Die gatskop treffer album van Afrikaans se koeksister pop-rocker is nou beskikbaar. Die afgelope 19 jaar vermaak die rocker en liedjieskrywer luisteraars met sy musiek in meer as 20 lande – volgens Spotify, as jy moet weet! Om die mylpaal te vier lewer die Next Music kunstenaar ‘n handjie vol van sy beste werk voor, saamgevat in Sirkus Applous Encore.

Tien treffers vul die album se looporde met hoogtepunte wat so ver terug strek tot 2010, toe sy musiek video vir Gee Voor Jy Groet op ASTV (nou MyTV) begin draai het en deure oopgemaak het vir die veelsydige rock ster. Vra vir Radio Raps wie Egmond is en hy sal tien teen een antwoord “Wie?”. Dit was ironies die geval toe sy polsende treffer Kom Red My op die Van Coke Show ‘n draai gemaak het. “Pop sensasie”, soos die bekende Francois van Coke hom tong-in-die-kies beskryf het. Inderdaad! Naas die nege ander snitte op die album word daar ook ‘n splinternuwe treffer opgeneem wat alreeds in 2003 gekomponeer was. Die nuwe enkelsnit Encore (Op Die Radio) is boonop ‘n internasionale produksie met Sandy Robbie (van Clout en Circus-faam) agter die stuur. Daar word ook ‘n tweede musiek video opgeneem vir die liedjie se alternatiewe “album weergawe”; spesiaal om die album te vier wat vandag op YouTube premiere.
Egmond het reeds ‘n string albums en enkelsnitte in beide Engels en Afrikaans opgeneem. Sy debuut was die rock liedjie This Morning wat kort daarna opgeneem is in Afrikaans, en te danke aan Adam Tas een aand opgevoer is aan ‘n klein gehoor in die Waterberge. Sy debuut album Ongevraagde “Hello” lewer agt treffers op tussen 2008 en 2011, waarvan Dis Elektries (‘n duet met Yolandi) agt weke lank nommer een was op die internet stasie Uitsaaines. Sy opvolg werke haal verskeie voorblaaie van bekende vermaaklikheids webwerwe, insluitende Channel 24. In 2013 reik Next Music die pop-rocker se vorige werk vir die eerste keer digitaal uit op bekende platforms soos iTunes, Spotify en Deezer. Sedertien is daar reeds oor ‘n miljoen eenhede verkoop.
Die pop-rocker se musiek en kleurvolle videos ryg al sedert 2008 die komplimente in op Channel 24:
- GEE VOOR JY GROET – Prolific Afrikaans heartbreaker gives fans of Modern Talking a reason to party with this synth-pop koeksister off his new CD, Ongevraagde “Hello”.
- AS JY WIL – Fans of Modern Talking are going to go ga-ga over this Afrikaans synth-pop koeksissie off the heartbreaker’s new CD, Ongevraagde “Hello”.
- VLIEG – Egmond returns with the smashing first single off his upcoming sophomore release Vuil Wasgoed – a duet with songbird Yolandi, who also featured in Egmond’s #1 hit Dis Elektries from his debut album.
- AS JY WIL (Musiek Video) – The Afrikaans dance-pop star goes channel surfing in this bakgat video off “Ongevraagde “Hello”.
- Die nuwe album Sirkus Applous Encore is vandag beskikbaar; uitgereik deur Next Music South Africa.
- Moenie die premiere van die nuwe musiek video vir Encore (Op Die Radio) om 9vm vandag misloop op YouTube nie.
Olka Bolka het so bietjie met Egmond gesels.
Vertel ons lesers waar jy gebore en grootgeword, waar bly jy tans?
Ek is ‘n gebore in Warmbad (nou Bela Bela) waar ek groot geword het en matriek geskryf het. Ek is tans ‘n Vrystater in die vriesende koue dorp Bethlehem! Maar ek het die laaste 10 jaar in KZN gewoon.
Wat het jy na Matriek gedoen?
Ek is Europa toe vir twee jaar, getoer, gewerk (in ‘n sjokolade fabriek op nagskof nogal!), en is daarna in die hotel industrie in.
Wat doen jy behalwe musiek?
Bemarking, grafiese ontwerp en meer vir ‘n hotel groep.
Vertel my van jou nuutse enkelsnit?
“Encore (Op Die Radio)” is in 2003 geskryf – oorspronklik in Engels, getitled “I Know”. Dit was in 2007 vertaal en gedoop “Meermin”, vir my debuut album “Ongevraagde Hello”, maar dit is afgelaat want daar was net te veel om van te kies. Verlede jaar toe die beplanning vir die album “Sirkus Applous Encore” begin het, het ek rondgekrap in my demo laai en op die liedjie afgekom. Die woord ‘encore’ het in my kom rondgedwaal en toe ek die lirieke van “Meermin” lees het dit oud en vervelig gevoel. ‘n Paar ure later het ek nuwe lirieke geskryf en die demo opgeneem. Ek’t geweet dit was iets spesiaals. Dit is die jaar deur Sandy Robbie geproduseer al die pad vanuit Australië! Stem opnames is hier in Bethlehem gedoen (onder ‘n dik kombers as jy dit glo!?!). Daar is twee weergawes van die snit, en die nuwe album weergawe is vandag beskikbaar. Die video is sommer duskant my huis langs die Jordaan rivier opgeneem in ‘n verleë bouval met die mooiste klipmuur. Daar is ‘n ander video wat reeds in April uitgekom het wat so ‘n einde-van-die-wêreld gevoel gehad het. Prettig!
