Met opgewondenheid deel ons met jou die nuus dat Glans Boeke, ʼn nuwe uitgewer vir onafhanklike skrywers is!

Daar is al twee Afrikaanse Fiksie titels beskikbaar gestel het vir lesers om te geniet. Storie van ʼn Mal Huisvrou en Roadtrip na Liefde is nou beskikbaar op platforms soos Amazon Kindle en Kobo:

Olka Bolka het bietjie gaan inloer by Glans om meer oor die 2 Afrikaanse skrywers uit te vind.

Hiermee is ons onderhoud met Annie VB oor haar boek Roadtrip na liefde.

Waar is jy gebore en het jy grootgeword?

“Ek is in Witbank gebore en het in die Vaaldriehoek grootgeword.”

Het jy na skool gaan studeer, indien wel wat?

“Ek het BA Geesteswetenskappe by Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus studeer, met Afrikaans en Taalpraktyk as hoofvakke.”

Wat is jou beroep?

“Ek is ’n taalkundige, skrywer, teksversorger, projekkoördineerder en uitgewer.”

Skryf jy voltyds?

“Ja, maar nie noodwendig boeke nie. Ek het my eie besigheid wat spesialiseer in die skryf van mediaverklarings, artikels, advertensiekopie en boeke vir verskeie kliënte in die vermaak- en mediabedryf.”

Het jy van kleintyd af al gelees?

“Beslis, ek was mal oor lees en sou sê dat skrywers en boeke uit my kinder- en jeugdae ’n blywende impak op my gehad het.”

Wanneer het jy begin skryf en wat was jou eerste verhaal/gedig?

“Ek skryf al amptelik sedert ek die mediabedryf in 2004 betree het. Talle artikels en mediaverklarings het al uit my pen verskyn. Roadtrip na Liefde is egter my eerste vollengte boek. As kind het ek egter baie gedigte geskryf. Een van my gedigte is as openingstoneel van ’n laerskoolkonsert gebruik en baie van my ander het die skoolkoerant gehaal.” 

Hoeveel boeke/gedigte het jy al geskryf?

“Te veel gedigte, artikels en mediaverklarings om te tel. Nog net een boek.”

Wat is jou genre?

“Liefdesverhale”

Watter tipe boeke lees jy?

“Liefdesverhale met dieper betekenis soos Nicholas Sparks en Jojo Moyes, asook biografieë en speurverhale.”

Is daar ’n boek/gedig wat jy gelees het, wat ’n groot indruk op jou gemaak het?

“Daar is baie boeke wat ’n indruk op my gelaat het. Eintlik te veel om te noem, en elkeen vir verskillende redes. Meer onlangs, het Safe Haven van Nicholas Sparks het my laat besef watter talent sommige skrywers het om jou binne die kop van ’n karakter te plaas. Ek sou dit baie graag ook met my eie karakters wou doen.”

Vertel ons van jouself in ’n neutedop?

“Ek is ’n eenvoudige mens, wat bereid is om hard te werk vir wat ek wil hê en sukses op ’n eerlike manier (en sonder op mense te trap) te bereik. Alhoewel ek baie doelgerig en georganiseerd is, probeer ek gaaf wees. Ongelukkig laat my humeur net nie altyd toe dat ek enigiets vir soetkoek opeet nie. Ek is ’n familievaste mens en ’n baie lojale vriendin vir diegene wat na aan my beweeg. Laastens is ek ’n groot diereliefhebber wat my troeteldiere bederf waar en wanneer ek kan.”

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

“Ek gril vir polse… myne inkluis.”

Wat inspireer jou?

“Menswees, die liefde, diere, emosies en ander se stories.”

As jy met enigiemand oor ’n koppie koffie kan gesels, wie sal dit wees en hoekom?

“Beslis Nicholas Sparks… en dalk ook Bon Jovi.”

Wat is op jou emmerskoplys (Bucket List)?

“Om nog baie boeke te publiseer, Italië en die VSA te besoek, vir laser oogchirurgie te gaan, en vele meer.”

Covid het ons “normale” lewe op sy kop gedraai, hoe ervaar jy dit?

“Omdat ek in die musiek- en vermaakbedryf werk, het die Covid-19-pandemie my geweldig hard getref en ’n groot finansiële impak op my gehad waarvan ek moeilik gaan herstel. Daarom is ek dankbaar vir nuwe geleenthede.

Dit het my egter ook die kans gegun om op my eie skryfwerk (boek) te fokus en dit klaar te maak. So daar is ook voordele aan verbonde.”

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

“Ek is op die oomblik besig met heelwat werk, waarvoor ek dankbaar is. Maar daar lê nog agt onvoltooide manuskripte op my rekenaar en broei. Ek sal hulle graag met lesers wil deel.”

Wat is jou gunsteling:

Tipe Musiek

“Alternatiewe rock.”

Sanger / Sangeres

“Karen Zoid en Jan Blohm.”

Rolprent

“Sjoe, regtig te veel om op te noem. Ek hou van roerende dramas of romantiese komedies.”

Akteur / Aktrise

“Jim Parsons, Jennifer Aniston, Leonardo DiCaprio, Anna Kendrick en David Schwimmer… om mee te begin.”   

Kos en drankie

“Hoenderslaai en Grapetiser… of Savanna Lite as ons praat van alkoholiese drankies.”

Ontspanning

“Ek hou daarvan om te skryf, rolprente te kyk, te lees en met my diere te speel.”

Boek

“Daar is te veel om op te noem.”

Vakansiebestemming

“Die Weskus.”

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.

  1. Oneerlikheid
  2. Arrogansie
  3. Chaos
  4. Veroordeling

Waar kan lesers jou volg, en jou boeke aankoop.

“My boek is beskikbaar op Amazon Kindle (https://www.amazon.com/Roadtrip-na-Liefde-Afrikaans-Annie-ebook/dp/B09SBHHJRZ) en Kobo (https://www.kobo.com/za/en/ebook/roadtrip-na-liefde).”

Ons sien uit om in die toekoms nog baie boeke uit die pen van Annie VB te lees en wens jou als van die beste toe!

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →