Die gewilde komedie, Wie hyg so? gaan Pretorianers gedurende Junie in die Staatsteater laat skater. Die stuk is ‘n oorspronklike toneelstuk uit die pen van die voormalige wenner van die Nagtegaalprys, Braam van der Vyver.

Wanneer ouderling Christoffel van Wyk ‘n smeulende hygroman skryf, begin die poppe dans want hygromans wat deur mans geskryf word, verkoop nie. Die vermaarde uitgewer, Beulah Bosman, meesterlik vertolk deur Hannelie Rolfes , gee egter nie so maklik op nie. Sy besluit om die boek, Amelia, onder die naam, Venus van Wyk, uit te gee en kry die verloopte sepie-aktrise, Aurelia Oberholzer-Anderson om vir die persona van Venus in te staan. Alles lyk onder beheer tot Aurelia se borsvergrotingsoperasie en die gevreesde boekresensent, Rintha Roelofse, sake deurmekaar krap. Rintha krap waar dit nie jeuk nie en Christoffel vertrek saam met sy predikant, die wulpse dominee Tollie Zuurvogel, na die sinodesitting in Hartenbos. Dis juis in Hartenbos waar die die tweede bedryf afspeel, waar dominee Tollie se ware kleure na vore kom en Christoffel se probleem nuwe afmetings aanneem (36x24x36).



Die rol van die boekredakteur, Beulah Bosman, word deur die ervare Rolfes vertolk. Sy is gereeld op die kassie en in films in aksie en was onlangs in die spanningsreeks, Spoorloos, op Kyknet te sien.

Natania van Heerden wat al met ‘n beste aktrise-toekenning deur die ATKV bekroon is vir haar vertolking van Mariana in Kruispad, speel Rintha. Sy was ook onlangs in die gewilde reeks Sara se geheim, in aksie. Steffie le Roux skitter as Aurelia terwyl Zelda Roelofs wat al in verskeie sepies rolle gehad het, en onlangs in Deurnis Digitaal beindruk het, die rol van ‘n eskort vertolk..



Die gevierde akteur, Gerben Kamper, speel die rol van ds. Tollie. Kamper, wie se loopbaan oor 49 jaar strek, was vanjaar al in Binnelanders op die skerm. In die onlangse verlede het hy onder andere rolle in Die Byl en Swartwater op TV asook in die film, Klein Karoo 2, vertolk. Sy lang lys toekennings sluit ‘n erepenning vir sy lewenslange en uitmuntende artistieke bydrae tot die Afrikaanse Teater van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in.

Die rol van die jeugdiaken word deur die opkomende jong ster, Ruan Wessels, behartig. Wessels wat in Mei ‘n Naledi toekening gewen het as die beste jong opkomende akteur, is ook vanjaar in die gewilde eenmanstuk, Plesierengel, landswyd op die planke. Hy was voorheen in verskeie sepies te sien.

Die regie van die produksie word behartig deur Johan van der Merwe en Emil Haarhoff. Beide is deel van die multi-bekroonde Deurnis projek wat met’n Fiesta, ‘n ATKV-veertjie en Kyknet se Blou stoel toekenning vir innoverende werk spog. Van der Merwe is ook bekroon vir sy werk as vervaardiger. Hy was een van die opdraggewende vervaardigers wat verantwoordelik was vir die vervaardiging van Die Vars Reuk van Appels, Kamphoer en die Deurnisprojek. Hierdie produksies het verskeie pryse ingepalm.


Die stuk is van 8 – 26 Junie in die Drama by die Staatsteater op die planke. Daar is aandvertonings om 19:30 van Woensdae tot Saterdae en middagvertonings om 15:00 op Saterdae en Sondae.
Besprekings kan by Webtickets.co.za gedoen word. Kaartjies kos R130.
Kaartjies nou beskikbaar by webtickets
https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1515260066