Skryf jy self jou liedjies?
Ja, ek skryf 99% van die tyd self my liedjies. Hier en daar was daar ‘n snit of twee wat ek saam met ander kunstenaars gedoen het. Sodra dit in die studio kom dan bring Sandy Robbie die beste uit in my eentonige demos. Dis ‘n baie groot verskil tussen wat dit was en hoe dit uitgedraai het, maar die gevoel is dieselfde. Sandy het ‘n baie goeie oor vir sulke goed.
Is daar ‘n liedjie wat vir jou uitstaan wat jy opgeneem het?
“Vlieg” – ‘n duet wat ek met Yolandi van Deventer opgeneem het. Ons het al op skool saamgesing en was 1ste in die Verre Noorde by ‘n kompetisie eens op ‘n tyd. Ons het 3 duette saam opgeneem al, maar “Vlieg” is baie spesiaal vir my. Die sterrie het almal in lyn gekom vir die liedjie. Sy is ‘n regte nagtegaal.
Wat verkies jy om Afrikaans of Engels te sing?
Ek verkies beslis Afrikaans. Dis asof ek myself beter kan uitdruk. Ek het ‘n hier en daar sukses gehad met Engelse snitte, en het oorspronklik in Engels begin sing, maar ek was destyds aangeraai om my liedjies in Afrikaans te probeer omdat dit ‘n ander klank gehad het. Dit was boonop Adam Tas wat my op die verhoog genooi het in 2003 om my eerste Afrikaanse opname aan die publiek op te voer. Die reaksie was baie goed. Van toe af het ek al die liedjies wat ek geskryf het vir my debuut album vertaal. Daar was amper 50 om van te kies daardie tyd…
Vertel ons van jouself in ‘n neutedop?
Ek is seker maar nog ‘n kind ter harte. Ek hou van eenvoudige goed – pizza, flieks, tv reekse. Ek versamel ThunderCats, He-Man, She-Ra en Teenage Mutant Ninja Turtles action figures – animasies van my kinderdae wat nou gemaak word as “adult collectibles” deur ‘n Amerikaanse maatskappy Super7. Ek is kunstig en skryf en dig en verf ook. Dalk hardkoppig, maar ‘n regte softie. En ek het 4 worshonde. Hul is my lewe.
Wat is jou gunsteling Musiek genre?
Pop / rock musiek. Ek het groot geword op Roxette, Ace of Base, Tina Turner en Enya. Dis maar in my bloed. Ek hou van dans musiek ook. Enya se “etherial” musiek is baie mooi. Gee my iets met ritme en ‘n wysie of iets met gevoel en ek dans of sing saam.
Wat is volgende vir jou, en hoe sien jy jou toekoms?
Die album Sirkus Applous Encore is vandag beskikbaar. Daar moes nog ‘n tweede nuwe snit op verskyn het maar planne het verander en ek het besluit op ‘n korter treffer album – iets vir iemand om na te luister sonder om verveeld te raak of skip te druk. Daardie tweede snit is getiteld “Pyn” en ek en Sandy Robbie is tans besig om dit op te neem. Dit is ‘n hartseer ballade, bietjie country, bietjie pop, baie skop. Dit is die eerste enkelsnit vanaf my volgende album “Karnaval” wat ek volgende jaar wil uitreik om my tweede dekade in die musiek industrie te vier.
Wat is op jou emmerskoplys? (Bucket List)
Ek wil graag San Diego Comic Con besoek een dag in Amerika. Snaaks genoeg het ek al baie van my emmerskoplys items al afgetiek in my vroeë twintigs. Groot konsert hou is wat ek graag weer wil doen. Die pandemie maak dit bietjie moeilik nou. Dalk oor ‘n paar jaar?
Wanneer verjaar jy?
Einde van die maand 🙂 Op payday! Lekker ne?
Belangrike skakels:
MUSIEK VIDEO – https://www.youtube.com/watch?v=LK_9dZsIb8Q
NUWE ALBUM – https://orcd.co/sirkusapplousencore
NUWE ENKELSNIT – https://soundcloud.com/egmondduplessis/encore-op-die-radio-album-version
Vir meer inligting, kontak musiek@egmond.co.za of besoek die webwerf en sosiale media vir die jongste nuus en opkomende projekte.
Webwerf: www.egmond.co.za
Facebook: www.facebook.com/egmondduplessis
Twitter: www.twitter.com/egmondduplessis
Instagram: www.instagram.com/egmondduplessis
YouTube: www.youtube.com/egmondcoza