Onderhoud met Gina Vorster van Glans Boeke, ‘n nuwe onafhanklike uitgewer vir skrywers.

Olka Bolka het bietjie met Gina Vorster gesels oor haar boek, Storie van ʼn Mal Huisvrou.

Waar is jy gebore en het jy grootgeword?

Ek is in Pretoria gebore, maar het al op verskeie plekke gebly as kind. Ek was in ses verskillende skole, waarna ek uiteindelik gematrikuleer het deur Damelin.

Het jy naskool gaan studeer, indien wel wat?

Ek het net na skool met ‘n grimeerkursus begin, maar kon dit nie klaar maak nie. In 2016 het ek wel my Tydskrifjoernalistieke Diploma deur The South African Writers College verwerf.

Wat is jou beroep?

Skrywer,uitgewer, kunstenaar, grimeerskunstenaar, naeltegnikus, bakster – ek doen enige iets wat my brein stimuleer.

Skryf jy voltyds?

Ja en nee. Tussenin die skrywery doen ek vele ander dinge ook.

Het jy van kleintyd af al gelees?

Ja, my sosiale lewe was binne die biblioteek, of op my bed met ‘n stapel boeke.

Wanneer het jy begin skryf en wat was jou eerste verhaal/gedig?

Ek kan nie eers onthou wat my eerste skryfstuk was nie. Die eerste boek wat wel gepubliseer is, is Storie van ‘n Mal Huisvrou, waarvan ek in 2017 al met die konsep begin het.

Hoeveel boeke/gedigte het jy al geskryf?

Gedigte kan ek nie sê nie, want daar was al te veel van. Boeke, sover twee vollediges, met nog ‘n paar in die pyplyn.

Wat is jou genre?

Die genre waarin ek skryf is fiksie, gebasseer op ware gebeurtenisse. Ek hou van ‘n ligte, soms komiese, aanslag op swaarder onderwerpe.

Watter tipe boeke lees jy?

Ek hou tans van geestelike- of selfhelp boeke wat leersaam is. Ek lees nie op die oomblik baie fiksie nie.

Is daar ‘n boek/gedig wat jy gelees het, wat ‘n groot indruk op jou gemaak het?

Die mees onlangse een moet The Great Shift wees, saamgestel deur Martine Vallee. Ek vind dit verskriklik interessant om oor mense se verskeie benaderings tot die lewe te leer.

Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?

Ek is ‘n buite-die-boks denker wat daarvan hou om navorsing te doen oor onkonvensiële onderwerpe. Een van my grootste vrese is om op my oudag terug te kyk en spyt te wees oor al die kanse wat ek nie gewaag het nie – dus probeer ek soveel moontlik in my een leeftyd inpas.

Ek glo dat ‘n mens tot meer in staat is as jy net so bietjie van die skaap mentaliteit ontslae raak en minder fokus op mense en hulle tradisionele, wisselvallige dingetjies. Om my te wil voorskryf is nie ‘n goeie idee nie, maar as mense my aanvaar nes ek is, sal hulle altyd die mooiste kant van my leer ken. Ek respekteer mense se unieke menswees en ek glo nie dat almal soos ek moet wees nie.

Ek probeer my kinders grootmaak om mense te wees wat vir hulleself kan dink, en nie om noodwendig soos ek te dink nie. Die lewe is soms baie ernstig en ek probeer my lewe stuktureer om so min moontlik drama en nonsies te verdra.

Vertel ons iets wat niemand van jou weet nie?

Ek is ‘n oop mens, so ek het nie baie geheimpies nie. Wat ek wel kan sê is dat ek soms oorstimuleer word en dan haak my brein vas. Te veel beweging, geraas en herhaalde geluide maak my kop deurmekaar en dan voel ek heeltemal oorweldig. Soms moet ek ‘n paar minute net alleen teen die muur sit en afkoel as ek byvoorbeeld in ‘n baie besige winkelsentrum was.

Wat inspireer jou?

Dinge buite die norm, helder kleure, dinge wat my visueel stimuleer en die begeerte om nie op een plek te wees vir die res van my lewe nie. Ook, om ‘n verskil te maak in mense se lewens wat die selfde tipe storms as ek al deur is, of huidiglik gaan. Om daai einste rede spalk ek soms my hart wyd oop in die openbaar.

As jy met enigeiemand oor ‘n koppie koffie kan gesels, wie sal dit wees en hoekom?

J.K. Rowling – maar nie noodwendig oor haar skryfwerk nie. Ek sal die onafgewaterde storie wil hoor van hoe sy vermag het in die lewe wat sy het, ongeag van haar omstandighede.

Wat is op jou emmerskoplys (Bucket List)?

Ek wil nog baie graag die Griekse eilande besoek (Santorini spesifiek), ‘n film maak uit een van my boeke, ‘n paar ander besighede begin en ‘n otter besit. (Ja, die diertjie.)

Covid het ons “normale” lewe op sy kop gedraai, hoe ervaar jy dit?

Dit het almal op verskeie maniere geïmpakteer, maar ek dink ek is nou al net so oor dit dat ek nie meer veel aandag daaraan skenk nie.

Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?

Ek kan nie stil sit of net op een ding fokus nie, so daar is nog baie dinge wat ek in die lewe wil vermag. Maar ‘n mens skree nie hoera voordat jy oor die brug is nie, so ek sal maar nie veel uitbrei op al die planne waarop ek broei nie.

Wat is jou gunsteling:

Tipe Musiek

Rock/ metal/ 80s/ Indie-folk

Sanger / Sangeres

Sjoe, ek het baie. Live, Marilyn Manson, Pavarotti, Sarah Brightman, Nightwish, Rammstein, om net ‘n paar te noem.

Rolprent

Ek het nie regtig een nie, maar ek geniet enige iets ligs en vermaaklik. Aksie en gewelddadige films is nie juis my ding nie. Ek het wel die reeks, Emily in Paris, vreeslik geniet!

Akteur / Aktrise

Ek het nie regtig gunstelingakteurs nie. Daar is wel ‘n paar wat my irriteer, maar dis nie die vraag wat gevra is nie.

Kos en drankie

Romerige pasta en soetwyn, sonder twyfel.

Ontspanning

Om alleen te wees. Ek is mal oor stilte en rustigheid.

Boek

Daar is nie een wat ek kan uitsonder nie.

Vakansie bestemming

Ballito

Waarvan hou jy niks – noem 4 dinge.

Leuens, mense wat neurie, ‘n vuil huis en ‘n leë bankrekening.

Waar kan lesers jou volg, en jou boeke aankoop.

Op my Facebook blad www.facebook.com/malhuisvrou, of mense kan my volg op my persoonlike profiel www.facebook.com/gina.vorster.8

Amazon Kindle en Kobo

Gina Vorster

Uitgewer

Tel: 074 359 2576

Webblad: www.glansboeke.co.za

About MiggieK

I am passionate about people, visual & performing arts, and my Mannatech business. I believe in God and love my family and friends!

View all posts by MiggieK →