2@taalmuseum.co.za
W www.taalmuseum.co.za | www.taalmonument.co.za
F www.facebook.com/afrikaansetaalmonument
T www.twitter.com/taalmonument



About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →